Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: 8 dra man (52) van 230 kg uit sy huis

Agt paramedici en ’n groot, sterk kombers.

Dis wat dit gekos het om ’n 52-jarige werklose dieselwerktuigkundige met hartversaking, wat sowat 230 kg weeg, uit sy bed in ’n ambulans te kry.

’n Man van 230 kg met hartversaking het uiteindelik die afgelope week ingestem om hospitaal toe te gaan.

Xander Loubser van die Best Care-ambulansdiens sê hulle is Dinsdag na dié huis in Mountain View, Pretoria, uitgeroep.

Hy sê van die paramedici was “moedeloos” toe hulle die man sien.

“Ons grootste bloeddrukband kon nie om sy arm pas nie,” sê Loubser.

Die man, wat nie kan beweeg nie, se lyf was weens vogterughouding geswel en seer. Hy het “eina” gesê elke keer as hulle aan hom vat.

’n Paramedikus het voorgestel dat hulle die brandweer bel om te kom help. ’n Ander idee was om hom op ’n sitkamerbank by die trappe in die huis te laat “afseil”.

Uiteindelik het ’n groot, sterk kombers die ding gedoen, sê Loubser.

Hulle het hom op die kombers gerol en agt paramedici het hom daarin gedra. Hy kon amper nie by die huis se deur uit nie en die ambulans was “net-net” groot genoeg.

Loubser sê die man kon in Desember nog regop sit en beweeg toe hy hom toe by sy huis besoek het. “Die suurstofvlak in sy bloed was toe al laag.”

Die man het egter vasgeskop om hospitaal toe te gaan.

Theodore Pretorius (25) sê die pasiënt, wat geskei is en alleen bly, het hom in November verlede jaar gebel en gevra om hom te help, soos met inkopies.

“Iets moes in sy lewe skeefgeloop het. Hy verslind kos, ek dink dis om homself te troos.

“Hy eet KFC, pizzas, McDonald’s en Chinese kos. Nou die dag moes ek R600 se goed vir hom koop – en baie paaseiers. Hy eet geblikte vrugte, maar die stroop daarin is ook sleg vir hom.”

Oor die Pase kon hy glad nie meer asem kry nie.

“Dit het gelyk of hy doodgaan,” sê Pretorius. Die man het uiteindelik Dinsdag ingestem dat hy die ambulans bel.

Die man, wat anoniem wil bly, het Donderdag uit sy hospitaalbed aan Rapport gesê dit gaan nou baie beter, hoewel hy steeds in die hospitaal moet bly terwyl die swelling in sy bene en arms sak en die vog in sy longe opklaar.

Hy sê hy was nog altyd ’n groot man.

Hy het ’n paar jaar gelede sy werk as motorwerktuigkundige bedank – om “ander redes” as sy gesondheid of gewig. Hy het daarna nie weer gewerk nie en leef van spaargeld.

Hy sê hy besef nou hy moet na homself begin kyk voordat dit te laat is. “Ek weet ek het hulp nodig.”

Hy sê “hy hardloop nie agter kos aan nie” en blameer die groot hoeveelhede gaskoeldrank vir sy gewigsprobleem. Hy tel egter nie die liters wat hy drink nie.

Pretorius sê: “Die hoofrede waarom ek hom help, is om hom comfort te gee.”

Meer oor:  Pretoria  |  Oorgewig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.