Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
71 hondjies vrek weens katgriep by polisie-eenheid

Die uitbreek van Parvo-virus (katgriep) by die polisie se honde-teeleenheid by Roodeplaat buite Pretoria ’n maand gelede, kon “enige hondetelery” getref het.

Van die diere wás al twee keer teen die siekte ingeënt en personeel het onmiddellik gereageer toe hulle besef het daar is ’n krisis, sê Arno de Klerk van die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV).

Brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, sê 71 babahondjies is vrek, maar meer as 160 kon gered word.

Die teelafdeling by die hondeskool word steeds deeglik saam met die plaaslike Tshwane-DBV gemonitor.

“Daar is ook ’n ondersoek om vas te stel of daar enige nalatigheid aan die kant van die lede was wat verantwoordelik is vir die versorging en beveiliging van die perseel en die diere,” sê Naidoo.

Volgens bronne blyk dit dat die eenheid se veeartseny-afdeling, wat op die perseel geleë is, weens burokrasie skielik ’n tekort aan medisyne ondervind het toe die virus uitgebreek het.

“Daar is ’n rits mense wat papiere moet teken voordat medisyne aan die eenheid gestuur kan word. Dit was nie soseer weens nalatigheid aan die hondeskool en –teeleenheid se kant nie,” verduidelik sommige.

De Klerk sê die polisie se honde-eenheid het die Tshwane-DBV begin September gekontak en gesê daar is ’n probleem.

“Met ons inspekteurs se aankoms moes van die diere wat kritiek was, van kant gemaak word. Geen dier het gely nie. Van die diere het noodbehandeling ontvang en ’n noodbestelling vir die medisyne is deurgestuur. Teen die middag het talle reeds beter gelyk.”

Die NDBV het met die eenheid se hoofveearts en ’n kolonel vergader oor die krisis.

“Dit blyk dat die katgriep-virus by die teelafdeling waar die klein hondjies was, uitgebreek het, maar ons kan nog nie sê hoe dit gebeur het of waar dit vandaan kom nie,” sê De Klerk.

“Dit kan enige hondetelery-opset tref.”

De Klerk verduidelik dat die virus baie aggressief is en honde se dermstelsel aanval. Ook volwasse honde, insluitende dié wat ingeënt is teen die siekte, kan dit kry, maar dit is meerendeels babahondjies wat baie kwesbaar vir die siekte is.

Hulle moet enige tyd vanaf ses weke oud ingeënt word, waarna nog twee inentings in die opvolgende twee maande moet volg, sowel as verdere inspuitings een keer ’n jaar.

“Van die hondjies was wel ingeënt, sommige reeds twee maal. Daar was medisyne op die perseel, maar toe so baie diere siek raak, was daar nie genoeg om almal te behandel nie,” sê De Klerk.

Die DBV het ook sekere voorskrifte aan die teelafdeling deurgegee, wat, volgens De Klerk, dadelik toegepas is.

“Die afdeling is onder kwarantyn geplaas, ons het gesê watter ontsmetmiddels gebruik moet word en dat ’n persoon verantwoordelik moet wees vir ’n spesifieke blok of twee waar die diere is en nié na ander blokke gaan nie, sodat niks versprei nie,” sê hy.

Sedertdien het die Tshwane-DBV die perseel weer verskeie kere besoek en dit blyk dat die probleem nou onder beheer is.

Meer oor:  Dbv  |  Katgriep
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.