Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Aanlyn musiek kos hom sy firma

Juanita du Plessis se seun Ruan Josh se platemaatskappy is bankrot en een van sy gefrustreerde skuldeisers is Coenie de Villiers.

Ruan Josh, Juanita du Plessis se seun en bestuurder van Wow Musiekverspreiders, wat onlangs gelikwideer is.

Wow Musiekverspreiders het die verspreiding gedoen van die CD’s van Juanita, haar kinders en verskeie ander kunstenaars.

Ruan (28), self ’n gewilde sanger en die hoofbestuurder van die onderneming, sê die maatskappy se probleme is veroorsaak deur ’n insinking in die musiekmark. Die verkope van fisieke CD’s het geweldig afgeneem omdat mense deesdae hul musiek eerder aanlyn luister of koop.

Vir Coenie is die maatskappy se ondergang ’n dubbele slag. Wow skuld hom geld én hy sit sonder ’n verspreider. Hy het “ ’n aardige bedrag” aan Wow betaal om sy nuwe CD, Pure Coenie, te versprei, sê hy. Ingevolge ’n skikkingsooreenkoms mag hy nie sê hoeveel dit is nie.

Ruan gaan hom in paaiemente terugbetaal.

Juanita du Plessis . . . haar en haar kinders se CD’s is deur Wow Musiekverspreiders versprei.

Coenie sê hy was salig onder die indruk dat die CD, wat in Junie verlede jaar uitgereik is, op die rak is, totdat aanhangers hom laat weet het hulle kan dit nêrens kry nie. Dit blyk toe Musica weier om Wow se produkte te verkoop omdat Wow húlle glo geld skuld. Coenie sê hy het ’n paar CD’s uit die winkels teruggekry, maar die momentum van die uitreiking is verby en al wat hy nou kan doen, is om dit by konserte en aanlyn van die hand te sit.

Hy sê hy voel baie jammer vir ander kunstenaars wat dieselfde bloutjie geloop het.

“Ek kan die skade absorbeer, maar nie alle kunstenaars kan nie.”

Coenie de Villiers . . . Wow Musiekverspreiders skuld hom “ ’n aardige bedrag geld”.

Lindie Delport van die groep Anders wat in 2018 ’n Ghoema gewen het vir hul gospelalbum, Bruid, sê Wow het ook hul CD versprei. “Ons het verkope gehad, maar nie al die geld gesien nie,” sê Delport.

Daar was kontantvloeiprobleme by Wow, “maar hulle was tegemoetkomend en het heeltyd met ons gesels”.

“Hulle is eintlik amazing om die gesprek die heeltyd aan die gang te hou,” sê sy. Anders het intussen ’n kontrak onderteken by die platemaatskappy Universal Music.

Joe Niemand, wie se CD’s ook deur Wow versprei is, sê hy het net respek en liefde vir die Du Plessis-gesin.

“Ek weet hulle het als gedoen wat hulle kon. Die digitale revolusie het gekom, en mense wat geld in musiek insit, is nie die mense wat die geld uitkry nie en mense wat die geld uitkry, is nie die mense wat dit insit nie. Google oorheers. Óf jy bestaan nie digitaal nie óf jy gee jou musiek verniet weg,” sê hy.

Ruan sê hulle het die afgelope week met die likwidateurs vergader. ’n Skuldeisersvergadering moet nog gehou word.

Hy sê hoewel daar ’n klomp skuldeisers is, is daar ook ’n groot klomp debiteure wat vir Wow geld skuld.

Ruan sê hy was desperaat om sy personeel in diens te hou en het daarom dalk te lank gewag voordat hy die maatskappy laat likwideer het.

Christian Music Distribution (CMD) versprei nou Ruan, sy ma en sy suster, Franja, se musiek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.