Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
70-jarige vir spoed gevang toe hy sterwende vrou wou groet
Arnold Tembo (70) kon nie sy vrou by haar sterfbed groet nie. Foto: Verskaf

’n Man van Heideveld in Athlone, Kaapstad, het in plaas daarvan om langs sy vrou se sterfbed te staan, verlede Woensdag drie uur in polisieselle deurgebring.

Arnold Tembo (70) se pleidooie aan verkeersbeamptes het glo op dowe ore geval toe hulle hom weens ’n spoedoortreding in hegtenis geneem het.

Teen die tyd dat hy uit die Manenberg-polisiekantoor se selle vrygelaat is, was sy vrou, Joan (74), reeds dood.

Tembo het boonop sy vrou van 36 jaar ’n maand gelede laas gesien toe sy in die Groote Schuur-hospitaal opgeneem is.

Hy vertel Joan het Covid-19 onder lede gehad, maar reeds herstel. Die dokters het egter agtergekom sy het water op haar longe. Sy is later oorgeplaas na die Lentegeur-hospitaal, waar haar hart toe ingegee het.

“Toe sy twee weke gelede na Lentegeur oorgeplaas is, wou ek haar al klaar gesien het. Ek het my vrou gemis,” sê Tembo.

Weens die streng Covid-19-protokol kon hy glad nie sy vrou in die hospitaal besoek nie.

“Die dokter het my Woensdag gebel en gesê sy het slegte nuus. Sy het gesê my vrou is op haar laaste en ek het vir haar gesê ek is op pad. Sy het gesê my vrou het nie lank oor nie. Sy sal seker dood wees teen die tyd dat ek by die hek uit is.

“Ek moes by die hospitaal uitkom. My vrou was op haar laaste. Hoe kan daar verwag word dat ek 60 km/h moet ry?” vra Tembo.

Hy sê toe die verkeersbeamptes hom aftrek, het hy by hulle gepleit. “Ek het vir hulle gesê my vrou is besig om te sterf. Ek het selfs gevra of hulle my kon vergesel hospitaal toe, maar hulle was arrogant. Hulle het my uit die kar geruk en my geboei voor ’n skare mense terwyl ek gepleit het om my vrou te kon sien,” sê hy.

Joan Tembo (74) is Woensdag in die Lentegeur-hospitaal dood. Foto: Verskaf

Hy is na die Manenberg-polisiekantoor geneem en drie uur later, toe hy vrygelaat is, het sy vriend hom daar ingewag.

“ ‘Arnold, jy moet nou sterk wees,’ het my vriend vir my gesê toe hy my sien. Hy het dit drie keer gesê. Ek het dadelik geweet my vrou is dood,” sê hy.

Tembo sê hy was “hartseer en getraumatiseerd.

“Ek is beroof van my laaste oomblikke saam met my vrou.”

Maxine Bezuidenhout, woordvoerder van die Kaapse metro se verkeersdienste, sê verkeersbeamptes het Tembo op Klipfonteinweg opgemerk waar hy teen ’n “uiters hoë snelheid” gery het.

“Beamptes het die voertuig met hul blou ligte en sirenes aan agtervolg. Op die kruising van Klipfonteinweg en Jakes Gerwel-rylaan het die motoris deur ’n rooi verkeerslig gery sonder om stadiger te ry en sonder om ander padgebruikers in ag te neem,” sê Bezuidenhout.

Sy sê Tembo het geweier om vir die beamptes te stop en het aangehou jaag.

Arnold en Joan Tembo van Heideveld, Athlone, was 36 jaar lank getroud. Foto: Verskaf

“Op die Govan Mbeki-pad, op die brug, het hy amper in twee aankomende voertuie vasgery. Beamptes het hom uiteindelik gedwing om by die kruising van Jakes Gerwel-rylaan en die R300 te stop,” sê Bezuidenhout.

Volgens die beamptes het die motoris die lewe van ander padgebruikers in gevaar gestel.

Sy sê verkeersbeamptes help dikwels motoriste wat dringend by ’n hospitaal moet uitkom.

“In hierdie geval het die motorbestuurder geweier om te stop en eerder beamptes op ’n jaagtog geneem en die lewe van ander in gevaar gestel. Die departement het empatie met die motoris se omstandighede. Ons het egter die verantwoordelikheid om die veiligheid van alle lewens te verseker en in hierdie geval is die inhegtenisneming van die oortreder gedoen in die belang van openbare veiligheid,” sê Bezuidenhout.

Sers. Noloyiso Rwexana, provinsiale polisiewoordvoerder, het bevestig dat ’n saak van roekelose en nalatige bestuur aanhangig gemaak is.

Tembo sê hy verskyn op 7 April in die landdroshof in Athlone.

Meer oor:  Spoedoortreding  |  Covid-19  |  Arnold Tembo
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.