Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
6 seuns wat honde laat veg, geleer oor diere

Ses jeugdiges wat weens onwettige hondegevegte gevang is, het vandeesmaand begin om gemeenskapdiens te verrig.

Die ses seuns is in Julie verlede jaar in Port Elizabeth aangekeer nadat hulle op heterdaad langs die Nelson Mandelabaai-stadion betrap is.

’n Video wat deur ’n ooggetuie geneem is, wys hoe die groep seuns twee pitbull-honde uitlok en aanhits om mekaar aan te val.

Wanneer die volwasse hond die jonger hond gryp en sy kaak sluit, begin die groep seuns die honde skop en met ’n bottel slaan om die hond se greep te probeer breek.

Spartan die pitbull is ná die voorval van kant gemaak weens aggressiewe gedragsprobleme. Foto: Verskaf

Die honde is deur die Animal Anti-Cruelty League (AACL) op die toneel gekonfiskeer en die seuns is ingevolge die Dierebeskermingswet aangekla.

Die jonger, bruin pitbull, Rocky, het ’n gapende wond aan sy nek gehad, maar het herstel en is hervestig.

Die ouer, swart pitbull, Spartan, is weens ernstige gedragsprobleme van kant gemaak.

Luidens ’n verklaring van die AACL is ’n mediasie-ooreenkoms op 15 Augustus in die landdroshof in Port Elizabeth bereik nadat die seuns skuld op die aanklagte beken het.

Die seuns, wie se name weerhou word omdat hulle minderjarig is, is tot 16 uur se gemeenskapdiens gevonnis en moet ’n opleidingsprogram suksesvol voltooi.

Karien van Schalkwyk van die AACL het die uitkoms van die saak verwelkom en sê kinders en ouers moet weet dieremishandeling is ’n strafregtelike oortreding.

Sy sê dit is belangrik dat ouers nie hondegevegte as “kinderspeletjies” afmaak nie en hul kinders moet leer dat dié soort optrede nie aanvaarbaar is nie.

“Kinders geniet dit (hondegevegte) later en dit raak ’n gereelde aktiwiteit, wat langer duur met ’n wrede uitkoms vir die honde.

“Die sielkundige gevolge wat dit op die kinders het, is egter die grootste bekommernis, aangesien ’n begeerte vir geweld in hulle ontwaak wat hulle afstomp vir die lyding van die diere.

Die wond wat aan Rocky die pitbull se nek gelaat is nadat hy en Spartan, die swart pitbull, aangehits is om met mekaar te baklei. Foto: Verskaf

“Die afwesigheid van empatie maak hulle ook ongevoelig vir die lyding van en geweld op mense.”

Om dié gedrag af te leer sal die ses jeugdiges oor die volgende vyf weke ’n program by Paws se Unit K9-akademie ondergaan.

Sonja Biermann, eienaar van die akademie, sê die program leer die oortreders hoe om ’n dier te respekteer, te hanteer, en om dit tot hulle te laat deurdring dat hulle met ’n lewe werk wat kan eindig.

“Ek glo ’n program soos dié is al hoe hulle sal leer. Geen tronk of verbeteringskool sal die soort optrede kan keer nie.”

Biermann, wat meer as 30 jaar se ervaring in opleiding het, sê reguit daar word soms hard gepraat met die kinders om te verseker hulle verstaan die erns van die saak.

“Natuurlik moet die kinders ook eers verantwoordelikheid vir hul optrede aanvaar voordat ons met hulle kan werk.

“Dan word hulle met praktiese opleiding geleer hoe ’n dier sonder geweld, maar met positiewe gebare soos kos en speelgoed, hanteer moet word.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.