Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Afrikaanse letterkunde verloor 'n belangrike reisgids

Elsa Joubert, wat Sondag in die ouderdom van 97 dood is, was die reisiger van die Afrikaanse letterkunde, skryf Willie Burger in sy huldeblyk aan dié skrywer.

Dié foto van Elsa Joubert is in September 2018 geneem. Foto: Argief

“My lewe beweeg op die periferie van ’n bestaansvlak wat ek nie ken nie”.

Met hierdie sin begin Joubert se kortverhaal, “Agterplaas”. Sy was by uitstek ’n skrywer wat voortdurend bewus was van bestaansvlakke wat sy nie geken het nie, en wat dan, teen vrees en ongemak in, juis daardie bestaansvlakke ondersoek het.

Maar meer nog, sy het haar lesers telkens ook van ander bestaansvlakke bewus gemaak, hulle met dieselfde vrees en ongemak gevul en saamgeneem op haar reise na ander bestaansvlakke.

Sy was die reisiger van die Afrikaanse letterkunde. Haar eerste boeke was reisbeskrywings en Reisiger is die titel van die tweede deel van haar outobiografie. Die titels van minstens twee van haar belangrikste romans hou ook met reis (of swerf) verband: Die swerfjare van Poppie Nongena, Die reise van Isobelle.

Die slotsin van Joubert se eerste reisboek, Verste reis (1958), lui dat die verste reis wat ’n mens kan onderneem, “die reis is van mens tot mens, deur die hart”.

Dit is hierdie verste reis van een mens na ’n ander, deur die hart, wat telkens ook die leser van Joubert se werk aan die hart gryp. Die besef van verspeelde kanse, van die ontsettend baie maniere waarop hierdie reis van mens tot mens kan skeefloop, is waarskynlik verantwoordelik vir die sterk emosionele appèl wat Joubert se werk op lesers maak.

Die verste reis van mens tot mens lê ook aan die wortel van haar romans waarin die situasie van Europese afstammelinge in Afrika en die gevolge van hul vestiging in Afrika, ondersoek word.

Joubert beskryf in Reisiger ’n deurslaggewende moment op haar reis na Madagaskar. Sy vertel dat tydens haar reis ’n “afkeer” in haar opgebou het teen die mense om haar, “wat ek gemeen het barbare is” en dat sy “moeg, self vuil, ontnugter met die reis, in die volgepakte, lendelam bus,” bang vir haar eie veiligheid was: “Al wit mens tussen die rou swart mense”.

Reeds met haar debuutroman, Ons Wag op die Kaptein (1962), is Elsa Joubert gemoeid met dit wat ons deesdae dekolonisering noem, van hoe ’n Europese denkpatroon dit onmoontlik maak om Afrikaan te wees.Foto: Argief

Hierdie beskrywing van die mense om haar as “barbare” en as “rou swart mense” is tipies van die koloniale reisiger en van talle karakters in haar romans.

’n Reisiger wat op hierdie manier reis, kan nie die verste reis na ’n ander aflê nie, omdat die reisiger se eie kennis oor ander mense en plekke reeds by voorbaat as die waarheid aanvaar is.

Só ’n reisiger se hart is gesluit vir die bestaansvlak van ’n ander. Maar dan volg ’n keerpunt in Joubert se reis. Wanneer die baba van ’n tienerma in haar slaap teen Joubert trap, het sy ’n intense ervaring: “En toe ek besef wat dit is, val die bitter renons wat met my saamgereis het, weg. ’n Groot, diep gevoel van eenheid met haar, met die mense in die bus, met alle mense, alle lewe om my, vul my gemoed. Miskien is dit hierdie ervaring wat ek self uit die reis moes haal, wat ek vir altyd voor my sal hou, is dít wat ek gaan soek het of nog altyd aan die soek na is. Dié eenheid. Verby vrees.”

Die talle reise wat Joubert se karakters in roman ná roman onderneem, dwing ook die leser om verby jou eie vrees uit te reik na die ander, deur die hart. Die swerfjare van Poppie Nongena het byvoorbeeld op ’n tydstip waarin apartheid só doeltreffend toegepas is dat baie wit mense blind was van die bestaansvlak van hul eie huiswerkers, probeer om mense te dwing om verby die vrees en beheptheid met selfbehoud ’n gevoel van eenheid met ander te vind.

Kind word verraai

Elsa Joubert het anders as ander skrywers van haar geslag, deur Afrika en nie Europa nie gereis. Foto: Argief

Joubert is in 1922 gebore. Afrikaans is drie jaar later as amptelike taal erken. Haar lewensreis is van die begin af ten nouste gekoppel aan hierdie taal. Sy skryf in ’n Wonderlike geweld dat sy as klein meisie deur haar pa allerlei verhale oor die patriotte en die Genootskap van Regte Afrikaners vertel is, dat hy haar aangemoedig het om ook ’n patriot te wees en dat dit is wat sy haarself voorgeneem het om te wees.

“Haar pa is op al die komitees vir Afrikaans, het sy toe al geweet. Hy werk hard vir Afrikaans. Sy wil ook hard werk daarvoor, sy wil ook ’n skrywer van Afrikaans word. Sy wil ook ’n patriot wees.”

Haar “patriotiese” vorming in die Paarl is in haar eerste jaar op Stellenbosch voortgesit toe die studente voortdurend daaraan herinner is dat hulle die “room van die Afrikanerdom” is: “Rektors, professore, predikante het dit die afgelope week reeds van platform, van rostrum, van kansel uitgebulder; huismoeders in diskrete sitkamers beaam dit: ‘Julle is die room van ons volk, van die ganse Afrikanerdom.’ Veral sy as Paarliet, gebore en getoë in die wieg van die patriotte, Voortrekkerverkenner, Fakkeldraer, Ossewatrekker, Christelike voorbidder, suster van die gemeente, neem dit ter harte en is gedurig in die effense spanning om van die room van die Afrikanerdom te wees.”

Wanneer sy jare later haar verset teen Afrikanernasionalisme, voel sy soos ’n verraaier, asof sy met pyn iets van haarself moet prysgee: “Ek rou oor die dood van die kind van ses wat ’n patriot wou wees. Die kind van 16 met ’n brandende fakkel in haar hand wat haar wil uitgiet in die brandende olie vir haar volk. Die kind wat deur my verraai is.”

Dis omdat elke storie, ek meen ook elke gedig vir ’n digter, ’n persoonlike soektog is na ’n antwoord op wat jou pla.
Elsa Joubert

Die spanning tussen lojaliteit aan ’n taal, aan ’n groep mense aan wie sy met liefde gebind is aan die een kant, en haar weersin teen die onderdrukking en arrogansie en uitsluiting wat deur hierdie selfde groep mense gepleeg word, vorm uiteindelik die sentrale spanning in Joubert se skryfwerk.

In Reisiger skryf sy oor hierdie spanning: “Ek dink skrywers as mense, het hulle stories nodig. Dis nie vir geld of tydverdryf of wat ook al dat hulle so lank en so hard aan ’n stuk skryfwerk werk nie. Dis omdat elke storie, ek meen ook elke gedig vir ’n digter, ’n persoonlike soektog is na ’n antwoord op wat jou pla. Jy wil iets vir jouself opklaar, iets uitvind, ’n ondraaglike spanning in jou oplos.”

Natuurlik is daar vir Joubert ook ander spannings wat onderliggend aan haar individuele werke lê, maar dit is duidelik dat die spanning tussen ’n Afrikaneridentiteit en ’n kritiese standpuntinname van buite hierdie gemeenskap, ’n sentrale en deurlopende soektog na ’n oplossing in haar werk rig.

Vrou-alleen deur Afrika

Clementine Mosimane as Poppie Nongena in die rolprentweergawe van Elsa Joubert se roman. Foto: Melanie Cleary

Wanneer sy begin reis – uit die gemaksone van haar bekende Paarl-Stellenbosch-Kaapstad-omgewing – onderneem sy nie soos die ander skrywers van haar generasie reise na ’n kultureel “bekende” Parys om met die ná-oorlogse eksistensialistiese denke kennis te maak nie. Sy reis vrou-alleen deur Afrika: Tanzanië, Kenia, Soedan en vaar al met die Nyl af.

Sy verduidelik haar besluit om hierdie reis te onderneem, eerder as om haar pa se wens uit te voer om in Europa te gaan studeer, soos volg in ’n Wonderlike geweld:

“Dit is glad nie wat sy wil hê nie. Sy wil nie in die veiligheid van die akademiese sfeer wees nie. Haar pa begryp nog nie. Dit sal dieselfde patroon wees wat sy ken, kan haar pa dit nie insien nie, sy wil uitbreek uit die patroon, sy wil sien wat buitekant die patroon is, wie buitekant die patroon is.”

Reeds met haar debuutroman, Ons wag op die kaptein (1962), is sy gemoeid met dit wat ons deesdae dekolonisering noem, van hoe ’n Europese denkpatroon dit onmoontlik maak om Afrikaan te wees. Ook in Missionaris is die sendingreise van Aart van Lingen in ’n vasteland waar hy nie inpas nie, besig met ’n taak waarvoor hy nie opgewasse is nie, al glo hy in sy roeping en in goddelike goedkeuring van sy taak, ’n aangrypende reis wat ’n mens se eie tuisheid in Afrika bevraagteken.

Elsa Joubert se hande en Poppie Nongena se pasboek. Foto: Natalie Gabriels

Met Die Swerfjare van Poppie Nongena het Joubert waarskynlik die meeste bekendheid buite die Afrikaanse wêreld verwerf. Die roman is op die lys van 100 invloedrykste werke uit Afrika. Joubert het hiermee ’n bydrae gelewer tot die ontwikkeling van ’n nuwe genre in Suid-Afrikaanse letterkunde – ’n soort mengsel van navorsing, biografie en “getuienis” in romanvorm.

Sy het haar bevoorregte posisie gebruik om 'n stem te gee aan iemand wie se bestaan as mens eintlik ontken is.

Hermann Giliomee oor 'Poppie'
Die historikus Hermann Giliomee skryf in die verkorte weergawe van sy Die Afrikaners dat 'n gewone Afrikaanse familie hulle maklik met Die swerfjare van Poppie Nongena kon vereenselwig omdat hulle heel moontlik iemand soos Poppie as 'n huishulp in hulle huis gehad het. "Veertien jaar ná die boek se verskyning het Danie van Niekerk van die uitgewer gesê: 'Ek dink die boek het meer as enige ander Afrikaanse boek gedoen om Afrikaners tot inkeer te bring. Dit het nooit ophou verkoop nie.' "  

Om die bevoorregte posisie van buite te kritiseer is pynlik. Sy skryf in ’n Wonderlike geweld dat sy as klein meisie by haar grootouers se pastorie vreesbevange was vir ’n leeukop wat uit hout gekerf is en wat die handreling van die trappe uitgemaak het. Maar dat sy telkens daar verbygeloop het – opgewonde om die vrees uit te daag.

Sy het lewenslank aangehou om die onbekende uit te daag – ook toe haar wêreld al meer ingeperk geraak het, het sy tot op 94-jarige ouderdom in Spertyd daaroor bly skryf, steeds gemoeid met die spanning wat alleen deur vertelling opgelos kan word.

Sommige ander skrywers verwoord ook die spanning tussen Afrikanerwees aan die een kant en skaam wees vir my mense en wat hulle doen, aan die ander kant, sommige met meer woede en skaamte, ander met meer lojaliteit en trots.

Joubert neem ’n mens in haar oeuvre, veral in Die reise van Isobelle op ’n omvangryke reis deur die geskiedenis en ontstaan van hierdie spanning, soos geen ander werk nie. Sy wakker die trots aan en skeur dit weer pynlik los. Daarom bly Joubert ’n reisgids tot ’n ander bestaansvlak, deur die hart.

* Burger is hoof van die departement Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Poppie Nongena  |  Elsa Joubert  |  Afrika  |  Paarl  |  Stellenbosch
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.