Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Afrikaans is mos steeds lekker, man

Wat is dan nou lekkerder as om jouself in Afrikaans uit te druk?

“Ons gaan nóú braai” is nie net iets wat Afrikaners graag sê en doen nie, maar Engelssprekendes gebruik dié sin net soos wat hy daar staan.

Jy jok mos vir jouself as jy nie dit erken nie. “Mos” – net so lekker woord eie aan Afrikaans. “Lekker” is ook net so lekker.

Hoe vertaal ’n mens “ons gaan nóú braai”, “mos” en “lekker” in ’n ander taal sodat dit sy kragtige betekenis behou?

Dit is net enkele voorbeelde van lekker Afrikaanse woorde.

En te danke aan die Covid-19-pandemie is daar nuutskeppings soos “rookhorries” en “tuinholler”.

Dink maar aan woorde soos ‘grendeltyd’. Daar is ’n toekoms vir Afrikaans, maar die voorwaarde is dat Afrikaanse mense dit sonder skaamte moet bly praat en gebruik en veral dat dit as onderwystaal behoue moet bly.

Afrikaans as ’n amptelike taal sal op 8 Mei 95 jaar oud wees.

Volgens dr. Theuns Eloff, voormalige uitvoerende hoof van die FW de Klerk-stigting, is Afrikaans nog perdfris en gesond en ontwikkel steeds.

“Dink maar aan woorde soos ‘grendeltyd’. Daar is ’n toekoms vir Afrikaans, maar die voorwaarde is dat Afrikaanse mense dit sonder skaamte moet bly praat en gebruik en veral dat dit as onderwystaal behoue moet bly. As daar nie meer Afrikaanse skole en universiteite is nie, loop Afrikaans gevaar om net ’n basiese gebruikstaal te word – sonder die sogenaamde ‘hoër funksies’ soos in drama, letterkunde en akademiese navorsing.

“Afrikaans is ’n lekker taal omdat dit voortdurend ontwikkel en oop is vir innovasie en verandering. Waarskynlik ook omdat dit soveel verskillende invloede gehad het en steeds het.”

Dan is daar ook baie Afrikaanse woorde wat Engelse mense ingooi – “lekker” is juis een daarvan.

Eloff se gunsteling-woorde in dié verband is “sommer”, “nogal” en “mos”.

Vir Sophia Kapp, senior taaladviseur by Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA), lyk dit asof Engelse mense graag in Afrikaans vloek.

“Daar is beduidende bewyse dat hulle Afrikaanse woorde gebruik wanneer hulle kwaad raak, soos ‘I’ll mos give you a klap’.

“Dan kom ons by daai drie-letter woordjie ‘mos’. Die woorde ‘mos’ en ‘immers’ kan nie in Engels vertaal word nie.

“Dit is hoekom Engelse taalgebruikers ‘mos’ in hul sinne inprop, want daar is nie ’n lekker woord daarvoor nie. Toe ek vir die onderwysdepartement gewerk het, het ons dit vertaal met ‘indeed’. Maar jy hoor sommer dadelik dit beteken nie dieselfde nie en is ook nie naastenby dieselfde register nie. Ons het dié lekker woord – ‘mos’ – in Afrikaans, want ons kan hom mos sommer enige plek indruk,” sê Kapp.

Volgens prof. Wannie Carstens, buitengewone professor in die Noordwes-Universiteit (NWU) se navorsingseenheid vir tale en literatuur in die Suid-Afrikaanse konteks, is Afrikaans vir Afrikaanssprekendes die taal waarin hulle gewoon mens kan wees.

En veral as dit uit die mond van een van ons ses kleinkinders kom.

“Hulle druk hulle die beste in die taal uit, doen alles wat hulle wil in die taal. Ook mense wat ná ’n lang tyd terugkom Suid-Afrika toe, vertel telkens hoe hulle Afrikaans gemis het omdat hulle soveel verloor as hulle nie die taal gebruik nie.”

Nuutskeppings in Afrikaans wat hy interessant vind, is “kieriekoshuis” vir ’n aftreeoord, “stoutstoel” vir “sin bin” in sport en “zombidans” vir rave.

Maar die woorde “ouma” en “oupa” is ongetwyfeld Carstens se gunstelinge in Afrikaans.

“En veral as dit uit die mond van een van ons ses kleinkinders kom.”

“Braai” is die eerste Afrikaanse woord wat by hom opkom van voorbeelde wat Engelssprekendes gebruik.

“Ek weet dat ‘now now’ vir ‘nou-nou’ in Engels voorkom. Net soos Engels Afrikaans beïnvloed, so beïnvloed Afrikaans ook vir Engels op verskeie vlakke soos woordeskat en grammatika.”

Afrikaans.com het onlangs met die publiek hande geneem om woorde te vind vir alles wat met Covid-19 verband hou.

“Grendelgriep” (’n Afrikaanse woord vir “cabin fever”), “grypkoper” (paniekaankope doen en voedsel opberg) en “ploeterpakkie” (die gemaklike klere wat jy slegs by die huis gedurende die inperking dra) is enkele van die inskrywings wat vir die #tuisinjoutaal-kompetisie ontvang en in die Cov-woordeboek opgeteken is.

Die ontstaan van Afrikaans

Prof. Wannie Carstens som die geskiedenis van die taal só op:

“Afrikaans het ’n drieledige herkoms, soos Carstens en Prof. Edith Raidt dit in die onlangse boeke Die storie van Afrikaans: uit Europa en van Afrika, dele 1 en 2 verduidelik het. Dit is vanselfsprekend ook in talle ander bronne gedokumenteer.

“Die ‘uit Europa’-deel dui op die Europese herkoms van Afrikaans: Van Hollanders wat reeds voor 1652 aan land gekom het in Suid-Afrika en met die Khoi kontak gehad het. Die Hollanders het later amptelik hierheen gekom en ’n kolonie gevestig (Jan van Riebeeck). Hulle is opgevolg deur heelwat ander Europeërs: Franse, Duitsers, Skandinawiërs en mettertyd ook mense uit ander lande.

“Die Hollandse dialek van die 17e eeu het die regeringstaal geword en almal het dit probeer gebruik, uiteraard nie noodwendig goed of reg nie.

Teen 1800 is al besef dat ’n nuwe taal aan die ontwikkel is.

“Teen 1795 het die Engelse gekom en die land met verloop van tyd onder hul beheer geplaas. Engels het die oorheersende taal geword en Hollands/Nederlands het ’n laer posisie ingeneem.

“Oor jare het die dialek onder invloede van ander sprekers van Europese tale wat hierheen gekom het, sprekers van Afrikatale (die Khoi-Khoin, Afrikastamme) en sprekers van Asiatiese tale (Oosterse slawe) algaande sy eie vorm begin aanneem en begin verskil van die oorspronklike Nederlandse taal.

“Teen 1800 is al besef dat ’n nuwe taal aan die ontwikkel is. Maar dit was hoofsaaklik ’n spreektaal. Met verloop van tyd het die verskille van Hollands meer geword en die taal het ook meer gevestig geraak onder die inwoners van die land.

“In die 19de eeu is pogings aangewend (met die stigting van die GRA in 1875) om die taal ’n skryftaal te maak en dit was sodanig dat die taal teen 1925 as amptelike taal naas Engels erken is.

“Daarna is Afrikaans gestandaardiseer (het dus funksies aangeneem om take mee te kan verrig: onderwys, godsdiens, ens.) en is die taal ook gekodifiseer (spelstelsel ontwerp, grammatika neergeskryf en woordeboeke saamgestel).

“Afrikaans is dus ’n taal met ’n veelkantige herkoms: Europa (die bande met Nederlands) is duidelik; Afrika (kontak met die Khoi-Khoi aan die begin en later met Afrikastamme soos die taal die land ingeneem is) en Asië (die slawe wat met hul tale hierheen gekom het).”

Meer oor:  Sophia Kapp  |  Theuns Eloff  |  Wannie Carstens  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.