Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in Gordonsbaai het Dinsdag sewe jong mense gered wat deur die gety by Dappat se Gat, ’n inham tussen Gordonsbaai en Kogelbaai aan die Valsbaai-kus, vasgekeer is.
Alan Meiklejohn, stasiebevelvoerder van die NSRI in Gordonsbaai, sê die Nasionale Hawe-owerheid het die NSRI se hulp Dinsdag om 17:13 ingeroep.

Een van die kinders se ouers het die owerhede ontbied. Foto: NSRI
Een van die tieners se ouers het hulp gaan soek, en het gesê dat hul kind saam met ses vriende in ’n inham vasgekeer is.
Dappat se Gat is langs die R44, in die rigting van Kogelbaai.
Toe die NSRI se reddingspan by die toneel opdaag, het hulle sewe jong mense, almal 18 jaar oud, daar aangetref.

Sewe tieners is Dinsdag uit 'n inham naby Koggelbaai gered. Foto: NSRI
Die drie mans en vier meisies is onderskeidelik van Stellenbosch en die Paarl afkomstig.
Volgens Meiklejohn is die groep deur die gety vasgekeer.
“Hoewel hulle veilig was in die inham, was dit vinnig besig om donker te word en moes ons hulle vinnig daar uitkry.”
Meiklejohn sê hul reddingswemmers het die inkomende branders gebruik om tot by die groep te swem.
Hierna is daar van toue gebruik gemaak om veiligheidstoerusting by hulle te kry.
“Die reddingspan het die jong mense aangesê om reddingsbaadjies en valhelms aan te sit waarna hulle na veiligheid gebring is.”
Die groep is met hul bekommerde ouers, wat ook by die toneel opgedaag het, herenig.
Die GB Med-nooddienste, die Kaapse verkeersdepartement en die metropolisie was op die toneel.
Niemand is beseer nie.