Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Afrikaners bou nou hul eie monumente in FAK-projek

Die FAK het begin met ’n projek om drie nuwe monumente te bou wat Afrikaners self met R50- en R100-note sal finansier, soos die Vrouemonument en die Steyn-beelde destyds in Bloemfontein gebou is.

Dr. Danie Langner (links), besturende direkteur van die FAK, se boek Hou koers oor dr. N.J. van der Merwe het as inspirasie gedien vir die nuwe bronsbeeld van die eerste hoofleier van Die Voortrekkers wat by die FAK se hoofkantoor in Pretoria ingewy is. Van links is Langner, prof. Danie Goosen, voorsitter van die FAK, en Jacques Müller, die beeldhouer. Die beeld se titel is Toekomsargitek.

Die drie beelde is: Die Penkop, wat dalk by Doornkloof in die Vrystaat opgerig gaan word; Sorg, wat ’n kampsuster in ’n konsentrasiekamp uitbeeld en wat 13 Oktober in Irene-kamp onthul word; en die N.J. van der Merwe-beeld wat Vrydag by die FAK se hoofkantoor in Pretoria onthul is.

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, sê die beelde word vir ’n nuwe generasie Afrikaners opgerig en kyk na die toekoms, nie na die verlede nie. Die FAK gaan egter nie hieroor met die regering in ’n geveg wees nie.

As beelde moet skuif, soos die M.T. Steyn-beeld van die kampus van die Universiteit van die Vrystaat (UV) moet skuif, doen hulle dit. Maar die klem is om nuwe beelde te bou en koerswysers vir die toekoms te skep waarop die Afrikaner trots is.

“Dit is ’n storie van hoop. Ons is steeds hier, ons gaan nie weg nie.”

Deurdat Afrikaners self geld skenk vir hul beelde, neem hulle eienaarskap van hul geskiedenis. Kinders kan dan eendag sê hulle was deel van die ontstaan van die beelde. Altesaam 1 300 kinders gaan die opening van die beeld in die Irene-kamp bywoon, waar 1 300 kinders dood is. Afrikaner-seuns word ook gesoek om die opening van die Penkop-beeld by te woon.

Die FAK het as deel van sy 90ste verjaardag ’n geskiedenisfonds bekend gestel met die doel om Afrikaner-geskiedenis te bevorder

Langner sê die fonds is nie ’n “teen-fonds” nie, maar ’n “vir-fonds”. Die doel van die fonds is die bevordering van Afrikaner-geskiedenis, die herstel en bewaring van bestaande Afrikaner-monumente, die bou van nuwe monumente om die geskiedenis te vier en die ondersteuning van gemeenskappe en kultuurorganisasies met geskiedenisprojekte in hul omgewing.

Die beeld van dr. N.J. van der Merwe met die titel Toekomsargitek is as deel van die 90ste verjaardag van die FAK by die organisasie se hoofkantoor in Pretoria ingehuldig. Hy was die eerste hoofleier van Die Voortrekkers, het die leuse “Hou koers” uitgedink en het die Bybel uit Nederlands na Afrikaans laat vertaal. Dit is een van drie nuwe monumente oor die Afrikaners wat die FAK gaan bou. Op die onthulling is dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK (links) en Theuns Stofberg, gewese Springbok-kaptein en die kleinseun van N.J. van der Merwe.

Dit sal ook die uitbou van die internetmuseum vir Afrikaner-geskiedenis behels, asook om by geskiedenisnavorsing, publikasies en konferensies betrokke te wees, om Geloftekomitees te ondersteun en die viering van belangrike Afrikaner-feesdae en geskiedkundige gebeure.

“Ons gaan nie teen die regering veg nie. Ons wil positief antwoord gee. Ons sal red wat ons kan red. As ons die M.T. Steyn-beeld moet skuif, skuif ons hom, maar ons wil ook bou. Waar ons monumente moet red of beskerm, doen ons dit, maar ons gaan nie daarby stilstaan nie. Ons gaan nuwe monumente bou.

“So ’n monument is Die Penkop. Daarmee wil ons sê die jeug moet trots wees op wat hulle is. As jy vandag opstaan vir jou land, beteken dit nie jy moet ’n geweer opneem nie. Maar jy sal dieselfde oortuiging, moed en dissipline moet hê as jy vandag opstaan vir dit wat vir jou saak maak.”

* Die N.J. van der Merwe-beeld is Vrydag as deel van die FAK se 90ste bestaansviering bekend gestel. Van der Merwe se kleinseun, die gewese Springbok-kaptein Theuns Stofberg, en sy nasate het dit bygewoon.

Van der Merwe was ook die eerste hoofleier van Die Voortrekkers.

Langner sê die naam van die beeld is Toekomsargitek.

“ ’n Verbeeldingryke toekomsargitek skep doelgeskikte, funksionele ruimtes wat oor tyd nie betekenis verloor nie, maar in waarde toeneem.”

Al is dr. N.J. van der Merwe vandag vir baie mense ’n onbekende naam en vergete held, dra sy nalatenskap steeds goeie vrugte. Ná sy voorstel in 1916 is begin met die vertaling van die Bybel uit Nederlands in Afrikaans. In sy tyd as hoof van die FAK het die FAK-Sangbundel die lig gesien en het die Sentrale Volksmonumente-kommissie as onderafdeling van die FAK begin met die beplanning en bouwerk van die Voortrekkermonument. Dit was ook hy wat aan Die Voortrekkers die leuse Hou koers gegee het.

Meer oor:  Doornkloof  |  N.J. Van Der Merwe  |  Irene  |  Afrikaners  |  Standbeelde  |  Fak-Projek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.