Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Afrikaanse sprekers eie groot vyand’

Amsterdam. – Afrikaans en Engels gáán stoele omruil by die Universiteit Stellenbosch, is die naweek tydens die Festival voor het Afrikaans hier weer benadruk.

Dit is maar een vertakking van die taaldebat, naamlik die lot van Afrikaans in hoëronderwysinstellings, wat in verskeie lesings tydens die fees uitgelig is.

Die soeklig is ook geplaas op meertaligheid en Afrikaans se rol in so ’n opset. Oudpres. Nelson Mandela se bydrae om Afrikaans ook as versoeningstaal te vestig, is verder uitgelig.

Dié fees, waar die room van Afrikaanse teater, film en letterkunde aan ’n buitelandse gehoor bekend gestel is, het gister geëindig.

Dr. Michael le Cordeur, hoof van die departement kurrikulumstudies aan die Universiteit Stellenbosch (US), wat aan verskeie sessies oor Afrikaans deelgeneem het, het onder meer na die situasie op die Stellenbosse kampus verwys.

“Ná Junie vanjaar gaan die [US] ’n meertalige taalbeleid hê wat grootliks Engels gaan wees. Altwee tale, Afrikaans en Engels, gaan bly, maar Engels gaan eerste staan en Afrikaans tweede,” het hy gesê.

Regverdig teenoor swart studente en regverdig teenoor Afrikaans

Volgens hom sal die nuwe taalbedeling by die US “ ’n meer regverdige bedeling” wees.

“Regverdig teenoor swart studente en regverdig teenoor Afrikaans.”

Tydens ’n ander sessie het Le Cordeur gesê Afrikaans is nie werklik onder beleg nie, al word daar dikwels gehoor hoe die taal gaan uitsterf.

Hy het verwys na Afrikaans wat met nagenoeg 1 miljoen Afrikaanssprekendes gegroei het. Volgens hom dui dié syfer grootliks op swart Suid-Afrikaners. “Daar is nou ook meer variëteite van Afrikaans waaroor eienaarskap geneem word.”

Le Cordeur het wel toegegee Afrikaans is slegter daaraan toe sedert die dood van oudpres. Nelson Mandela. Hy het egter benadruk dit is nie net die taal nie, maar ook dinge soos sport en onderwys wat agteruitgaan. “Dit is simptomaties van die hele Suid-Afrikaanse samelewing wat ly onder die gebrek aan goeie leierskap.”

Betttina Wyngaard, Afrikaanse skrywer, het op haar beurt verskil en gesê Afrikaans is wél onder beleg – grootliks weens politieke druk. “Diegene wat nou beleid moet skep oor taal is dieselfde mense wat in 1976 betoog het teen Afrikaans. Dit is die harde werklikheid wat ons sal moet uitdaag.”

Volgens haar is Afrikaanssprekendes hul eie grootste vyand. Daar is die persepsie dat wit en Afrikaans gekoppel is. “Die mense wat die hardste vir Afrikaans veg en wat hof toe gaan of briewe skryf, is baie konserwatief en dan word daardie verbintenis tussen verkramp en Afrikaans gemaak. Dit is die verbintenis wat verbreek moet word.”

Wyngaard het die burgerlike organisasie AfriForum gekritiseer wat die hofgeding oor Afrikaans by die US betref.

''Die oomblik wanneer goed op mense afgedwing word, volg weerstand. Ons moet by die punt kom waar ons mense lief maak vir Afrikaans sodat hulle uit liefde kies om Afrikaans te praat.”

Volgens Anne-Marie Beukes van die Afrikaanse Taalraad word sake bemoeilik deurdat taal ’n polities gedrewe kwessie word, asook deur persepsies dat maatskaplike vooruitgang, soos goeie werksgeleenthede, slegs in Engels kan plaasvind.

Meer oor:  Bettina Wyngaard  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.