Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Aasvoëlkop se ds. Jannie Malan (90) sterf
Dr. Jannie Malan.. Foto: Verskaf

Dr. Jannie Malan, ’n voormalige predikant van die NG gemeente Aasvoëlkop in Johannesburg, is Woensdagoggend in die ouderdom van 90 jaar in Pretoria dood.

“Hy het stil heengegaan weens ouderdom,” sê kol. Jan Malan, sy seun.

Hy het inwendige bloeding gehad en is in Huis Herfsblaar, ’n tehuis vir bejaardes in Pretoria, oorlede.

Malan het sy loopbaan as studenteleraar aan die Universiteit van Pretoria (UP) se NG gemeente Universiteitsoord begin.

“Daarna was hy ’n ruk lank verbonde aan die NG kerk Amersfoort, waarna hy lank by die NG kerk Krokodilrivier op Brits was. Hy het sy laaste jare as predikant by Aasvoëlkop deurgebring,” sê Malan jr.

Malan was van 1968 tot 1992 by die Aasvoëlkop- gemeente betrokke.

Ná sy uittrede het hy in Februarie 1992 aan Beeld gesê sy beroep is “die wonderlikste werk”.

“As ek weer kon kies, sou ek weer predikant word.’’

Malan was moderator van die Suid-Transvaalse sinode van die NG Kerk en het in verskeie kommissies en in die beheerrade van verskeie skole gedien.

Dr. Jannie Malan as predikant van die NG gemeente Aasvoëlkop in Johannesburg. Foto: Verskaf

In sy studentejare aan die UP was hy onder meer studenteraadsvoorsitter, primarius van sy koshuis en intervarsity-dirigent. Hy was ’n atleet en het ook eerstespanrugby gespeel.

Malan jr. sê baie mense sal sy pa onthou as die rasieleier aan die UP.

“Ek sal hom onthou as ’n dominee. Hy het geweldig baie mense se lewe beïnvloed. Hy het ook in later jare studente geëvalueer vir hul prakties. Hy het baie mense na die Here gelei.”

Malan word oorleef deur drie seuns, Jan, Dawie en Danie, asook ’n dogter, Lindi. Hy word ook oorleef deur vyf kleinkinders en een agterkleinkind.

Sy vrou, Gabs, is in 1999 dood.

“Hulle was absoluut sielsgenote. Sy was my pa se vreugde en ’n uitnemende vrou,” sê Malan jr. Hulle was sowat 50 jaar getroud.

Gabs het onbehandelbare maagkanker gehad.

Dr. Jannie Malan en sy vrou, Gabs. Foto: Facebook

Sy was jare lank voorsitter van die Vrouediens van die NG Kerk en stigterslid van die organisasies Kontak en Vroue vir Suid-Afrika.

Talle publikasies het uit haar pen verskyn, waaronder boeke oor Kommunisme en die Christendom en bekende troosboeke soos Van die Here ontvang, Die Here het geneem en Onder Sy vleuels.

Malan het in die laat 1980’s opslae gemaak omdat hy onder meer beweer het dat daar Satanistiese boodskappe op die Afrikaanse plaat, Voëlvry, was.

Hy word Dinsdag om 09:00 in die Pretoria-Oos-begraafplaas begrawe. Die begrafnisdiens volg om 11:00 in die gebou van die NG gemeente Queenswood.

Die publiek is welkom om die diens by te woon.

Meer oor:  Dominee  |  Sterf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.