Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Afgetrek terwyl sy vrou sterf

Hy wou net by sy sterwende vrou uitkom, maar toe trek verkeersbeamptes Arnold Tembo (70) af en gooi hom vir drie uur in ’n sel omdat hy te vinnig gery het.

Arnold Tembo Saterdag in sy huis in Athlone. Foto: Edrea du Toit

“Ek het soos ’n baba gehuil toe ek by die hospitaal kom en hoor my vrou het gesterf,” het Arnold die afgelope week vertel.

Hy en Joan (74) was 36 jaar getroud.

Arnold, van Heideveld op die Kaapse Vlakte, is vroeër positief vir Covid-19 getoets.

Joan was ook siek, maar haar toets was negatief. Sy is weens water op die longe in die Groote Schuur-hospitaal opgeneem terwyl hy tuis in afsondering gebly het.

Joan is later na die Lentegeur-rehabilitasiesentrum in Mitchells Plain oorgeplaas en sy en Arnold kon net telefonies gesels.

Joan Tembo het alleen in die hospitaal gesterf nadat haar man deur die verkeerspolisie in die tronk gegooi is. Foto: Verskaf

“Ek kon oor die telefoon hoor Joan was kortasem en ek was bekommerd,” sê Arnold.

“Verlede Woensdag (24 Maart) het ek vir die dokter gevra of sy kan huis toe kom. Ek het gedink dit kan help as sy by die huis was. Die dokter het gesê sy is kritiek. Hy het gesê haar hart is besig om te sterf en ek moet so gou moontlik by die hospitaal kom,” sê Arnold.

“Ek was buite myself. Ek het by myself gedink: ‘Nou moet ek gou maak.’ Op pad na die hospitaal het ek ’n gaping geneem wanneer ek dit gesien het.”

Toe trek twee verkeersbeamptes, ’n man en ’n vrou, hom af.

Arnold het probeer verduidelik sy vrou is sterwend in die hospitaal, maar hulle wou nie luister nie.

“Is jy ’n dokter?” het een gesê.

Hulle het hom geboei, na ’n polisiekantoor gevat en vir drie uur in ’n sel toegesluit.

Uiteindelik het ’n vriend hom daar kom haal. “Hy het drie keer vir my gesê om baie sterk te wees,” sê Arnold.

Hulle is reguit hospitaal toe.

“Toe ek deur die deure stap, het ’n vrouedokter na my toe gekom.”

Arnold het sommer geweet wat sy gaan sê. Joan is dood terwyl hy aangehou is.

Die dokter het hom ’n masker en kappie gegee om aan te trek en hom na Joan geneem.

“Ek kon sien my vrou het in die bed vir my gelê en wag,” sê hy al huilende. “Ek kan steeds nie vir jou sê hoe ek voel nie.”

Hy het die beamptes laat weet sy vrou het gesterf voordat hy by haar kon uitkom.

“As ek die soort mens was wat nie my vrede kon maak met God nie sou ek hierdie ouens gehaat het,” sê Arnold. “Die beamptes het opgetree of hulle nie omgegee het oor my vrou wat besig was om te sterf nie.”

Op Goeie Vrydag is hy alleen kerk toe.

Hy en Joan het altyd saam gesels wanneer hulle bed toe gaan, onthou hy. “Ek gaan dit mis. Die skrikwekkendste is om nou saans alleen in ons kamer in te gaan.”

Hy en Joan het twee dogters en twee kleinkinders.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, sê die senior staatsaanklaer het op humanitêre gronde besluit om Arnold nie te vervolg nie.

Meer oor:  Arnold Tembo  |  Joan Tembo  |  Spoed  |  Verkeersbeamptes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.