Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Af, af, af: Wittes word minder én ouer in SA

Die ouderdomstruktuur van die wit bevolking is vinnig besig om ’n sampioenvorm aan te neem weens die groot hoeveelheid jong mense wat die land verlaat en hul ouers wat in die land agterbly.

Daar is al hoe minder jong wit mense terwyl die aantal wittes bo die ouderdom van 69 toeneem.

Frans Cronjé van die Instituut vir Rasseverhoudinge sê die ouderdomstruktuur van die wit bevolking het ná 1994 soos ’n uurglas gelyk toe ’n groot gedeelte van wit mense tussen 20 en 40 die land verlaat het.

4,49 m. wit mense woon in Suid-Afrika. Die syfer daal elke jaar.

Die middelste en onderste deel van die struktuur het sedertdien al hoe nouer geword omdat die mense wat die land verlaat het se kinders oorsee gebore is en wit mense wat agtergebly het al hoe minder kinders het. Dít terwyl die oumas en oupas in Suid-Afrika aanbly.

Volgens Cronjé sou die ouderdomstruktuur onder wittes in Suid-Afrika normaalweg soos in Australië redelik plat gewees het as die sowat halfmiljoen wittes wat die land verlaat het agtergebly het.

Die grootste ouderdomsgroep onder wittes in die land is nou mense in hul laat veertigs, terwyl pasgebore babas die grootste ouderdomsgroep is onder swart en bruin mense.

Statistieke wat die afgelope week deur Statistieke Suid-Afrika (SSA) bekend gemaak is, toon die land se wit bevolking het van 2016 tot die middel van 2017 van 4,52 miljoen tot 4,49 miljoen gedaal. In 2010 was dit 4,58 miljoen.

Die land se totale bevolking het in dié tydperk met 900 000 toegeneem tot 56,62 miljoen.

51% van die bevolking is mans en 49% is vroue.

Swart mense is die grootste bevolkingsgroep (81%), gevolg deur bruin mense (9%), wit mense (8%) en Indiërs (2%).

Cronjé sê indien Suid-Afrika se ekonomie ’n suksesstorie was, sou die land se bevolkingsgroei ’n groot ekonomiese bate vir die land gewees het.

“Europese lande waarvan die bejaarde bevolking nie ondersteun word deur jong mense wat die ekonomie betree nie weens ’n daling in hul bevolkingsgroei, sal enigiets doen vir ’n bevolkingsgroei soos ons s’n.

Ongelukkig is ons in ’n situasie waar ons ekonomie weens swak politieke besluite benadeel word.
Frans Cronjé

wat beteken dat ons jong mense ’n politieke risiko geword het omdat daar nie vir hulle geleenthede is om ’n positiewe bydrae tot die samelewing te lewer nie,” sê hy.

Volgens Cronjé is daar egter “geen twyfel nie” dat Suid-Afrika meer as genoeg hulpbronne het om ’n bevolking van ’n honderd miljoen mense te kan onderhou.

“Verstedeliking is die oplossing vir ons bevolkingsgroei, solank as wat infrastruktuur geskep word om meer mense te kan onderhou.”

Volgens die sensusopname van 2011 het vroue in stedelike gebiede gemiddeld 2,4 kinders teenoor vroue in landelike gebiede wat gemiddeld 3,1 kinders het.

“Dit dui daarop dat mense in stede bloot deur hul kinders vervang word, terwyl mense in die platteland tot bevolkingsgroei bydra.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.