Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Aanval op werker: Tier wou glo by wyfie uitkom

Die noodlottige aanval op ’n werker van die Seaview-roofdierpark Woensdag is vermoedelik aangevuur deur die hormone van die Siberiese tier, wat by ’n wyfie in ’n aangrensende kamp wou uitkom.

Nadat die tier, Jasper, oor ’n heining van 3 m hoog geklim en David Solomon aangeval het, het hy by die aangrensende kamp ingespring en ’n tiermannetjie doodgebyt.

Die park het Donderdagoggend in ’n verklaring gesê Solomon, wat ten tyde van die aanval besig was om aan ’n elektriese heining by die kamp te werk, het sowat 15 jaar by die park aan die buitewyke van Gqeberha (Port Elizabeth) gewerk.

David Solomon (in die middel met die swart hemp), ’n werknemer van die Seaview-roofdierpark, is Woensdag deur Jasper, ’n Siberiese tier, in die park doodgemaak. Die foto is vroeër vanjaar geneem toe Jasper na ’n groter kamp geskuif is. Foto: Verskaf

Solomon het elke dier in die park geken en was ook by die dag by toe Jasper gebore is. “Hy was vir die personeel soos ’n familielid,” lui die verklaring.

Jo-Ann Meiring, wildbestuurder van die park, het gesê Jasper het in die voorval oor ’n heining van 3 m hoog geklim. Die park was Donderdag uit respek vir Solomon en die park se getraumatiseerde personeel gesluit.

Luidens die park se verklaring is die herstelwerk gedoen aan ’n heining by die kamp waar Jasper en sy suster, Jade, aangehou word. Die sibbe is vroeër vanjaar na die groter kamp in die park geskuif.

“Jasper het op die buitenste heining gespring en uitgeklim. David was ongelukkig in die gang tussen die kampe en het na die waterkraan geloop toe die voorval gebeur het.”

Solomon het probeer om teen die heining na veiligheid te klim, maar Jasper het hom afgepluk. Hoewel Solomon bytmerke opgedoen het, sê die park daar word vermoed dat sy nek dalk gebreek het toe Jasper hom van die heining afgeruk het.

Volgens die park het Jasper daarna by Judah en Amber, ook Siberiese tiers, se aangrensende hok ingespring en Judah doodgebyt.

“Die voorval met Jasper is ’n eerste vir die park en dit was natuurlik deur hormone (om by Amber uit te kom) aangevuur.”

Jasper, die Siberiese tier, in die Seaview-roofdierpark. Foto: Verskaf

Die park het tans geen planne om Jasper van kant te maak nie en meen hy is rustig noudat hy ’n kamp met Amber deel.

Kapt. Sandra Janse van Rensburg, polisiewoordvoerder, het gesê speurders van die Kabegapark-polisiekantoor het ’n geregtelike doodsondersoek na die voorval geopen.

Volgens die park het geen besoekers weens die voorval in onmiddellike gevaar verkeer nie. Die park is egter Woensdag ná die voorval ingevolge sy beleid onmiddellik gesluit en die besoekers is bygestaan om die park veilig te verlaat.

’n Veearts het Jasper en Amber verdoof sodat Solomon se lyk en Judah se karkas veilig verwyder kon word.

Die park het hul hartseer oor Solomon se dood uitgespreek.

“David se teenwoordigheid, grappe, bereidwilligheid om die jong vrywilligers te leer en sy algehele borrelende persoonlikheid sal so baie gemis word. Ons innige meegevoel word aan sy familie en nabye vriende oorgedra.”

Die park het ook die besoekers, wie se besoek Woensdag kortgeknip is, verskoning gevra en gesê al sy kampe se elektriese heinings is in ’n werkende toestand en die park is veilig vir toekomstige besoekers.

Ncedo Lisani, woordvoerder van die provinsiale departement van ekonomiese ontwikkeling, omgewingsake en toerisme, het nie onmiddellik op navrae oor ’n moontlike ondersoek na die voorval gereageer nie.

Meer oor:  Seaview-Roofdierpark  |  David Solomon  |  Tier  |  Aanval  |  Werker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.