Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
5 kleuters versmoor in vrieskas
Die sowat 165 liter-vrieskas waarin vyf kleuters van Kakamas Dinsdagmiddag versmoor het. Foto: Anena Burger

’n Treurspel het Dinsdagmiddag in Kakamas afgespeel toe vyf kleuters tussen die ouderdom van drie en sewe jaar in ’n ou vrieskas versmoor het.

Volgens kapt. Jacques September, woordvoerder vir die polisie in Upington, was die vyf kleuters Dinsdag in die sorg van een van die kinders se ouma terwyl hul ouers gewerk het.

Die kinders se ouers het Woensdagoggend hartverskeurend by die huis van Maria Mkhonto gehuil terwyl hulle oor die gebeure van die vorige middag gepraat het.

Elzaan Johnson (5) wat saam met haar boetie, nefies en niggie in ’n vrieskas versmoor het. Foto: Verskaf

Volgens Mkhonto wou Adrian Majiedt (7), sy boetie Jamian (3), Elzaan Johnson (5) en haar boetie Elridge (3) en hul niggie, Anastasia Majiedt (3), Dinsdag na die kinderbondverrigtinge by hul kerk gaan.

Mkhonto sê sy het die kinders gevra om net gou huis toe te gaan terwyl sy suurdeeg na ’n buurvrou oorkant die pad neem.

Sy sou hulle dan netjies kom aantrek om na die kerk te gaan en was glo net vir ’n paar minute weg.

Volgens Mkhonto het sy terug by die huis haar baksel in panne gesit en besef “iets is fout”.

Dit was net ná 16:00.

“Die kinders was skielik net stil en ek het na hulle begin soek.”

’n Grootskaalse soektog is deur die familie en vriende in die straat begin.

Sy het omstreeks 17:00 Adrian se ma, Adriana, geskakel om te sê sy kry nie die kinders nie.

“Iets het vir my gesê om by die vrieskas in die agterplaas te gaan kyk,” het ’n verpletterde Mkhonto gesê.

Elridge Johnson (3) wat saam met sy sussie, nefies en niggie in ‘n vrieskas versmoor het. Foto: Verskaf

Volgens Mkhonto het sy gesukkel om die vrieskas oop te kry.

Die vrieskas het ’n knip aan die deksel.

Mkhonto het die kinders gekry waar hulle bo-op mekaar gelê het.

Die driejariges was onder en die groter kinders bo.

“Ek het inmekaargesak en gedink ek raak mal.

“Ek het net geskree: ‘Here, kom help my’.”

Mkhonto sê Adrian was reeds blou en hy en Elzaan het op hul arms bo-op die kleiner kinders gelê.

“Dit het gelyk asof hulle rustig aan die slaap geraak het,” sê Mkhonto.

Haar bure het ná die ambulansdienste ontbied is en nie opgedaag het nie, met die kinders na die hospitaal op Kakamas gejaag.

Die vyf kleuters is by die hospitaal dood verklaar.

’n Geregterlike doodsondersoek is deur die polisie geopen.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.