Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Aarde kreun onder mense, mense, mense . . .

Die aarde kreun as’t ware onder die druk van ’n ontploffende bevolking. Optrede is nóú nodig, terwyl die wêreldbevolking op 7,6 miljard staan, sê die Trust vir Bedreigde Spesies (EWT).

Die EWT het Woensdag op Wêreldbevolkingsdag in ’n verklaring gesê die Verenigde Nasies (VN) voorspel dat as die huidige tempo van bevolkingsgroei voortduur, sal daar teen 2050 meer as 9,8 miljard mense op aarde wees.

“Selfs met die hulp van die beste tegnologie kan die aarde se hulpbronne nie in die vraag na dié groeiende wêreldbevolking voorsien sonder dat dit die natuurlike omgewing en menslike welstand ernstig benadeel nie.”

Die EWT het gesê hy doen ’n beroep op beleidmakers om ’n verband te trek tussen die huidige bevolkingsgroei en die natuurlike omgewing.

As die wêreld se bevolking teen 2050 meer as 9,8 miljard is, beteken dit daar gaan binne die volgende drie dekades 30% meer mense as vandag op aarde wees.

Afrika se bevolking gaan na verwagting toeneem teen ’n tempo van 1,5 keer die wêreld se gemiddeld.

Die wêreldbevolking het in 1800 op 1 miljard gestaan. Binne 150 jaar het dit byna vertienvoudig.

Die EWT beskou programme soos Population, Health and Environment (PHE) as noodsaaklik, omdat dit vroue bemagtig.

Hierdie geïntegreerde programme is spesifiek daarop gemik dat vroue self oor die grootte van hul gesinne kan besluit.

Die EWT meen interregeringsagentskappe, regerings, en nieregeringsorganisasies wat met bewaring, sowel as ontwikkeling, gemoeid is, behoort saam te werk om die “drywers” van die bevolkingsontploffing holisties te benader.

Dit integreer vroue se seksualiteit en hul gesondheid met bewaringsaksies en dit onderhou en bevorder hul toegang tot kos en water.

Die EWT wys daarop dat die mens 10 000 jaar gelede net 1% uitgemaak het van die totale gewig van alle gewerweldes op aarde. Die ander biomassa op aarde het uit wilde diere bestaan.

Vandag lyk die prentjie heeltemal anders: Wilde diere maak nou net 1% van die biomassa op aarde uit. Die res, 99%, bestaan uit mense, hul vee en troeteldiere.

“Hierdie wanbalans hou ernstige gevare in vir die volhoubaarheid van baie lewensvorme op aarde. Dit hou ook ’n ernstige gevaar in vir mense se lewensgehalte.”

Die EWT meen interregeringsagentskappe, regerings, en nieregeringsorganisasies wat met bewaring, sowel as ontwikkeling, gemoeid is, behoort saam te werk om die “drywers” van die bevolkingsontploffing holisties te benader.

Dit sluit in armoedeverligting en seksonderrig op skool. Terselfdertyd moet mense geleer word om minder te verbruik. Gemeenskappe moet ook geleer word om veerkragtig te wees vir sosiale, ekonomiese en klimaatsveranderinge.

Die EWT wys op twee mites wat uit die weg geruim moet word:

  • ’n Groeiende bevolking is noodsaaklik vir ekonomiese ontwikkeling; en
  • Deur tegnologiese ontwikkeling sal die mens ’n manier vind om die planeet se beperkte hulpbronne “te vermeerder”.
Die feite
  • Die Global Footprint Network het bepaal die mens verbruik tans 1,7 aardes. As dinge nie verbeter nie, sal die mens teen 2050 drie aardes nodig hê om voort te bestaan.
  • Weens bevolkingsgroei sal die hoeveelheid grond wat mense in ontwikkelende lande nou tot hul beskikking het teen 2050 met die helfte verminder.
  • 38% van alle landbougrond het reeds so agteruitgegaan dat dit onbruikbaar geraak het.
  • Meer as 4 miljard mense sal teen 2050 min of geen water tot hul beskikking hê nie.
  • Die globale vraag na energie sal binne 20 jaar met 30% toeneem wat tot ’n verdere agteruitgang van die aarde sal lei.
  • In ontwikkelende lande is sowat 776 miljoen mense ondervoed. Dit is nagenoeg een uit elke ses mense.
  • Afrika suid van die Sahara se vroue is tans die vrugbaarste in die wêreld. Elke vrou het na raming 5,2 kinders.
  • Daar is tans 1,8 miljard jong mense tussen die ouerdom van 10 en 24 in die wêreld. Dit is die meeste jong mense wat nog ooit op aarde geleef het. 90% van hierdie jong mense woon in ontwikkelende lande waar hulle meestal die grootste deel van die plaaslike bevolking uitmaak.
  • Suid-Afrika se bevolking het van 2002 met 1,17% tot 1,61% in 2017 gegroei. Sowat 16,7 miljoen kinders in Suid-Afrika is jonger as 14 jaar. Hulle verteenwoordig 30% van die land se totale bevolking.
  • ’n Diepgaande studie wat onlangs in Afrika suid van die Sahara gedoen is, het gewys 60% jong vroue en mans weet nie hoe om swangerskap te voorkom nie en 30% het nie geweet waar om voorbehoedmiddels te kry nie.
  • Die VN meen daar is 200 miljoen vroue in die wêreld wat swangerskap wil vermy, maar nie toegang tot voorbehoedmiddels het nie.

Meer oor:  Wetenskap  |  Navorsing  |  Aarde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.