Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Afrikaans is Groot hoor Vrydag MTN los borgskap

“Volgens ons bly die logo's op en die borgskap gaan voort.”

Só het Arnold Coleske, direkteur van Afrikaans is Groot (AIG), gereageer nadat MTN Vrydag op Twitter gesê het dat hy alle bande met AIG sny. Die maatskappy sê in 'n aangehegte verklaring  die besluit is geneem weens Steve Hofmeyr se betrokkenheid by die vertoning.

Die maatskappy is sedert 2015 ’n borg van AIG.

hofmeyr
Steve Hofmeyr Donderdagaand voor sy optrede by AIG. Foto: Jaco Marais

Volgens Coleske het die AIG-direksie eers Vrydag van hierdie verwikkeling te hore gekom. Kommunikasie is gevolglik aan MTN gestuur en oor hoekom hierdie besluit geneem is en waarom AIG nie in kennis gestel is nie.

MTN het reageer deur te sê die maatskappy wil sy betrokkenheid van die naweek se AIG-konserte in Kaapstad onttrek. “Ons kan volgende week bymekaarkom met betrekking tot ons toekomstige betrokkenheid,” lui ’n deel van MTN se antwoord.

Daar was reeds Donderdag- en Vrydagaand AIG-vertonings in die Grand Arena in die GrandWest Casino in Kaapstad. Daar sal Saterdag nog twee konserte wees en Sondag vind die laaste konsert plaas.

Handelsmerk

Jacqui O’Sullivan, hoof van korporatiewe sake by MTN, het by navraag gesê MTN wil deur sy handelsmerk en netwerk Suid-Afrikaners verbind en mense bymekaar bring, maar AIG se voortgesette verbintenis met Steve Hofmeyr help MTN nie meer om dié doel te bereik nie.

Die gewilde Afrikaanse sanger het in Oktober 2014 op Twitter gesê: “Sorry to offend but in my books Blacks were the architects of Apartheid. Go figure.”

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, het Donderdag hierop gereageer. Volgens hom is MTN se borgskap van ’n vertoning waarby Hofmeyr betrek word ’n belediging vir alle vredeliewende Suid-Afrikaners.

Lesufi het die maatskappy aangemoedig om sy AIG-borgskap te onttrek.

Onder die kunstenaars wat by AIG in Kaapstad optree, is Corlea Botha, Refentse, Elvis Blue, Jo Black, Theuns Jordaan en Snotkop.

“Afrikaans is Groot bly ’n musiek- en vermaaklikheidsplatform wat kunstenaars die geleentheid bied om hul talent ten toon te stel. Ons enigste doel is om musiek en vermaak vir die Afrikaanse gemeenskap aan te bied – iets wat alle kulture tog verdien.

“Hierdie platform is primêr geskep vir die getroue ondersteuners van Afrikaanse musiek, die publiek,” sê AIG in ’n verklaring.

Die platform verskaf volgens AIG ook inklusiewe werksgeleenthede vir kunstenaars, musikante, tegnici en ongeveer 300 personeellede van alles rassegroepe en demografieë.

O’Sullivan meen egter borgskappe is bedoel om te help om die beeld van ’n handelsmerk te verbeter en te bevorder en dit nie in oneer te bring nie: “en dit is die taak van die borgskapeienaars om die integriteit van hul platform te beskerm”.

“Ons het ons onttrek aan hierdie naweek se AIG-geleentheid en sal ons toekomstige reëlings met AIG in die komende week evalueer.

“Die groter rol van korporatiewe borgskappe is om ’n gevoel van kollektiewe eenheid te gee en ons besluit om ons aan hierdie naweek se AIG-gebeurtenis te onttrek, word genoodsaak deur die onenigheid wat deur net een persoon geskep word.”

Die groter rol van korporatiewe borgskappe is om ’n gevoel van kollektiewe eenheid te gee en ons besluit om ons aan hierdie naweek se AIG-gebeurtenis te onttrek, word genoodsaak deur die onenigheid wat deur net een persoon geskep word.

Hierdie besluit behels om alle MTN-advertensies wat die maatskappy aan AIG koppel, te onttrek. “Ons voel ons het korrek opgetree om dit te doen,” sê O’Sullivan.

Vermoede

Die direksie van AIG sê hulle vermoed egter die hele debakel is ’n strategie wat moontlik verband hou met die komende verkiesingsveldtogte van sekere groepe.

Volgens Coleske “bly die logos op en die borgskap gaan voort”, want AIG het geen amptelike kennisgewing van MTN oor sy onttrekking ontvang nie – behalwe die antwoord op sy navraag Vrydagoggend.

“Ons wag vir hulle om ’n amptelike riglyn te gee oor hul posisie, want ons het dit nie in ons besit nie.

“Ons is nog nooit op terme geplaas dat ons iets verkeerds gedoen het en in stryd is met ons ooreenkoms nie. Ons is ook nooit in kennis gestel dat hulle onttrek nie.”

Hy sê MTN het wel verlede maand gesê as gevolg van begrotingsbesnoeiing is hy besig om al sy borgskappe te heroorweeg – nie net die aan AIG nie.

“Daar was geen sprake van ’n Steve Hofmeyr nie. As hulle ’n probleem met Steve Hofmeyr het, moet hulle dit met hom bespreek.”

Luidens AIG se verklaring bly hul posisie dus “tot verdere kennisgewing onveranderd”.

“Ons sien uit na die res van die vertonings in die Kaap sowel as die komende konserte in Pretoria waarvoor daar reeds nagenoeg 100 000 kaartjies verkoop is.”

Hofmeyr het op sy Facebookblad net gesê terwyl hy in die son lê en boeklees, wagtend op die volgende konsert, "is daar glo die jaarlikse meltdown op sosiale media oor my deelname aan Afrikaans is Groot".

Hy het mense verwys na Afrikaans is Groot se verklaring oor die aangeleentheid.

* Coca-Cola het intussen op Lesufi se Twitter-standpunt gereageer en dit duidelik gemaak die maatskappy is nie een van AIG se borge nie. Die maatskappy borg wel Alternatief is Groot, waar Hofmeyr nie ’n kunstenaar is nie.

Meer oor:  Mtn  |  Steve Hofmeyr  |  Afrikaans Is Groot  |  Aig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.