Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Afrikaans onverwags bedreig

’n Eeu lank was Afrikaans die enigste voertaal van Onverwacht se swart Afrikaners, maar deesdae moet die taal ook in dié unieke gemeenskap baklei om sy plek.

Die mense van dié township 10 km van Cullinan, noordoos van Pretoria, is die nasate van swart mense wat saam met die Boere in die Eerste Vryheidsoorlog geveg het.

Arikaans- en Sotho-sprekers leer mekaar se tale by die kleuterskool op Onverwacht. Foto’s: Elizabeth Sejake

Hulle het met twee dinge uit die oorlog gekom: Afrikaans en die grond wat die Boere hulle gehelp het om te koop.

“Afrikaans is vir my soos moedersmelk. Dit is die eerste ding wat ek gehoor het toe ek gebore is. Dit bly die taal van my hart,” sê Frederick Bokaba (67), wat in die gemeenskap as “oom Boetie” bekend is.

“Ons verkies Afrikaans. Ons kinders, ons kleinkinders en ons agterkleinkinders praat almal die taal en die plakkers se kinders word ook Afrikaans geleer wanneer hulle hier intrek,” sê hy.

Die plakkers wat die laaste tyd Onverwacht toe stroom, is meestal Sotho-sprekend.

Ellen Maimela, ’n onderwyser aan die Onverwacht Primary School, sê die Afrikaanse karakter van die gemeenskap het die afgelope dekade verander weens die instroming van mense van die nabygeleë plakkerskampe.

‘Afrikaans is vir my soos moeders­melk’

Die laerskool was nog tot in 1997 Afrikaans, maar deesdae is dit parallelme­dium.

Sowat ’n derde van die skool se leerlinge se moedertaal is nog Afrikaans, sê sy.

Natasha Maartin, ’n juffrou by die Onverwacht-kleuterskool, sê die meerderheid van hul kleuters se moedertaal is Sotho en dan Afrikaans, maar die kinders leer gou om mekaar se tale te praat.

Vir Bokaba is Afrikaans sy trots.

“Daar is nie baie mense wat van ons gemeenskap weet nie, maar die mense wat ons ken, noem ons die swart Afrikaners,” sê hy.

Daar is verskillende stories oor presies hoe die gemeenskap ontstaan het.

Volgens sommige inwoners is hul voorouers as nátrekkers agter die Boere aan waar hulle saam met die Boere in die Anglo-Boereoorlog geveg het.

Bokaba sê weer sy voorouers het hier op die plaas gewerk.

Sy oupa het in die oorlog saam met die Boere geveg terwyl sy ouma en haar kinders as werkers agtergebly het en Afrikaans by die Boerevroue leer praat het.

Dina Khotega (79) en haar kleindogter Christenia Mackenzie voor hul huis.

Paul Kruger, president van die ou Zuid-Afrikaansche Republiek, het blykbaar belowe hy sou hulle grond gee as die Boere wen. Toe die Boere verloor, het hulle steeds hul bloedgrond gekry, al moes hulle glo hul gevaartoelae daarvoor gebruik.

“Ons vanne is tydens die apartheidsjare effens verander en ons is ereburgerskap gegee sodat ons die grond kon behou. Van daai tyd af is ons as Afrikaners hergebore. Ons praat in elk geval Afrikaans soos enige wit man. En ons kinders se kinders praat dit nog net só mooi,” sê hy.

Dina Khotega (79) vertel toe sy hier as ’n tiener by haar ouma kom bly het, het die mense nog steeds Kaaps-Hollands tussen die Afrikaans deur gepraat.

Hulle het toe die Bybel in Nederlands gelees en ook in Nederlands gebid.

“Afrikaans was die enigste taal wat ek geken het,” vertel sy.

Sy het eers Sotho geleer toe sy by ’n fabriek aan die Oos-Rand begin werk het.

Tuis praat sy meestal net Afrikaans.

“My gesin praat Afrikaans, my bure praat Afrikaans en omtrent almal hier verstaan Afrikaans. Dis net so hier en daar waar hulle my nie verstaan nie. Dan moet ek maar Sotho praat.”

Sy roep haar kleinkind.

“Wys vir hom wat se mooi Afrikaans ons praat,” sê sy vir haar kleinkind.

“My ouma is reg, ek praat ook vlot Afrikaans,” sê Christenia Mackenzie.

“Dis omdat my ouma my mooi in Afrikaans grootgemaak het,” sê sy.

Meer oor:  Taal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.