Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Afrikaner het nie geleer uit sy lyding in ABO – historikus

Die Afrikaner het nie geleer uit sy lyding in die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) nie.

Prof. Alex Mouton (regs) van Unisa Vrydag tydens vraetyd aan die woord op ’n byeenkoms van die geskiedeniskomitee van die Akademie vir Wetenskap en Kuns in Pretoria. Links staan prof. Fransjohan Pretorius, voorsitter van die geskiedeniskomitee. Foto: Sarel van der Walt

“Die onderdruktes het later die verdrukkers geword tot nadeel van die Afrikaner,” het prof. André Wessels, van die departement geskiedenis aan die Universiteit van die Vrystaat, Vrydag in sy opsomming van ’n simposium van die geskiedeniskomitee van die Akademie vir Wetenskap en Kuns in Pretoria gesê.

Die tema van die simposium was “Die Afrikaner onder druk, 1902-2020.”

Prof. Anne-Marie Beukes, uitvoerende hoof van die Akademie, het in haar verwelkoming gesê daar was te lank te min kritiese stemme in Afrikaner-geledere.

Waldimar Pelser, redakteur van Rapport, het gesê dit is onteenseglik so dat die Afrikaner onder druk is, en dit is goed dat daar ’n gesprek hieroor gevoer word.

Maar die grootste krisisse waardeur Afrikaners tans in die gesig gestaar word, bedreig ook ander Suid-Afrikaners, het Pelser gesê.

“Ons deel baie van ons probleme met ons landgenote.”

Die Afrikaners is nie die grootste slagoffers van die onvermoë van die ANC-regering nie.

“Swart mense in die landelike gebiede is baie slegter daaraan toe as ons.”

Pelser het ook gesê die Afrikaner moet nie bang wees om oor kulturele grense heen te beweeg nie.

Piet Cillié in sy dae as redakteur van Die Burger. Foto: Argief
Schalk Pienaar, eerste redakteur van Beeld. Foto: Argief

Op sy beurt het prof. Alex Mouton, ’n historikus verbonde aan Unisa, en ’n kenner van die Suid-Afrikaanse politiek in die 20ste eeu, gesê koerantredakteurs soos Piet Cillié (Die Burger) en Schalk Pienaar (Beeld) en talle ander se onthullings van ongeregtighede van apartheid het bygedra tot die ontwikkeling van ’n Afrikaner-gewete.

Volgens hom het dit die Afrikaners laat besef dat die behandeling van swart en bruin mense in dié tyd verfoeilik was. Dit was die ontwaking van die Afrikaner se gewete en die daaropvolgende bevraagtekening van die aanvaarde norme wat die hervormings onder oudpress. PW Botha en FW de Klerk wat die nuwe Suid-Afrika moontlik gemaak het.

De Klerk se toespraak op 2 Februarie 1990 – Sondag 30 jaar gelede – was gebaseer op die besef dat apartheid nie moreel regverdigbaar was nie.

“Ná 1948 (toe die Nasionale Party aan die bewind gekom en die apartheidsera begin het) het die Afrikaner enorme druk op homself geplaas met welvaart, gebaseer op selfsug en ongeregtigheid,” sê Mouton.

“Dít het die Afrikaner se internasionale beeld skade berokken en hom tot op die rand van selfvernietiging geneem.

“In daardie stadium is eenvoudig aanvaar dat Suid-Afrika aan die Afrikaner alleen behoort. In sy (die Afrikaner se) naam is erge sondes gepleeg.

“Maar deur die soeke na voortbestaan in geregtigheid het die Afrikaner homself gered.”

Paul Maritz, koördineerder van Solidariteit Jeug, het gesê hy is daarvan oortuig dat die Afrikaner gewoond is aan druk en goed onder druk funksioneer.

Die Afrikaner besef sy afhanklikheid van sy gemeenskap en hy neem soos oudpres. Paul Kruger in 1904 gesê het die goeie uit die verlede en bou daarop voort, het Maritz gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.