Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
5-jarige drie dae in selle aangehou

’n Vyfjarige seuntjie is so getraumatiseer nadat hy en sy ma drie nagte in ’n polisiesel aangehou is dat hy begin hakkel het.

Angela Hattingh en haar seuntjie. Foto: Deon Raath

Ná drie dae in die selle saam met ander verdagtes is hulle vrygelaat sonder enige verduideliking of verskoning.

By navraag het die polisieman wat hulle opgesluit het, gesê hy doen net sy werk.

Die Gautengse polisiehoof het nou ’n dringende ondersoek gelas na die gebeure en die ma, Angela Hattingh (43), het ’n prokureur aangestel om haar te help om ’n eis teen die polisie in te stel. Ingevolge die Kinderwet mag geen kind onder enige omstandighede in polisieselle aangehou word nie.

Hattingh sê sy en haar kêrel het twee weke gelede ’n hewige rusie gehad. Hy is toe weg by sy huis, waar hulle die afgelope twee jaar saamgewoon het, en sy het hom nie weer gesien nie. Later sou sy hoor hy het ’n voorlopige beskermingsbevel gekry om haar te dwing om uit te trek.

Sers. Jaco Walters (34) het verlede Vrydagoggend vroeg, terwyl sy en haar kind nog in hul nagklere was, by haar huis opgedaag om haar in hegtenis te neem, sê Hattingh. Hy was vergesel van ’n tweede man, vermoedelik ook ’n polisieman.

Wet sê kinders mag nie só hanteer word.

Hulle het gesê sy is onwettig in die huis.

Hattingh wou weet wat van haar kind gaan word, maar volgens haar het Walters net gesê hulle moet aantrek en kom. Hulle sou dit by die polisiekantoor uitsorteer.

Ma en kind is toe in wat vir haar gelyk het soos ’n private voertuig na die Roodepoort-polisiekantoor gebring. Daar gekom, het sy aangedring op ’n lasbrief.

Sy beweer Walters het toe dreigend geraak. “Hy het vir my gesê net omdat ek so ‘windgat’ is, sal hy ons toesluit tot volgende week.”

Haar selfoon is weggevat en sy is nie toegelaat om enigeen te kontak nie, sê sy.

“Ek en my kind was albei histeries. My kind kon aanvoel ek was banger as hy en hy het onbeheersd gehuil. Hy was ontroosbaar en daar was niks wat ek kon doen nie.”

Teen 10:00 die oggend was hulle saam met drie ander in die selle. Volgens Hattingh het verskeie polisiebeamptes gesien haar kind is saam met haar toegesluit. Hulle het nie eens warm klere gehad nie.

“Ek het hulle gesmeek om my hof toe te vat om voor ’n landdros te verskyn, maar hulle het my geïgnoreer,” sê sy. “Elke keer dat iemand die seldeure sluit, het my kind gesê: ‘Verskoon my, verskoon my, wat van ons?’ Die ander aangehoudenes het gedink dis oulik en daaroor gelag. Dit het my hart gebreek.”

Haar seuntjie het die nag uiteindelik aan die slaap geraak, maar net voor middernag is hulle weer wakker gemaak. Hulle moes na ’n ander polisiekantoor verskuif word omdat ’n beampte by Roodepoort positief getoets is vir Covid-19. Dit het haar kind van vooraf getraumatiseer. Hy het oor-en-oor gesê: “Mamma, ek is hartseer.”

Volgens Hattingh is hulle “soos sardientjies in ’n blik” in ’n polisiewa gelaai en na die Linden-polisiekantoor geneem. Sy sê die bestuurder het so wild gery dat sy gevrees het hulle gaan ’n ongeluk maak. Hulle is by Linden weer saam met ander aangehoudenes toegesluit.

Al was hy honger, wou haar kind nie Saterdagoggend die kos eet wat vir hulle gebring is nie. ’n Ander aangehoudene het vir hom ’n appel, jogurt en ’n suigstokkie gegee, sê Hattingh.

Sondagmiddag is hulle teruggevat na Roodepoort. Maandagoggend is hulle by die landdroshof in Roodepoort afgelaai.

“Ons moes die hele dag daar sit en wag. My naam is eers 15:00 geroep. Die man het net gesê die saak is uit die hof gegooi,” sê Hattingh.

Sy wou die landdros sien, “maar hy net gesê ek moet doen wat ek wil doen teen die staat en toe sy rug op ons gedraai”.

Hattingh, wat sedert haar vrylating by ’n vriendin bly, sê sy is getraumatiseer. “My kind het begin hakkel weens die trauma. Ek weet nie of hy dit ooit gaan verwerk nie.”

Karabo Ozah, ondervoorsitter van die Sentrum vir Kinderreg aan die Universiteit van Pretoria, sê dit is ’n baie ernstige oortreding om die Kinderwet te verontagsaam. “Die polisie moes ’n baie goeie rede gehad het om die ma toe te sluit terwyl sy haar kind by haar gehad het.” Hulle moes ’n maatskaplike werker gekry het en die kind in die sorg van ’n familielid of in ’n plek van veiligheid geplaas het, sê Ozah.

Brig. Mathapelo Peters, ’n polisiewoordvoerder, sê die Gautengse polisiehoof, lt.genl. Elias Mawela, het ’n dringende interne ondersoek gelas “om vas te stel hoe Hatting haar vyfjarige kind by haar kon hou toe sy in hegtenis geneem is”.

De Wet Greeff van Alice Van der Merwe Prokureurs in Krugersdorp, wat namens Hattingh optree, sê hulle werk aan ’n baie groot siviele eis teen die minister van polisie vir onregmatige arres en oortreding van die Kinderwet.

Walters het by navraag gesê hy hoef nie sy optrede aan die media te verduidelik nie.

“Ek het net my werk gedoen en dit is dit,” is al wat hy wou sê.

Meer oor:  Roodepoort  |  Gearresteer  |  Polisie  |  Kinderwet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.