Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
'Ace-boek': Skok oor praatjie uitgestel is

’n Praatjie oor die boek Gangster State: Unravelling Ace Magashule’s Web of Capture is uitgestel sonder dat die uitgewer of die skrywer daarvan in kennis gestel is.

Penguin Books was Donderdag geskok nadat die Universiteit van die Vrystaat (UV) besluit het om die skrywer en ondersoekende joernalis Pieter-Louis Myburgh se praatjie onbepaald uit te stel.

Surita Joubert, woordvoerder van die uitgewer, sê dit is ’n skok dat die UV ’n praatjie gekanselleer het wat al so lank geadverteer word. “Hulle het dit gedoen sonder om ons of die skrywer in kennis te stel.”

Die universiteit behoort op te staan vir vryheid van spraak en die sekerheidsafdeling is tog daar om dié reg te beskerm.

Steve Connolly, besturende direkteur van Random House Struik-uitgewers, sê hulle dink die geleentheid is gekanselleer nadat die universiteit raad by sy sekerheidsafdeling ingewin het.

“Die universiteit behoort op te staan vir vryheid van spraak en die sekerheidsafdeling is tog daar om dié reg te beskerm.”

Connolly sê hulle het nog nie al die besonderhede nie, maar beskou die besluit as lafhartig.

Die geleentheid sou volgende Donderdag op die universiteitskampus in Bloemfontein plaasgevind het, maar Myburgh sê hy dink die universiteit het onder druk geswig nadat ’n groep ANC-ondersteuners gedreig het om dit met geweld te ontwrig.

Die skrywer sê hy het gehoor die geleentheid is gekanselleer toe ’n joernalis van die radiostasie OFM hom om kommentaar genader het.

“Hulle (die universiteit) probeer dit nou afmaak as ’n uitstel, maar volgens my is dit ’n kansellasie,” sê

Myburgh.

“Wat baie interessant is, is dat dit wil voorkom asof die ANC in die Vrystaat, of ’n groep met bande

na aan die ANC, deeglik bewus was daarvan.

“Dit is veral jammer dat só iets gebeur in ’n maand waarin ons wêreldwyd mediavryheid vier. Ons is

veronderstel om ’n land te wees waar die vryheid van die media sterk in ons stelsels ingebou is, maar

dit blyk nie die geval te wees nie.

“Ek voel baie sterk daaroor dat Suid-Afrikaanse skrywers die reg het om praatjies te hou en dat die publiek

die volste reg het om sulke gesprekke by te woon.

“Ons gaan beslis, net soos toe die V&A Waterfront in die Kaap besluit het om die boek se bekendstelling te

kanselleer, ’n plan B beraam.”

Lacea Loader, direkteur: kommunikasie en bemarking van die UV, het in ’n verklaring gesê die UV hou risiko- en dreigementassesserings vir alle geleenthede om die veiligheid van sy studente, personeel en infrastruktuur te verseker.

Alle risiko- en dreigement-assesserings is gegrond op die evaluering van alle inligting wat versamel is vir ’n spesifieke geleentheid, asook die gemeenskap waarin die universiteit funksioneer.

“Die assessering van die bespreking van Pieter-Louis Myburgh se boek is gegrond op ’n soortgelyke oefening wat gewys het die geleentheid kan ontwrig word en die UV, sy personeel en sy studente in gevaar stel.”

Loader sê hoewel die geleentheid na ’n tweede semester geskuif is, beklemtoon die universiteit sy verbintenis tot vryheid van spraak en moet die gebeure in ’n spesifieke konteks gesien word.

Sy sê die uitstel van die bespreking raak nie die bekendstelling en bespreking van die boek op die Vrystaat Kunstefees in Julie nie.

Die bekendstelling van Gangster State is ook in April in die V&A Waterfront in Kaapstad gekanselleer. Dié praatjie is toe na Groenpunt verskuif.

Meer oor:  Ace Magashule  |  Pieter-Louis Myburgh  |  Uitgestel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.