Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘7de Laan’ se Rickus lig sy lappie . . . toe stroom die klagtes in!

Geskokte kykers van 7de Laan het dié sepie by die owerhede gaan verkla en eis ’n verskoning.

André Lotter, oftewel Rickus, doen bewusmaking oor testikulêre kanker.

Die Uitsaaiklagtekommissie van Suid-Afrika (UKKSA) het aan Rapport bevestig hulle het drie klagtes teen SABC2 ontvang oor die sepie se storielyn wat sommiges warm onder die kraag het.

Een van die klagtes is beweerde disrespek teenoor mense met kanker, en die ander gaan oor “onnodige” eksplisiete geweld wat uitgesaai is deur ’n gesinsprogram in ’n tydgleuf wanneer kinders nog televisie kyk. Die klaers vra ook die UKKSA om die kanaal ’n stewige boete op te lê weens die beweerde oortredings van die gedragskode.

7de Laan tert al vir die laaste paar maande hul storielyn op, van die heilsame, idilliese gemeenskap wat skoon grappies in OppiKoffi deel, tot ’n aksiebelaaide drama waar ’n vliegtuig neerstort, ’n gevegklub begin is en sekere tonele in die tronk afgespeel het.

Maar die storielyn wat sommige kykers duidelik oor die rand gestoot het, was die Haven-storielyn wat einde Oktober tot November uitgesaai is.

Haven vaar Hillside binne.

Haven is ’n gemeenskap wat glo tegnologie is ’n euwel en dat ons daarsonder moet klaarkom. Hulle wil dan wys dis moontlik om ’n stukkie “hemel” te skep in die hartjie van Johannesburg: die denkbeeldige en geliefde Hillside.

Haven, onder aanvoering van Francois (vertolk deur Chris van Niekerk), neem dan 7de Laners gevange.

In die proses het ’n bom ontplof en ’n handgranaat het in Connie (Quinne Brown) se gesig ontplof, wat haar permanent geskend het.

Xander (Theodore Jantjies) is bebloed mee hospitaal toe gejaag.

In een toneel dreig die aangehoudenes om ’n swanger vrou met stokke aan te val om haar baba seer te maak.

En dan, in ’n toneel waaroor die UKKSA nou moet beslis, word glo die spot gedryf met Rickus (André Lotter) by wie vroeër testikulêre kanker gediagnoseer is. Sy een testes is verwyder.

Francois gaan tekere oor hoe tegnologie volgens hulle kanker veroorsaak en verwys na Rickus as “misvormd” en ’n “halwe wese”.

In die toneel staan Rickus net met ’n lappie oor sy private dele en Francois beveel hom om dié lappie oor sy lies te laat val sodat almal kan sien hoe geskend hy is. 7de Laners het na hul asems gesnak.

7de Laan het navrae na die SAUK verwys.

Neo Modumo, SAUK-woordvoerder, het die klagtes bevestig. Modumo sê die klagtes word nog beoordeel en hulle kan nie in dié stadium kommentaar lewer nie.

Hoewel verskeie mense op 7de Laan se sosialemediakanale gal gebraak het oor die “gemors” wat opgedis is, was ewe veel in ekstase.

Luidens amptelike syfers van die Broadcast Research Council of South Africa (BRCSA) het 7de Laan se gewaagde storielyne glad nie kykers in hul massas afgeskrik om in te skakel nie.

Vir Oktober, die nuutste syfer wat beskikbaar is en die maand waarin die Haven-storielyn begin het, is 7de Laan se kykerstal op 2,9 miljoen kykers per aand bereken.

Dit is net ’n raps minder as die gemiddelde 3,1 miljoen kykers per episode vir September en Augustus.

In September 2017 was die kykertal 1,8 miljoen, wat beteken 7de Laan se gehoor het aansienlik gegroei op ’n jaar-tot-jaar-grondslag.

Kykersgetalle vir alle programme wissel deur die jaar omdat kykers in sommige seisoene meer inskakel.

In Junie het 7de Laan ’n stewige 4,2 miljoen paar oë getrek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.