Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
6 van 2 gesinne dood: Ouma vertel van skok, ongeloof

Toe Suzette Schoeman die nuus in Pretoria kry dat haar dogter, skoonseun en kleinseun saam verongeluk het, kon sy dit “al die pad na Harrismith nie glo nie”.

“Ek sukkel verskriklik om dit te verwerk, ek gaan hulle ongelooflik mis,” het Schoeman Dinsdag gesê.

Christa (45) en Ian (53) Greyling, haar dogter en skoonseun, asook Jacques Marais (15), haar kleinseun, en nog vier ander mense is vroeg Sondagaand in die ongeluk op die N3-hoofweg naby Harrismith in die Vrystaat dood. ’n Vragmotor, ’n Prado en ’n minibus was in die botsing betrokke.

Die Snyman- en Greyling-familie in die minibus waarmee hulle met vakansie na Uvongo gegaan het. Willie Snyman en Ian Greyling sit voor. In die tweede ry is Christa Greyling en Zelde Snyman. Christa se seun, Donovan Delport is langs Zelde. Agter is Lize Snyman en Jordan en Jacques Marais. Foto: Verskaf

Willie en Zelde Snyman, en hul tienerdogter, Lize, is ook onder die oorledenes. Dié Pretoriase gesin is vriende van die Greylings en hulle was saam met hulle in die ongeluk terwyl hulle op pad terug na Pretoria van hul vakansie in Uvongo aan die Suidkus was.

Schoeman is in Bloemfontein, waar Jordan Marais (16), nog ’n kleinseun, in die Pelonomi-hospitaal is. Hy is ernstig beseer.

Kol. Thandi Mbambo, polisiewoordvoerder in die Vrystaat, sê die Prado het glo die minibus gesleep toe die ongeluk omstreeks 18:00 gebeur het.

“Die vragmotorbestuurder beweer die minibus het na die verkeerde kant van die pad beweeg. Die minibus en die Prado het glo van voor teen die vragmotor gebots. Die vragmotorbestuurder is nie beseer nie. Ons ondersoek ’n saak van strafbare manslag.”

Een van die sewe oorledenes is Jacques Marais (15) wat in sport en akademie uitgeblink het. Foto: Facebook
Zelde, Lize en Willie Snyman. Foto: Verskaf

Jordan het bloeding op die brein gehad en is Maandag geopereer om die drukking te verlig, sê Schoeman.

“Jordan is onder verdowing in die waakeenheid en aan ’n ventilator gekoppel. Sy kakebeen en regterbeen is gebreek, maar die dokters sal dit eers kan opereer wanneer hy uit die waakeenheid is. Ons weet nie of hy weet sy ma is dood nie. Jordan was nog by sy positiewe op die ongelukstoneel. Sy hand was op sy ma se kop en hy het haar hare gevryf, maar dalk was dit net om haar aandag te kry om te sê hy het seer. Jordan is die liefdevolle terggees in die gesin.”

Volgens Schoeman het haar familie en die Snymans die minibus gehuur om saam met vakansie te gaan. Hulle het kort ná Kersfees van Pretoria na Uvongo gereis. Sy sê die man by wie hulle die minibus gehuur het, het met die Prado na Uvongo gery om saam terug te ry na Pretoria nadat daar probleme met die minibus was.

Hy is ook dood in die ongeluk, maar sy naam kon nog nie bevestig word nie.

Jacques Marais, Ian Greyling, Jordan Marais, Christa Greyling en Donovan Delport. Foto: Verskaf
Die wrak van die minibus. Foto: Verskaf
Die wrak van die minibus wat gedeeltelik onder die vragmotor is. Foto: Verskaf
Die wrak van die minibus wat gedeeltelik onder die vragmotor is. Foto: Verskaf

Jordan en Jacques het ’n ouer broer, Donovan Delport (22), wat ook saam met vakansie was, maar vroeër na Pretoria teruggekeer het. Hy is erg getraumatiseerd en het gevra dat prof. Theo Burger, ’n goeie vriend van die familie, “vir hom moet bid,” sê Schoeman.

“Christa was my sonskynkind, almal se vriendin en die beste ma nog. Sy het geleef vir haar seuns. Sy was vir my meer soos ’n vriendin as ’n kind.”

Schoeman het Ian as ’n groot, saggeaarde man beskryf. “Ons het hom daarom ‘Skapie’ genoem. Ek dink nie die woord ‘nee’ het in sy woordeskat bestaan nie. Ian en Christa was byna tien jaar getroud. Hy was ’n pa vir haar drie seuns (uit vorige huwelike) en het hulle as sy eie aanvaar. Ian het nie kinders van sy eie gehad nie. Jacques het onlangs so gehuil toe Ian vir hom die liedjie ‘Jy is my seun’ gestuur het.”

Jacques was ’n gr. 9-leerling aan die Hoërskool Overkruin in Pretoria. Hy het in sport en akademie uitgeblink.

“Hy het daarvan gedroom om ’n Springbok-rugbyspeler te word en het hard gewerk om dit te bereik,” sê sy ouma.

“Jacques was nie gemaak vir hierdie aarde nie, sy plekkie in die hemel is reg. Hy was baie Christelik en het elke dag Christelike boodskappe en musiek geluister. Hy het ook met kleuters by hul kerk gewerk. Hy was ’n pragtige seun.”

Jordan is in die Único Akademie, ’n private skool in Pretoria. Ian het die Greyling-vervoeronderneming bedryf en Christa het vir hom gewerk. Die Snymans se familie kon nie Maandag vir kommentaar bereik word nie.

Begrafnisreëlings is nog nie getref nie.

Die ongeluk

ER24 het ná die ongeluk in ’n mediaverklaring gesê toe paramedici op die toneel kom, was die wrak van die Prado nog op die hoofweg. Die minibus was in die veld langsaan onder die voorste deel van die vragmotor. Twee mense in die Prado, asook vyf mense in die minibus, was volgens ER24 reeds dood. Jordan was in die minibus vasgepen. Dis nie seker wie van die oorledenes in die Prado en wie in die minibus was nie.


Meer oor:  Pretoria  |  Harrismith  |  Verongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.