Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
AfriForum wil oorsee kla oor kwotas in skole-netbal

AfriForum glo die puntestate van netbalkeurders vir Gautengse skolespanne wat hy bekom het, gee hom ’n rede om deur internasionale organisasies rassekwotas in Suid-Afrikaanse netbal en ook ander sportsoorte te beveg.

Soortgelyke pogings het in die verlede misluk omdat AfriForum nie die nodige bewyse gehad het nie, het Kallie Kriel, hoof van AfriForum, Woensdag op ’n nuuskonferensie in Centurion gesê.

Kallie Kriel, hoof van AfriForum, en Henk Maree, hoof van AfriForum Jeug, Woensdag op ’n nuuskonferensie in Centurion. Foto: Christiaan du Plessis

Die burgerregteorganisasie het bekend gemaak dat hy die puntestate van die keurders vir Gautengse o.12- tot o.18-skolespanne bekom het. Dié puntestate wys glo dat 56 wit meisies, wat volgens die keurders se beoordeling op meriete gekies moes word, weens hul ras uit die spanne gelaat is.

AfriForum het reeds namens 13 van die meisies se ouers amptelik ’n klag by Netbal Suid-Afrika, Suid-Afrikaanse Skolenetbal en Gauteng Skolenetbal ingedien. Daarvolgens word onder meer geëis dat rassekwotas afgeskaf word en dat die benadeelde meisies skriftelike erkenning van Gauteng Skolenetbal ontvang dat hulle wel op meriete gekies moes word.

AfriForum het in sy klag aan die netbalinstellings aangedui dat as daar nie binne 14 dae aan sy eise voldoen word nie, hy ’n amptelike klag van rassediskriminasie teen Netbal Suid-Afrika by die Internasionale Netbalfederasie aanhangig sal maak.

Indien nodig sal die saak ook na die Internasionale Hof vir Arbitrasie in Sport geneem word, sê Kriel.

Volgens hom verbied die Internasionale Netbalfederasie se reëls, asook dié van die Internasionale Olimpiese Komitee en die Statebondspele-federasie, enige vorm van rassediskriminasie.

Hy het daarop gewys dat 42 swart meisies die Gautengse spanne op meriete gehaal het. Kriel meen ook hulle word benadeel omdat die kwota-etiket nou om hul nek hang.

AfriForum hoop om minstens ’n sterk hofuitspraak te bekom wat hy kan gebruik om rassekwotas in ander sportsoorte ook te beveg. Kriel sê internasionale sportorganisasies vir ander sportsoorte het nie “ ’n roete wat gevolg kan word” oor ras nie, maar netbal wel.

“Daarom, en ook die feit dat ons nou bewyse het, glo ons dat ons ’n kans het om teen rassekwotas op te tree,” sê hy.

Volgens Kriel poog Netbal Suid-Afrika en ander Suid-Afrikaanse sportorganisasies telkens om “rassediskriminasie” met ’n kwotastelsel te regverdig deur dit voor te hou as ’n poging om ongelykhede reg te stel. AfriForum se ontleding van die spankeuses van Gautengse skolespanne wys egter dat 49 van die 56 meisies wat gekies is, in gegoede skole skoolgaan wat oor goeie fasiliteite en afrigters beskik.

“Dit beteken dat die rassediskriminasie wat met spankeuses gepaardgaan net ’n suiwer poging is om ’n rasgedrewe ideologie te dien, en nie daarop gemik is om geleenthede vir arm kinders te skep nie, sê Kriel.

Hy beklemtoon dat hoewel AfriForum teen rassekwotas in sport gekant is, hy wel die ontwikkeling van arm leerlinge ondersteun wat uiteindelik op meriete gekies kan word.

Hy het daarop gewys dat 42 swart meisies die Gautengse spanne op meriete gehaal het. Kriel meen ook hulle word benadeel omdat die kwota-etiket nou om hul nek hang.

Meer oor:  Afriforum  |  Kallie Kriel  |  Skolesport  |  Kwotas  |  Transformasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.