Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
70% van dié ondernemings in Bfn lê straks personeel af

As die huidige inperkingstyd verleng word, word die Mangaung-metrogebied deur groot werkloosheid in die gesig gestaar.

Na raming sal só ’n verlenging meebring dat tot 70% van sakebedrywe wat dienste lewer en wat nie noodsaaklikhede soos kos en medisyne verkoop nie, eers personeel sal moet aflê en later selfs hul deure sal moet sluit.

So sê Nancy de Sousa, president van Mangaung se kamer van handel en nywerheid. Sy sê sy kry paniek-aanvalle oor al die gevolge van Covid-19 vir die sakesektor en die mense in Mangaung.

Dit is ook ontstellend om te weet dat daar ryk sakemanne in Bloemfontein is wat werknemers tans tuis laat sit onder ’n bedeling van “geen werk, geen betaling”.

Nancy de Sousa, president van die kamer van handel en nywerheid in Mangaung. Foto: Argief

Sy sê volgens Morné Terblanche van Labournet is dit wettig.

De Sousa sê een finansiële instelling met ’n kantoor in Bloemfontein wat aan groot dele van die sentrale streek dienste lewer, het in die eerste week van inperking 90% van sy normale verkope verloor.

Terwyl talle eienaars van sakeondernemings sê dat hulle op hul knieë is, is sommige wat kos en noodsaaklikhede verkoop weer beter daaraan toe.

Daar is selfs ’n groot koswinkel waarvan die omset 400% meer is. Dit is egter die uitsondering omdat dit ’n nasionale kettingwinkel is.

De Sousa sê in die streek is die grootste werkverskaffer die regering, terwyl die Universiteit van die Vrystaat (UV) en die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) ook groot werkverskaffers is.

Die twee universiteite is in dié stadium gesluit met die gevolg dat byvoorbeeld die taxi-bedryf nie optimaal sake kan doen nie. Terwyl studente nie nou taxi’s vir vervoer gebruik nie, sit ook huis- en tuinwerkers tuis wat normaalweg daarvan gebruik maak.

De Sousa sê die kamer se sowat 300 aktiewe lede is almal geweldig bekommerd oor wat met die ekonomie in die streek gaan gebeur en of hulle nog hul deure sal kan oophou – veral as die staat van inperking verleng word.

Die Mangaung-streek het nie groot nywerhede nie en die meeste onderneming is op diensverskaffing gemik, maar dié bedryf staan nou stil.

“In dié stadium kan jy nie eens ’n wasser of ’n tang te koop kry nie, omdat die sakeondernemings gesluit is. Die konstruksie- en boubedryf was reeds in groot moeilikheid omdat te min projekte aan die Vrystaat toegeken is.”

Ons vra ook of hulle sal kan oorleef as daar ’n verlenging van die 21 dae van inperking kom. Dié wat reeds geantwoord het, het almal laat weet dat hulle nie die pyp sal kan rook nie.

De Sousa sê die kamer stuur nou vraelyste na lede om te bepaal hoe gesond hul ondernemings nog is en of hulle nog in bedryf is.

“Ons vra ook of hulle sal kan oorleef as daar ’n verlenging van die 21 dae van inperking kom. Dié wat reeds geantwoord het, het almal laat weet dat hulle nie die pyp sal kan rook nie.”

Sy sê ’n groot probleem is dat mense nie weet hoe om toegang te kry tot die hulpfondse wat die regering voortdurend in die nuus aankondig nie.

“Ons kry die vorms van Sacci (Suid-Afrikaanse kamer van handel en nywerheid) en stuur dit na lede, maar die vorms is verouderd en nie aangepas vir die huidige omstandighede om die Covid-19-krisis nie.”

Sy sê daar is nou in die Mangaung-streek baie ondernemings wat geweldig swaar kry, soos ondernemings wat skoonmaakdienste by gastehuise lewer.

“Die gastehuise en die oornaggeriewe is meestal gesluit. Die skoonmaakdiens-ondernemings het net enkele groter plekke waar hulle nog kan skoonmaak.”

Sy sê daar is gelukkig banke wat nou na vore getree het met beloftes om klein-sakeondernemings te help.

Sy is intussen besig om saam met ander sakelui ’n afspraak met pres. Cyril Ramaphosa te kry om seker te maak dat almal toegang tot dieselfde hulpbronne sal hê.

Meer oor:  Bloemfontein  |  Afleggings  |  Ondernemings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.