Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Aanvaar, en gaan aan met lewe,’ sê André Schwartz
André Schwartz en sy lieflinghond, Trudie.Foto: Verskaf’

Daar is sekere dinge wat nie gaan verander nie en al wat jy daaraan kan doen, is om jou gesindheid daaroor te verander. Hoe langer jy vat om daardie les te leer, hoe moeiliker maak jy die lewe vir jouself.

Dít is maar net een van die vele lewenslesse wat die Afrikaanse sanger André Schwartz deur die jare geleer het.

Ondanks al die uitdagings in sy lewe, maak hy steeds musiek en kyk vorentoe.

Sy splinternuwe enkelsnit, “Negentien September”, word Woensdag uitgereik.

Daarmee saam kom die teleurstelling oor die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) asook ander moontlike konserte wat weens die koronavirus-pandemie gekanselleer word.

“My happy place is op die verhoog, so dit is altyd vir my sad as daai soort goed uit my lewe is,” sê Schwartz, wat as die Phantom in The Phantom of the Opera bekend is. Motorneuronsiekte (MNS) is in April 2018 by hom gediagnoseer en hy was verlede maand weens septiese skok in die hospitaal. Maar steeds het hy nog geen konsert of vertoning misgeloop nie.

“Ek word nie teruggehou nie,” sê die sanger.

“Dit gaan regtig baie goed. Die tyd in die hospitaal was nie lekker nie, maar danksy goeie mediese sorg en ’n primêre goeie immuniteitstelsel kon ek die storie afweer.”

My happy place is op die verhoog, so dit is altyd vir my sad as daai soort goed uit my lewe is.

Ná sowat 25 jaar in die musiekbedryf is Schwartz en sy musiek steeds relevant.

Net verlede jaar nog het hy op die Ghoema-toekennings in die Sun Arena in Pretoria ’n ereprys vir lewenslange bydrae tot die musiekbedryf ontvang.

“As jy ouer word en jy het al soveel albums en ervaring agter die blad, is jou kennis en tegniese vermoë soveel meer. Maar wat wel gebeur, is dat jou vrese ook meer word. Aan die begin van jou loopbaan is daar nie verwagtinge nie, maar later in jou beroep is daar wel,” sê Schwartz in sy gesprek met Netwerk24 in vriende se huis in Johannesburg.

Konserte en KKNK vs. korona

Pres. Cyril Ramaphosa het Sondagaand weens die uitbreking van die koronavirus alle openbare saamtrekke van meer as 100 mense verbied.

Die bestuur en direksie van die KKNK het reeds voor dié aankondiging besluit om die fees in Maart in Oudtshoorn te kanselleer.

Dit is nog onduidelik waar die jongste aankondiging Schwartz se ander vertonings laat, maar hy sê dit het ’n enorme impak op alle kunstenaars wat teatergebonde is.

“Die president het dit duidelik gemaak dat ons nie konserte kan hê nie en ’n konsert het altyd meer as 100 mense. Ons weet nie eintlik waar ons nou staan nie. Ek het net gister ’n boodskap van my agent gekry om te sê hulle vergader met prokureurs en ons kyk waarheen ons gaan,” sê Schwartz.

“Ek wil sing vir 80 of ’n 100 mense, maar is dit verantwoordelik? Hoe meer verantwoordelik ons almal gaan wees, hoe gouer gaan dinge tot normaal terugkeer.”

’n Nuwe enkelsnit

Woensdag is egter ’n opwindende dag vir Schwartz met die bekendstelling van sy nuwe enkelsnit, “Negentien September”.

Dit was aanvanklik die temalied van ’n movie met dieselfde titel jare gelede. Die draaiboek is geskryf deur PG du Plessis en het gehandel oor ’n klein dorpie aan die Weskus waar ’n jong meisie op 19 September deur iemand in die gemeenskap verkrag is.

Ek wil sing vir 80 of ’n 100 mense, maar is dit verantwoordelik? Hoe meer verantwoordelik ons almal gaan wees, hoe gouer gaan dinge tot normaal terugkeer.

Kort daarna het die liedjie, geskryf deur Christa Steyn, ontstaan met die refrein “ek wil voor begin en oor begin en weer begin voor 19 September”.

Greta Jones het die lied gesing.

“Vir my is dit ’n besonderse lied met baie betekenis. Al was dit van toepassing op ’n vrou in spesifieke omstandighede, dink ek ons almal het 19 Septembers in ons lewens – dinge wat ons graag anders sou wou doen,” sê hy.

Schwartz het die lied saam met die musikant Stephan van Huyssteen verwerk en ’n moderne kleur gegee. Dié twee het koppe bymekaargesit en ’n “brug” geskryf, nadat hulle besef het daar is nie een nie.

“Die brug gaan daaroor dat tyd en vergifnis nie beperkinge het nie. Ons moet onsself daardie tyd van voor 19 September kan vergewe,” verduidelik Schwartz.

’n Tweede kans

Met sy MNS-diagnose het Schwartz vir homself gesê hy sal sorg dat hy ’n tweede kans kry.

“Ek het werklik sover as moontlik probeer om dit wat negatief is uit my lewe te kry. Ek meng nie met mense wat nie bydra tot hulself of ’n vriendskap nie,” sê Schwartz.

“Ek is ook glad nie meer so verslaaf aan my foon nie. Ek was deel van ’n bemarkingsmaatskappy en het myself daaraan onttrek, want dit was net te veel stres, en stres maak jou siek.”

Schwartz het ook die liefde van mense om hom ervaar wat hy nie geweet het bestaan nie.

Hy wil sy splinternuwe produksie, Die Pad, voor soveel gehore as moontlik opvoer. Met dié produksie neem hy die gehoor op reis deur sy lewe van kindsbeen tot nou.

“My werk is om positiwiteit en liefde te laat groei in my konsert.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.