Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
91-jarige haal nie die lys vir huis in Distrik Ses; 100-jarige hoop nog

Die 100-jarige Mama Khan hoop haar dua (gebed) om weer ’n huis in Distrik Ses te kry, word waar.

Teleurgesteld. Sarah van Schoor (91). Foto: Courtney J. Haas
Hoop. Die 100-jarige Mama Khan. Foto: D6WK

“Ek wil in Distrik Ses sterf,” sê sy. “Dit is my laaste wens.”

Haar wens kan waar word as haar naam op die lys is van 108 mense wat ’n huis daar gaan kry in fase 3 van die regering se restitusieprogram vir Distrik Ses. Maar wanneer die lys bekend gemaak word, weet niemand nog nie.

En baie van die mense wat meer as 50 jaar gelede uit Distrik Ses geskop is, het nie baie tyd nie.

“Ons het talle ouer eisers in hul 80’s en 90’s wat nie enige vertragings kan bekostig nie,” sê Karen Breytenbach, woordvoerder vir die Distrik Ses-werkkomitee, wat hom vir die regte van die grondeisers beywer. En natuurlik Mama Khan, wat nou al 100 is.

Catherine Wagner het ook angstig op dié lys gewag in die hoop dat sy ook kan huis toe gaan, maar die tyd het haar ingehaal. Sy is in Februarie in haar slaap dood.

Sarah van Schoor (91), nog ’n voormalige inwoner van Distrik Ses, se hoop is weer verydel toe sy onlangs per brief ingelig is sy kwalifiseer nie. Haar man was die amptelike eiser, maar hy is oorlede. Volgens die brief kan die eis nie aan die weduwee oorgedra word nie. Haar familie het by die departement beswaar aangeteken.

Dit is die hartseer van die restitusieprogram, sê Breytenbach.

Khan, Van Schoor en Wagner is onder die honderde oudinwoners wat ingevolge die restitusieprogram grondeise by die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming ingedien het.

In die eerste fase is 24 wooneenhede toeken en in fase 2 nog 115.

Mama Khan het 40 jaar in Distrik Ses gewoon. Op dae wanneer haar verstand helder is, kan sy nog vertel hoe sy en haar man, Dawood, se lewe in die Bailey-woonstelle in Hanoverstraat, naby die Avalon-bioskoop, verloop het.

Hulle het die beroemde Bombay Café, ook genoem Dout’s Café, by Hanoverstraat 238 bedryf.

Talle Distrik Ses-bekendes was gereeld hier: wyle Taliep Petersen, die balletlegende Johaar Mosaval, regter Esa Moosa en die voormalige Wes-Kaapse premier Ebrahim Rasool.

Mama Khan kon ’n jaar gelede gemaklik meer as 1 000 samoesas in ’n week vou. Nou doen sy slegs tot 500.

Sy onthou die 1940’s as ’n tyd van godsdiensverdraagsaamheid en diversiteit in Distrik Ses. Kinders van alle gelowe sou byvoorbeeld tydens die maand van Ramadaan saans aan die breek van die daaglikse vas deelneem.

Die gedwonge verskuiwings het in 1968 begin.

Khan sê sy kan die pyn, verontmensliking, ontneming en verbrokkeling wat dit meegebring het nie, nie vergeet nie. “Die pyn om toe te kyk hoe ons huis platgestoot word en die dag toe Dawood ’n bordjie in die winkelvenster moes sit: ‘Ons moet sluit’.

“Niemand sal verstaan hoe pynlik dit is om op ’n stukkie grond te staan waar jou huis eens was nie. Ek sê altyd ons was arm, maar gelukkig in Distrik Ses.”

Hulle is soos kriminele verskuif, sê sy. “Die enigste ding wat ons verkeerd gedoen het, was dat ons nie wit was nie.”

Die werkkomitee het in 2018 al die departement hof toe gevat oor die trae restitusieproses en die hof het die departement toe aangepraat.

Volgens die departement se jongste kwartaalverslag was die projek gedateer in Maart 83% afgehandel en sou dit teen 3 Mei voltooi wees. Die inwoners wag egter steeds en die bouers is nog besig op die perseel.

Die departement blameer in sy Maart-verslag Covid-19 en probleme met tenders en projekspanne vir vertragings.

Breytenbach sê van die eisers is al baie oud en dis vir hulle spanningsvol om só laat in hul lewe weer te trek. Sommige het groot gesinne en die plek in hul nuwe woonstelle is knap.

Vuyani Nkasayi, woordvoerder vir die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, wou hom nie verbind tot ’n datum wanneer die 108 name bekend gemaak sal word nie.

Afgesien van die ander probleme moes die stad nou ’n interdik bekom teen die onwettige besetters wat oop stukke grond in die buurt betrek het.

Volgens die werkkomitee is party van dié plakkers mense wat dekades gelede HOP-huise belowe is en selfs voormalige oudinwoners van Distrik Ses.

Die komitee sê hulle kan nie toelaat dat opportuniste in die ry indruk ten koste van eisers wat die wettige roete gevolg het nie.

Meer oor:  Distrik Ses
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.