Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
82-jarige hoor haar seun, sy hele gesin is dood

Willie Snyman (44), wat saam met sy vrou en hul enigste kind in ’n ongeluk dood is, se 82-jarige ma het pas van Covid-19 herstel toe sy die hartverskeurende nuus kry.

“Sy vat dit baie swaar, sy het net haar kop laat sak, dit geskud en gesê sy kan nou nie meer sê al vier haar kinders leef nie” het Alta Britz, Snyman se susterskind, Woensdag vertel.

Martie Snyman was besonder geheg aan haar jongste seun wat ook haar oorlede man, Willie sr., se naam gehad het.

Willie, Lize en Zelde Snyman op Oukersdag verlede jaar.

Snyman, ’n sakeman van Pretoria, sy vrou, Zelde (42), en hul dogter, Lize (15), is vermoedelik op slag dood in die botsing tussen ’n Toyota Prado, vragmotor en kombi vroeg Sondagaand. Die ongeluk het op die N3-snelweg naby Harrismith in die Vrystaat gebeur.

Ian (53) en Christa (45) Greyling en hul seun, Jacques Marais (15), almal in die kombi, en Raymond Masango, in die Prado, is ook almal op die toneel dood. Slegs Jacques se boetie, die 16-jarige Jordan, het die ongeluk oorleef. Hy is in ’n ernstige toestand onder verdowing in die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein se waakeenheid waar hy reeds ’n operasie ondergaan het om drukking van bloeding op sy brein te verlig.

Britz is stukkend oor haar oom Willie se dood.

“Hy het my as sy eie kind aanvaar nadat my pa uit my lewe verdwyn het en het my met my troue by die kerk ingebring. Hy was ’n steunpilaar in die familie. Zelde was weer soos ’n ma vir my boetie Therseüs (Froneman). Ek is so dankbaar dat sy en Willie hul dogter Lize met ons gedeel het. Lize was soos ons eie, want ek en my man (Wikus) het nie kinders nie. Ons lewens was verweef met mekaar.”

Willie, Lize en Zelde Snyman op Kersdag verlede jaar.

Die Greyling- en die Snyman-familie is almal kort ná Kersfees met ’n kombi na Uvongo aan die Suidkus om saam daar vakansie te gaan hou. Die kombi het op hul terugtog Sondag na hul tuisstad, Pretoria, naby Pinetown onklaar geraak het. Masango, ’n vriend van Willie, het toe vanaf Pretoria met Willie se Prado gery om die kombi te sleep. Britz het Woensdag gesê die ongeluk het in swaar reën gebeur.

“Die polisie in Harrismith het ons vandag laat weet dit lyk asof die vragmotor wat van voor teen die Prado en kombi gebots het se remme onklaar was. Dit lyk ook asof die Prado en kombi in hul eie baan gery het toe die vragmotor uit sy baan beweeg en teen hulle gebots het.”

Kol. Thandi Mbambo, polisiewoordvoerder in die Vrystaat, het vroeër gesê die vragmotorbestuurder beweer die kombi het by sy baan inbeweeg.

“Ons kan nie nou verdere inligting bekend maak totdat die ondersoek afgehandel is nie.”

Zelde, Lize en Willie Snyman op Kersdag verlede jaar.

Die vragmotorbestuurder is nie beseer nie.

Britz bring op haar Facebook-blad só hulde aan Willie, Zelde en Lize: “Ek salueer jou Willa . . . Hier het ’n man by ons verbygegaan. Ek voel of ek verdrink in ’n see van hartseer en verlange . . . Zelde, dankie dat niks ooit te veel of te groot vir jou was wanneer dit by ons gekom het nie.”

Vir Lize skryf sy: “Dit voel of die wêreld se swaar op my bors sit. Ek koester elke geselsie en laggie . . . Jy is en was my stukkie hemel hier op aarde.”

Ook Therseüs stort sy hart op Facebook uit. “Lize, ek kom groet met ’n stukkende hart. Willie, dankie vir die waardes wat jy my geleer het. Zelde, die mooiste mooi is kom haal.”

Voor van links is Lize Snyman, haar tannie, Joey Froneman, en haar niggie se man, Wikus Britz. In die middel is Zelde Snyman en Alta Britz. Willie Snyman staan heel agter.
Willie Snyman en sy dogter, Lize, op Kersdag verlede jaar.
Die Greyling-gesin: van links is Jacques Marais (15), Ian Greyling, Jordan Marais (16), Christa Greyling en Donovan Delport.
Die wrak van die kombi.
Die vragmotor het bo-op die kombi te lande gekom.
Die Greyling- en Snyman-gesin in die kombi waarin omtrent almal van hulle later verongeluk het. Voor is Willie Snyman (links) en Ian Greyling. In die middel is Christa Greyling, Zelde Snyman en Donovan Delport. Agter sit Lize Snyman en die broers Jordan en Jacques Marais.
Jacques Marais (15) was ’n kranige sportman en het ook akademies presteer.

Therseüs beskryf Zelde as vriendelik, onselfsugtig, goedhartig, beleefd en liefdevol.

Joey Froneman, Willie se suster, se diep verlies spreek ook uit die briefies wat sy sedert die ongeluk aan hom, Zelde en Lize geskryf het.

“My boeta, my hart is uitgeruk en in miljoene stukkies.” Aan haar skoonsuster Zelde skryf sy: “Kosbare Zel, my sussie wat ek nooit gehad het nie, my hartsvriendin. Dit voel of daar ’n gat is waar my hart moet wees.”

En aan klein Lize, wat haar altyd “Liefling” genoem het, skryf Joey: “Waar begin ek . . . my hart is uitgeruk en verbrysel.”

Geen begrafnisreëlings is nog getref nie.

Meer oor:  Willie Snyman  |  Harrismith  |  Botsing  |  Ongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.