Agt mense is tot dusver dood in die ontploffing Maandagmiddag in ’n ammunisiefabriek in Macassar by Somerset-Wes wat wyd gevoel is.
Theo Layne, woordvoerder vir Kaapstad se brand-en- reddingsdienste, het bevestig die ontploffing het omstreeks 15:45 in Denel Rheinmetal Munition-aanleg se Somchem-fabriek plaasgevind.

Brandweer-en-reddingsdienste is steeds by die Rheinmetal Ammunisie-aanleg buite Somerset-Wes. Foto: Jaco Marais
Layne sê toe hul brandweer en reddingspanne op die toneel aangekom het, het personeellede reeds die brand geblus.
“Brandbestryders is tans steeds besig met ’n soek-en- reddingsoperasie na van die werkers wat vermis word. Die oorsaak van die ontploffing is nog nie bekend nie,” het Layne gesê.
Volgens hom is daar 15 brandweermanne en drie brandweervoertuie op die toneel.
Inwoners van die gebied het op sosiale media gesê die impak van die ontploffing is wyd gevoel.
Sommige het gesê dat dit gevoel het of hul huise se dakke afgeruk word.
Ander het gesê hul vensters en deure het geruk.

’n Rookwolk hang oor die Denel-aanleg buite Somerset-WesFoto: Verskaf
Ons het uit ons gebou gehardloop en ’n sampioen-rookwolk oor die Denel-aanleg gesien hang,” het ’n inwoner van die Strand gesê.
Jeanri Lee Calitz, wat ’n winkel in die Strand besit, sê dit het aanvanklik gevoel of die skudding in hul gebou was.
“Dit was asof iets binne ons gebou gekraak of gebreek het. Dit het soos ’n ligte aardskudding gevoel, maar toe ons uithardloop het ons die sampioen-wolk gesien.”
Calitz het bygevoeg dat haar familie op Stellenbosch dieselfde skudding gevoel het.
“Dit was net te skrikwekkend.”

Grafika24