Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Afrikaans is groter as AfriForum – Danny Titus

Die burgerregteorganisasie AfriForum is daarop geregtig om sy verhaal oral waar hy wil te gaan vertel. Afrikaans is egter veel groter as AfriForum.

So het dr. Danny Titus, uitvoerende hoof: korporatiewe aangeleenthede van die ATKV, Woensdag gereageer op AfriForum se onlangse besoek aan Amerika om internasionale steun te werf teen die onteiening van grond sonder vergoeding en plaasmoorde.

Dr. Danny Titus, uitvoerende hoof: korporatiewe aangeleenthede van die ATKV. Foto: Verskaf

Netwerk24 het ook met Titus gepraat oor die moontlikheid dat AfriForum se onlangse uitsprake ’n impak kan hê op beplande gesprekke tussen die Afrikaanse gemeenskap en pres. Cyril Ramaphosa.

Titus sê ingevolge die Grondwet is AfriForum heeltemal geregtig om sy verhaal te vertel waar hy wil.

“Afrikaans is egter baie groter as AfriForum omdat dit nie net aan ’n wit minderheid behoort nie. En AfriForum weet dit ook. Ek dink nie hy maak aanspraak daarop dat hy namens alle Afrikaanssprekendes praat nie.”

Titus sê die ATKV is deel van ’n breër groep Afrikaanse organisasies wat in die beplanningsfase is om gesprekke met Ramaphosa te voer oor onder meer die toekoms van Afrikaans.

Die benadering is om die Afrikaanse gemeenskap so omvattend moontlik te konsulteer om ’n verenigde en inklusiewe Afrikaans aan Ramaphosa voor te stel, sê hy.

“Die idee van ’n beperkte, verengde en ideologiese Afrikaans sal nie werk nie.”

Titus sê AfriForum se uitsprake moet daarom nie toegelaat word om die groter Afrikaanse gemeenskap van hul medelandsburgers te vervreem nie.

Hy verwys onder meer na die herrie wat Kallie Kriel, AfriForum se hoofbestuurder, onlangs ontketen het toe hy gesê het apartheid was nie ’n misdaad teen die mensdom nie.

Titus sê Afrikaanssprekende bruin en swart Suid-Afrikaners wat onder apartheid gely het, moet self hul kant van die saak stel.

“Hulle moet die volle verhaal vertel, want om roekeloos met die geskiedenis om te gaan, sal Afrikaans nie baat nie.”

Volgens Titus kan die vergadering met Ramaphosa daarom ’n gulde geleentheid vir die meerderheid Afrikaanssprekendes wees om Afrikaans op ’n nuwe wyse voor te stel as ’n taal van mense wat ook deel van die bevrydingstryd was.

Intussen het Lindiwe Sisulu, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, Dinsdag op ’n mediakonferensie by die parlement gesê AfriForum het die reg om steun te gaan werf vir enigiets wat hy wil, maar dat dit baie ontstellend is wanneer hy die situasie oordryf.

Meer oor:  Atkv  |  Afriforum  |  Dr. Danny Titus  |  Plaasmoorde  |  Afrikaans  |  Internasionale Besoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.