Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
AB se babadogter kan hom dalk ‘uitboul’

Suid-Afrika se kolfkoning AB de Villiers kan moontlik die geboorte van sy eerste dogter misloop, sou die span vir wie hy in die Indiese Premierliga (IPL) uitblink in vanjaar se eindstryd meeding.

De Villiers en Danielle, sy vrou, se derde kind sal na verwagting op 11 November gebore word, terwyl die eindstryd van die IPL op 10 November in Dubai plaasvind, waar hy vir die Royal Challengers Bangalore (RCB) speel.

“Ek en my vroutjie het lank gepraat voor ek op toer gegaan het oor al die moontlikhede en verskillende maniere waarop die dinge kan uitspeel.

Danielle de Villiers, AB de Villiers se vrou, en hulle twee seuns, AB (5) en John (3), kan nie wag vir die nuwe babadogter nie. Foto: Instagram/Danielle de Villiers

“Ons het darem rustigheid en is bewus van die uitdagings, maar ons vat dit soos wat dit kom en glo en vertrou op die Here vir seën oor die volgende paar weke wat voorlê,” sê De Villiers.

Die egaar is reeds die trotse ouers van Abraham Benjamin, of AB (5) en John (3).

Hy is al langer as 70 dae weg van die huis af en sê hoewel die toer vreeslik lank is was daar al baie positiewe uitkomste.

De Villiers sê hy sien daarna uit om pa te word van ’n dogter.

“Ons is vreeslik opgewonde, maar om dan pa te wees van drie kinders is ’n groot voorreg en seën.”

AB de Villiers en sy vrou, Danielle, saam met AB (5) en John (3). Foto: Verskaf

Hy sê ook dat dit goed gaan met sy “hoogswanger vroutjie” en hy bly bid en vertrou vir die gesondheid van haar en hul dogter.

Die moontlikheid dat De Villiers vir die Proteas beskikbaar sal wees vir vanjaar se witbalkrieketwedstryde teen Engeland is volgens hom “vir eers op ys”.

Die tweedelige reeks teen die Engelse begin op 27 November in Kaapstad met die eerste van drie T20-wedstryde.

Die Protea-groep kom reeds middel November in die Kaap bymekaar.

Danielle de Villiers, AB de Villiers se vrou, en hul twee seuns, AB en John, is vreeslik opgewonde oor die koms van die nuwe baba. Foto: Instagram/Danielle de Villiers

“Ek het nog nie met Bouchie (Mark Boucher) of Graeme (Smith) gepraat nie, maar ek glo nie ek gaan in die een speel nie.

“Ek glo ons sal aan die begin van die nuwe jaar praat oor al die moontlikhede en die pad vorentoe,” sê hy.

Die Engelse toer bestaan uit drie T20-wedstryde wat daarna met drie eendagwedstryde gevolg word.

De Villiers het vroeër aan Netwerk24 gesê dat sy deur beslis oopstaan vir die Proteas, mits Boucher en Smith hom vir die span sou kies.

Danielle de Villiers, AB de Villiers se vrou, en hul twee seuns, AB en John, het groot pret gehad tydens ’n fotosessie. Foto: Instagram/Danielle de Villiers

Mnr. 360 skitter vanjaar in die IPL en is selfs deur Virat Kohli, spankaptein van die RCB, vir sy spel geloof.

“AB is die speler wat die grootste impak op die gang van IPL-wedstryde het.

“As hy (AB) na die kolfblad stap, kan jy maar weet jou kanse om ’n wedstryd te wen, ongeag in watter benarde posisie jy ook al is, word oombliklik verdubbel.

“Hy het nie sy gelyke nie.”

Meer oor:  Ab De Villiers  |  Suid-Afrika  |  Indië  |  Krieketbal  |  Krieket  |  Baba
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.