Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Advokaat hardloop marathons so lees-lees
Adv. Marukgwane Moremogolo, ’n regsadviseur vir Gautengse wetgewer, neem ’n blaaskans tydens die afgelope Twee Oseane-Ultra-marathon om ’n boek te lees. Foto: Verskaf

Wat begin het as ’n weddenskap vir ’n advokaat van Johannesburg om die Comrades-marathon te voltooi terwyl hy ’n boek lees, het nou tot ’n veldtog vir die bewusmaking van die belangrikheid van boeke en geletterdheid gelei.

Adv. Marukgwane Moremogolo, ’n regsadviseur vir die Gautengse wetgewer, het verlede jaar die laaste twee kilometer van die Comrades-marathon afgelê terwyl hy ’n boek lees om sy draf-en-boekklubmaat te wys dit is moontlik.

“Ons behoort aan die Fat Cats-drafklub, wat ook ’n boekklub is. ’n Persoon daar het my gewed ek kan nie die Comrades voltooi, terwyl ek ’n boek lees nie. So die laaste twee kilometers het ek begin stap, terwyl ek die boek, The Prison Letters of Nelson Mandela, lees. Toe skuld hy my ’n bier,” sê Moremogolo laggend.

Hy sê die reaksie wat dit op sosiale media ontlok het, het hom laat besef dat hy dalk die situasie kan gebruik om ’n liefde vir boeke en lees te help kweek.

Meer onlangs het Moremogolo op 20 April vanjaar in die 50ste Twee Oseane-ultra-marathon in Kaapstad weer opslae gemaak toe hy by die 44 km-merk van die marathon oor 56 km weer ’n boek begin lees het.

Die keer het hy The Zulus of New York deur Zakes Mda gelees.

“Ek is absoluut mal oor Zakes se boeke. Ek het ál sy boeke al gelees. Dié een het ek daardie Donderdag voor die marathon gekoop.”

Hoewel Moremogolo eers van plan was om die boek weer gedurende die laaste twee kilometer van die marathon te lees, het sy vrou hom reeds by die 44 km-merk met water en sy boek verras.

“Ek het op daardie oomblik sterk gevoel en besluit ek kan so ’n rukkie sit en lees terwyl ek water drink.”

Hy het 25 bladsye gelees voordat hy die eindstreep oorgesteek het.

Adv. Marukgwane Moremogolo lees ’n boek terwyl hy in die afgelope Twee Oseane-Ultra-marathon stap. Foto: Verskaf

Dié marathon het hom genoeg publisiteit gegee om met ’n veldtog te begin, waarmee hy hoop om 600 boeke, hoofsaaklik kinderboeke, in te samel wat gedurende Nasionale Boek-week in September aan minderbevoorregte skole uitgedeel kan word.

Sy liefde vir boeke het reeds as kind begin terwyl hy vakansietye saam met sy tannie, wat na hom omgesien het, by die huis was waar sy as huiswerker gewerk het.

“Die eienaars van die huis het altyd vir my boeke gegee om te lees. As kind was ek baie skaam en het nie veel gepraat nie. Maar deur die boeke kon ek na ’n ander wêreld ontsnap en terselfdertyd het my woordeskat uitgebrei. Dit het my uiteindelik genoeg selfvertroue gegee om deel van die skool se redenaarspan te word.”

Moremogolo hoop hy kan boeke skenk aan skole en kinders wat nie bevoorreg genoeg is om toegang tot boeke te hê nie, en hulle so help om te groei.

“Dit is baie belangrik dat kinders van jongs af begin lees, maar sonder die beskikbaarheid van boeke, gaan dit nie gebeur nie.”

Hoewel hy reeds ongeveer 400 boeke ingesamel het, gaan hy die veldtog voortsit deur in Junie aan sy vierde Comrades-marathon deel te neem – en ’n boek lees.

Dié keer sal hy reeds vanaf die middel van die marathon sy boek uithaal.

“Ek beoog om Sabata-Mpho Mokae se boek, Moletlo Wa Manong (wat in Setswana beteken, die fees van aasvoëls), te lees.

“Die boek is gebaseer op die korrupsie van vandag se dae.”

* Om boeke te skenk kan Moremogolo op sosiale media of per e-pos by moremogolo@me.com gekontak word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.