Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
702 se Xolani Gwala was van ’n ‘ander stoffasie’

“Xolani (Gwala) was van ’n ander stoffasie. Hy was ’n onverskrokke uitsaaier, maar het sy gaste altyd met respek behandel. Hy was dol op radio en het geglo in die krag daarvan om mense in magsposisies verantwoordbaar te hou en as ’n voertuig vir Suid-Afrikaners om te praat.”

So het Mahlatse Mahlase, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef), Vrydag hulde gebring aan dié ervare joernalis en radioaanbieder op 702/Cape Talk wat op 44-jarige ouderdom aan kanker dood is.

Matsi Modise, ’n woordvoerder vir die familie, het die nuus van sy afsterwe Vrydagoggend op 702 aangekondig. Sy het ook ’n brief van Gwala se vrou, Peggy-Sue, voorgelees: “Ek en die kinders, en die res van die familie, is verpletter om die nuus met julle te deel dat ons dierbare XG, pa, vriend, uitsaai-ikoon en kampvegter vir kankerbewusmaking vandag sy moedige stryd teen hierdie meedoënlose siekte verloor het.”

Fase 4-kolonkanker is twee jaar gelede by Gwala gediagnoseer. Hy is Vrydag in die vroeë oggendure dood.

Mahlase, soos baie ander, het Gwala se dood betreur en hom as ’n knap professionele joernalis beskryf.

Xolani GwalaFoto: Twitter/Eusebius McKaiser

Pres. Cyril Ramaphosa, wat Donderdag na Jokohama, Japan, gereis het waar hy die Springbokke in die Wêreldbekerrugby-eindstryd sal ondersteun, het ’n boodskap van medelye deur waarnemende pres. Angie Motshekga gestuur.

“Ons het ’n jeugdige veteraan in ’n belangrike sektor in ons land verloor. As ’n beroepsman in die 1990’s het Xolani Gwala al die waardes van ons oorgang na ’n demokrasie gedra – die waardes van luister en om oop te wees vir sienings wat strydig is met jou eie en jou selfs aanstoot gee. Hy het gefokus op oplossings,” sê Ramaphosa.

Themba Maseko, die voormalige regeringswoordvoerder, het Gwala op sosiale media as ’n “sagmoedige reus” beskryf. “Dit was ’n eer om hierdie sagmoedige reus te ken. Dit was ’n voorreg om sy vriend te wees. Dit was ’n nederige ervaring toe hy ’n onderhoud met my gevoer het. Dit was ’n plesier om na sy programme te luister. Totsiens, ou vriend. Tot ons weer ontmoet . . . rus in vrede.”

Politieke partye het ook hulde aan Gwala gebring.

“Hy was ’n onverskrokke omroeper wat geen heilige koeie gehad het nie en ’n leier wat as voorbeeld vir sy tydgenote dien. Tot op die einde het Xolani ’n geesdriftige opvoeder en mentor gebly. Hy het ’n groot bydrae gelewer om mense bewus te maak van kanker,” het die ANC in ’n verklaring gesê.

Phumzile van Damme, DA-LP, het gesê die uitsaaigemeenskap is “armer” ná Gwala se afsterwe. “Die uitsaaigemeenskap het ’n groot ikoon verloor en is nou armer sonder hom. Hy sal baie gemis word.”

Die EFF het ook sy medelye betuig. “Gespreksradio het ’n ware genie verloor. Gwala het sy stempel afgedruk met sy programme met onvergeetlike, uitmuntende en kritiese inhoud.”

Besonderhede oor sy roudiens en begrafnis is nog nie bekend nie.

Meer oor:  Xolani Gwala
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.