Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Ace Magashule ‘wil nie plaas koop’
Ace Magashule

Die Vrystaatse premier, Ace Magashule, het ’n afvaardiging op ’n staatsbesoek na Rusland, Belarus en Bulgarye gelei om beleggings na die provinsie te trek.

Die premier ontken dat hy die lande besoek om vir homself ’n suiwelplaas te koop, soos vroeër aan Volksblad gesê is.

“Die premier het nie na enige van die lande gegaan om ’n suiwelplaas of enige ander sakeonderneming te koop nie,” het Magashule by monde van sy woordvoerder, Tiisetso Makhele, gesê.

Volgens hom is die staatsbesoek tot voordeel van die provinsie en nie Magashule nie.

Die premier, Tate Makgoe, LUR vir onderwys, Motete Oupa Khoabane, LUR vir landbou, en die res van die afvaardiging het op 23 Oktober vertrek en sal na verwagting op 8 November terugreis.

“Die Vrystaatse afvaardiging het verskeie universiteite, sakeondernemings, agri-dorpe en kulturele en erfenisterreine besoek. Meer van die instansies sal nog besoek word totdat die toer afgehandel is.”

Met behulp van die Suid-Afrikaanse ambassade in Moskou kon die afvaardiging kontak met Jan Geldenhuys maak.

Geldenhuys, oorspronklik van Kroonstad, is nou al sowat vier jaar in Rusland.

Hy is die bestuurder van die mega-landbouprojek Nizhny Novgorod Pork Production (NNPP). Dit is omtrent 7 km van die dorpie Vad en 100 km van Nizhny Novgorod (die vyfde grootste stad in Rusland), het hy per e-pos aan Volksblad gesê.

Die oorhoofse maatskappy van dié projek is Russian Baltic Pork Invest (RBPI).

Die projek se boerdery-afdeling bestaan uit ’n sog-eenheid van 6 000 en die beplande verkope is 180 000 spekvarke per jaar.

Hulle probeer ook om hul grane self te produseer en het die afgelope seisoen 4 000 ha geplant. Hulle beplan egter om dit na 10 000 ha uit te brei.

Lede van die afvaardiging, onder wie Magashule en Khoabane, het Geldenhuys die aand van 28 Oktober ontmoet en die volgende middag weer vertrek.

“Hulle wou kom kyk na hoe so ’n mega-landbouprojek werk en het ook die Vrystaat aan voornemende internasionale beleggers kom bemark,” het Geldenhuys gesê.

“Ek het aan hulle ’n video gewys wat basies elke faset van die projek verduidelik. Daarna het ons die projek besoek en ek het hulle rondgewys by die verskillende eenhede, naamlik die sog-eenheid, die speenvarkies en die spekvarke . . . Daarna het ons ook ’n nabygeleë visboerdery besoek wat hulle baie interessant gevind het,” het Geldenhuys gesê.

Volgens Tiisetso Makhele, die premier se woordvoerder, probeer die Vrystaatse regering om buitelandse beleggings vir verskeie sektore van die ekonomie te kry, maar met “ ’n spesifieke fokus op landbou en landbouverwerking”. Byna 15% van die land se kommersiële landbou vind volgens hom in die Vrystaat plaas. Dus is die landboubedryf uiters belangrik vir die provinsie se maatskaplike en ekonomiese welstand, want dit verskaf kos aan burgers en dra geweldig tot werkskepping by, het Makhele gesê.

“Met die besoek aan Rusland is ook probeer om te beding vir vaardighede in landbouverwerking as die hoofdrywer van ekonomiese ontwikkeling en werkskepping.”

* Makhele het gesê die ander doel van die toer was om studie-uitruilprogramme te reël­ waarby die Vrystaat en die ander lande almal sal baat vind.

Meer oor:  Vrystaat  |  Ace Magashule  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.