Nege vissermanne het Donderdag naby Kommetjie ’n waterdood ontkom toe lede van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) hulle van hul sinkende vissersboot af red.
Die NSRI se reddingspanne in Houtbaai en Kommetjie is Donderdag net na 08:00 geaktiveer, nadat inligting ontvang is van ’n vissersboot waarin water ingeloop het, 12 seemyl van die Slangkop-lighuis.
Die NSRI se seereddingsvaartuie die Albie Matthews en die IL Battello het albei pompe wat water opsuig, asook ekstra brandstof en brandstofpompe vir die waterpompe aan boord gehad.
’n Vissersboot wat ten tyde van die reddingsoperasie in die omgewing was, is ingespan om te help.

Lede van die NSRI was byderhand om seker te maak dat die sinkende vissersboot veilig tot die hawe in Houtbaai vaar. Foto: NSRI
Met die NSRI se aankoms by die toneel het die reddingswemmers van Houtbaai aan boord die sukkelende vissersboot geklim.Die boot het reeds begin sak. Die waterpompe is gebruik om van die water uit te pomp.
Die boot het hierna in die rigting van Houtbaai gevaar, met lede van die NSRI op hul hakke om die situasie te monitor.
Geen verdere hulp was nodig nie en die vissersboot het veilig tot by die Houtbaai-hawe gevaar.