Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
6 lede van 1 familie sterf in gru-ongeluk by Napier

Ses lede van een familie is Maandagmiddag in ’n ongeluk naby Napier in die Wes-Kaap dood op pad terug van hul Paasvakansie by die see.

Hulle is onder die sowat 33 sterfgevalle die afgelope Paasnaweek op Wes-Kaapse paaie.

Maria en Johan Pieterse.
Dis ’n verskriklike skok, ek dink die werklikheid daarvan sal nog insink.

“Dis ’n verskriklike skok, ek dink die werklikheid daarvan sal nog insink,” het Francois Pieterse Maandagaand gesê. Hy het Sondag nog met sy ouers, Maria en Johan Pieterse (albei in hul 80’s), gepraat. Nou moet hy hul begrafnis reël, asook dié van sy suster en swaer, Zelda en Manna Newman (albei in hul 50’s), en hul 21-jarige dogter, Chanté. Dié vyf en Manna se ma, Hazel Newman (in haar 70’s) is almal saam in die ongeluk dood.

Die Newmans se Schnauzer, Jax, is ook in die voertuig dood. “Daai hondjie was hulle alles,” sê Francois.

Volgens hom is die familie nog onseker presies hoe die ongeluk omstreeks 14:00 op die R316 naby Mierplaas buite Napier gebeur het. Dit was ’n botsing reg van voor tussen die Toyota Fortuner waarin die ses familielede gereis het, en ’n Toyota-bakkie. Die twee mense in die bakkie het ook gesterf, maar teen Maandagaand laat was hul identiteit nog nie bekend nie.

Manna en Zelda Newman by hul dogter, Chanté.
Hazel Newman
Jax die Schnauzer is saam met sy mensefamilie in die ongeluk dood.

Francois sê beraders was teenwoordig toe Marzelle Newman (24), die enigste oorlewende van die Newman-gesin, oor haar ouers en suster se dood ingelig is. Marzelle was die enigste een van hul gesin wat nie in die voertuig was nie.

Volgens Francois was sy ouers en die ander familielede Maandag op pad terug van die Newmans se vakansiehuis in Agulhas, na Kaapstad waar hulle almal bly. Hulle is verlede Donderdag vir die Paasnaweek daarheen.

Manna was ’n meesterbouer en Zelda het tot ’n paar jaar gelede by Absa in Kaapstad gewerk. Chanté het B.Com-bemarking studeer.

Francois, wat in Pretoria woon, sê sy ouers het sowat twee maande gelede na ’n ouetehuis in Plumstead verhuis. “Ons is pas deur die hele proses vir hul verhuising daarheen en het die plekkie spesiaal vir hulle laat inrig. Ek het hulle elke Sondag om 09:30 gebel. My pa het onlangs ’n pasaangeër gekry en ’n beroerte gehad. Ek het nog Sondag met hom en my ma gepraat om te hoor hoe dit gaan. Dis moeilik om te glo hulle is weg.”

Esna Louw, ’n niggie van Zelda, sê van die familielede het van die ongeluk gehoor nadat inligting daaroor op sosiale media gedeel is. “Dis ’n groot skok vir almal.”

Meer oor:  Napier  |  Motorongeluk  |  Padsterftes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.