Die burgerregteorganisasie AfriForum het Dinsdag aangekondig dat sowel sy teenkorrupsie- as sy private vervolgingseenheid, albei onder die leiding van adv. Gerrie Nel, die saak van die Ndebele Vaaltyn-stam gaan hanteer. Die stam het reeds in 2014 strafregtelike klagte teen die Kanadese mynmaatskappy Ivanplats Myne Bpk. aanhangig gemaak het.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se private vervolgingseenheid. Foto: Deaan Vivier
Ivanplats behoort aan die miljardêr en mynmagnaat Robert Friedland.
Die strafregtelike klagte hou verband met beweerde onwettige mynbedrywighede, die oortreding van omgewingswetgewing en die onregmatige en oënskynlik kultureel oneerbiedige hervestiging van die stam se geskiedkundige voorvadergrafte.
Luidens 'n verklaring het Nel en 'n afvaardiging van AfriForum Dinsdag 'n besoek aan die betrokke gebied afgelê. Die afvaardiging het ook 'n besoek aan die operasionele gebied gebring as deel van die bevestiging van die klagte.
“AfriForum is in Maart 2017 deur lede van die stam genader omdat hulle bespeur het dat Ivanplats moontlik ongeregverdigde beskerming deur staatsamptenare geniet het. Ons oorweeg privaat vervolging om gelykheid voor die reg te verseker en om seker te maak dat die regsoewereiniteit seëvier,” sê adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se private vervolgingseenheid.