Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Aanval op boere is aanval op ekonomie’

’n Aanval op ’n boer is so goed soos ’n aanval op die ekonomie, terwyl dié sektor noodsaaklik is vir die land se groei en herstel van die koronaviruspandemie.

Om dié rede het dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse LUR vir landbou, Dinsdag ’n beroep op die president gedoen om “ernstig in samesprekings te tree” oor landelike veiligheid en dringend met Agri SA en landbouverenigings te praat.

 Ivan Meyer
Dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse LUR van landbou. Foto: Malherbe Nienaber

“Dit is ’n kritieke tyd in Suid-Afrika en emosies loop hoog. Ons moet die land red en die landbou is noodsaaklik vir voedselsekerheid.”

Meyer het die middag met die leierskap van Agri SA en Agri Wes-Kaap in die provinsiale departement van landbou se kantore in Elsenburg, buite Stellenbosch, vergader.

Hy het benadruk dat die ekonomie nie sal kan herstel sonder die landbou nie, veral in die Wes-Kaap.

Veiligheid is ook een van die provinsiale regering se prioriteite vir die hersteltydperk ná die pandemie, saam met werkskepping en menswaardigheid.

Dit is ’n kritieke tyd in Suid-Afrika en emosies loop hoog. Ons moet die land red en die landbou is noodsaaklik vir voedselsekerheid.

Meyer het bekend gemaak dat sy departement vandeesmaand met ’n landelike veiligheidskantoor gaan begin.

Die departement monitor ook die hofsake wat met plaasaanvalle verband hou en staan hy borgtog aan vermeende aanvallers teen.

Al vyf van die Wes-Kaap se distrikte het veiligheidsplanne wat deur die munisipale rade goedgekeur is en geld is aan die distrikte toegewys vir kameras wat nommerplate afneem.

Meyer sê die landbou maak 11% van die provinsie se ekonomie uit en sy departement wil landbou-uitvoer met 5% laat groei om 90 000 nuwe werkgeleenthede in vyf jaar te skep.

Pierre Vercueil, president van Agri SA, sê daar is ’n paar dringende probleme wat opgelos moet word “as ons die land wil laat werk”.

Pierre Vercueil
Pierre Vercueil, president van Agri SA. Foto: Malherbe Nienaber

Hy sê dit is in sommige dele van die land gevaarliker om ’n boer te wees as om ’n polisielid te wees.

“Ons gaan dit nie oplos deur die reg in eie hande te neem nie. Veiligheid moet deur die polisie gehandhaaf word.”

Hy het beklemtoon dat daar samewerking tussen die regering, die georganiseerde landbou en boere moet wees en dat vertroue geskep moet word.

“Dit is ’n baie emotiewe kwessie, so ons moet dringend oplossings vind.”

Ons gaan dit nie oplos deur die reg in eie hande te neem nie. Veiligheid moet deur die polisie gehandhaaf word.

Volgens Vercueil is die Wes-Kaap “ver voor” wat die samewerking tussen die provinsiale regering en polisie betref.

“As jy kyk na die aanvalle en moorde in die Wes-Kaap en die res van die land, is dit nie vergelykbaar nie, maar julle het ook jul probleme. Dit is ’n voorbeeld van wat gedoen kan word.

Christo van der Rheede, nuutaangestelde uitvoerende direkteur van Agri SA, sê ekonomiese groei vereis ’n omgewing wat dit aanmoedig, beleidsekerheid en wedersydse respek, samewerking en vertroue.

Christo van der Rheede
Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA. Foto: Malherbe Nienaber
Onthou, dis nie net boere wat deur dié stryd in die gesig gestaar word nie. Dit is ook in Khayelitsha, Mitchells Plain en oor Suid-Afrika heen, so ons kort ’n omvattende oplossing vir veiligheid.

Agri SA is verbind tot samewerking met die onderskeie regeringsfere om groei, werkskepping en ’n inklusiewe sektor te dryf, sê Van der Rheede. “Sonder dié uitkomstes sal ons nie in staat wees om vrede en welvaart vir al ons mense te bied nie.”

Hy het daarop gewys dat die landbou ’n reusebydrae tot die land se ekonomie lewer en help om hongersnood te voorkom.

“Boere wat die inisiatief geneem het om in die gemeenskap uit te gaan en kos te skenk, het gehelp om onluste oor voedsel te verhoed. Dit sal steeds moeilik gaan, maar ons kan dit oorkom as ons kommersiële en kleinskaalse boere toelaat om dit te doen wat hulle die beste doen, naamlik om die nasie te voed.”

Van der Rheede het benadruk dat boere, ongeag van hul ras, veilig moet voel.

“Onthou, dis nie net boere wat deur dié stryd in die gesig gestaar word nie. Dit is ook in Khayelitsha, Mitchells Plain en oor Suid-Afrika heen, so ons kort ’n omvattende oplossing vir veiligheid.”

Veiligheid is noodsaaklik om beleggings te lok wat ekonomiese groei kan aandryf.

Volgens Van der Rheede is “goeie regering en visioenêre leierskap” van die lesse wat ander provinsies by die Wes-Kaap kan leer.

“Ons sien munisipaliteite wat nie goed bestuur word nie en die mense wat daaronder ly. As ons armoede en die historiese nalatenskap wil te bowe kom, moet ons goeie regering daarstel. Jy kan nie ’n situasie hê waar geld wat aan infrastruktuur en dienste bestee moes word, in mense se sak beland nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.