Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Afbreek van Steyn-beeld ‘laat wond wat nooit sal genees’

“Daar is ’n seerplek voor die hoofgebou van die Universiteit van die Vrystaat (UV) waaroor geen roof ooit sal groei nie.”

Dit is die reaksie van prof. Pieter Labuschagne, emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa, nadat die UV die beeld van pres. M.T. Steyn voor die hoofgebou die naweek afgebreek het.

Die ’wond’ voor die hoofgebou van die Universiteit van die Vrystaat (UV) waar die beeld van pres. M.T. Steyn gestaan het. Die beeld is Saterdag deur die UV afgebreek.

Hy verskil drasties van dr. Danie Langner, uitvoerende hoof van die FAK, wat gesê het dit is goed dat die Steyn-beeld na ’n veilige plek verskuif word.

Dit is ook tyd dat die beeld van pres. Paul Kruger van Kerkplein in Pretoria na ’n plek verskuif word waar dit veilig is, meen Langner.

Labuschagne, wat ook aan die UV studeer het, sê daar moet eenvoudig nie toegelaat word dat kulturele erfenis soos die Steyn- en Kruger-beeld na enklawes verskuif word nie.

“Ons kan nie ’n nasie word waar daar (nuwe) politieke enklawes is nie. Dit is eintlik ’n apartheidsenklawe, want jy skuif al die goed na plekke wat apart is van die samelewing.”

“Ek is ’n Suid-Afrikaner wat myself vereenselwig met die nuwe inklusiewe Suid-Afrika. Maar hierdie hele ding marginaliseer ons. As hulle my simbole eenkant toe stoot, stoot hulle my ook eenkant toe.”

Pres. M.T. Steyn se beeld word Saterdag met 'n hyskraan van sy voetstuk voor die hoofgebou op die kampus van die UV gelig. Hoewel 'n permit daarvoor uitgereik is, is die ooreenkoms met die Oorlogsmuseum, sy bestemde nuwe tuiste, nog nie afgehandel nie. Die museum is ook nie van die afbreek Saterdag in kennis gestel nie. Die UV is verantwoordelik vir die afbreek, vervoer en bewaring van die beeld en ook vir die oprigting daarvan by die museum.

Die afbreek van die Steyn-beeld het heftige reaksie onder oudstudente en akademici ontlok – baie meer as destyds met die begin van die proses om die beeld te skuif. Baie oudstudente sê hulle verbreek hul bande nou finaal met hul alma mater.

’n Personeellid het gesê die rektor, prof. Francis Petersen, sê die ruimte op die Rooiplein waar die beeld gestaan het, gaan ’n ruimte word van sosiale kohesie en nasiebou.

“Maar al wat ek sien, is hoe elke enkele ding wat vir die Afrikaners by die UV belangrik is, gekriminaliseer en gestroop word – terwyl ons steeds alles gee wat ons het om ’n verskil te maak,” sê die personeellid.

“Los liewer daardie ruimte oop en moet ons nie verder beledig of ’n vinger in die wond druk nie.”

Labuschagne sê die Steyn- en Kruger-beelde kan nie net weggeskuif word en hul naelstring met die politieke verbintenis met die plek waar hulle gestaan het, geknip word nie.

Die plaket wat op die beeld van pres. C.R. Swart was wat 'n paar jaar gelede deur betogende studente op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat afgebreek en verbrand is, lê ná jare steeds onder die boom wat langs die beeld was.

Die regte stap vir die UV sou wees om ’n beeld van Bram Fischer, ’n oudstudent en advokaat wat oudpres. Nelson Mandela in die Rivonia-verhoor verteenwoordig het, naas die Steyn-beeld te plaas.

“As jy nie jou voet neersit nie, skep jy ’n proses van nimmereindigende ellende. Volgende marsjeer hulle ook na die Voortrekkermonument om te eis dat al die simbole daar ook afgebreek word. Ek is ook deel van die land en dit is my simbole daardie – en duisende ander mense s’n,” sê Labuschagne.

Oor die geluide dat ander beelde soos dié van genl. Christiaan de Wet voor die Vrystaatse wetgewer in Bloemfontein óók verwyder moet word, sê hy ons moes nooit by daardie punt uitgekom het waar toegelaat is dat één beeld geskuif word nie.

“Dit is ’n skoonmaakproses waar hulle eenvoudig onverdraagsaam is en daar nie plek vir Afrikaners soos ek is nie. Ek is ’n Afrikaner met ’n eie kultuur en kan nie weggeskuif word na rakke agter in pakkamers soos waar die beeld van pres. C.R. Swart lê nie.”

Dr. Danie Langner wys daarop pres. CR Swart se beeld is nie in n pakkamer nie, maar is deur die Voortrekkers herstel en by die CR Swart terrein op die Doornkloof-kultuurplaas in die Vrystaat weer opgerig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.