Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Aand in boekwinkel groot bederf vir vrou se 60ste

’n Vrou van Johannesburg is steeds in haar skik nadat sy Sondag, op haar 60ste verjaardag, die hele aand lank in ’n boekwinkel toegesluit was.

Toe haar vier dogters vir haar vra watter geskenk sy vir haar verjaardag wou hê, het Carina Greyling geantwoord: “Om die hele aand lank in Exclusive Books toegesluit te wees met ’n fles koffie, ’n kombers en onbeperkte toegang tot soveel boeke as moontlik.”

Carina Greyling sit op die bed wat spesiaal vir haar in Exclusive Books, Hyde Park, opgestel is. Sy het Sondag, die aand van haar 60ste verjaardag, in dié boekwinkel geslaap. Foto’s: verskaf

Dié wens is bewaarheid toe Greyling die aand van haar verjaardag omstreeks 21:00 deur haar kinders en man, Brian, na Exclusive Books in Hyde Park geneem is.

Hier het sy die grootste verrassing gekry toe daar nie net ’n kombers nie, maar ’n koningsgrootte bed, kompleet met familiefoto’s op die bedkassies, in die boekwinkel vir haar opgestel is.

Die bed en kussings is vir die geleentheid deur die aangrensende winkel, Vencasa, geskenk.

Verversings en peuselhappies vir die opwindende aand wat vir haar voorgelê het, is ook voorsien.

“Ek het nog altyd gesê wanneer dit my tyd is om te gaan, hoop ek die hemel het ’n boekwinkel en ek dink dit mag dalk soos dié lyk,” sê Greyling, wat sedert haar kinderjare ’n boekwurm is.

“Dit was te wonderlik, ek kon dit nie glo nie. Dit het gevoel of ek het in die hemel gekom het. Dit was een van die beste dinge van my hele lewe,” sê dié boekliefhebber, wat ook haar kinders die waarde van boeke geleer het.

“Ek is onmiddellik na die rak met die topverkopers en het al my gunstelingskrywers daar ontdek. Ek het ook op die mooiste leerstoel afgekom waarin ek my net wou opkrul en lees, maar daar was te veel boeke om te sien, te ruik en aan te vat,” sê sy passievol.

Greyling het gesê sy was so bang iemand kom en sê vir haar die winkelsentrum is toe en dat sy nie in die winkel mag wees nie, dat sy haar dogter, Leeanne Jonsson, gevra het om by haar te bly.

“Ek was so bang iemand vat my droom van my af weg. Ek het omtrent 30 boeke gekies en rustig op die bed gesit om te bepaal watter ek sou neem, maar ek het nie geweet watter om te vat en watter om te los nie.

“Dit was werklik een van die moeilikste besluite van my hele lewe. Ek het uiteindelik op ses besluit,” voeg sy by.

So is Exclusive Books, Hyde Park, vir Carina se oornagkuier Sondagaand ingerig, kompleet met twee bedkassies waarop familiefoto’s pronk.

Dié verrassing volg nadat ’n e-pos aan Exclusive Books gestuur is en die winkel van Greyling se wens ingelig is.

“Hoe kon ons mev. Greyling dié wens ontsê, veral aangesien ek en sy ’n verjaardag deel?” het Benjamin Trisk, uitvoerende hoof van Exclusive Books, gesê.

“Exclusive Books is bekend daarvoor dat hy sulke dinge vir spesiale klante doen. Ons het al gehelp met ’n hele paar verlowings wat in die winkel plaasgevind het en voel dat dit wat ons vir mev. Greyling gedoen het, bydra tot die algehele gees van ons handelsmerk,” voeg hy by.

Greyling het ook ’n terapeutiese kussing en R2 000 as geskenkbewys vir ’n slaapkonsultasie van Vencasa ontvang en ’n R1 000-boekgeskenkbewys om na hartelus in Exclusive Books te bestee.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.