Agri SA het Donderdag in Bloemfontein sowat 15 ton varsprodukte aan plaaslike hulporganisasies geskenk om onder hulpbehoewendes te versprei.
Die inisiatief vorm deel van Agri SA se Surplus Voedselhulp-veldtog en geskied in samewerking met Yara Africa Fertilizer, Vrystaat Landbou (VL), die Mike Loutfie-stigting, die RSA Groep en die Mangaung-varsproduktemark.

Agri SA het Donderdag in Bloemfontein altesaam sowat 15 ton varsprodukte aan 14 plaaslike hulporganisasies geskenk. Foto: Tania Allen Photography
Die Mike Loutfie-stigting was Donderdag Agri SA en die hulporganisasies se tussenganger toe die kospakkies by die mark verpak en uitgedeel is.
Zani Kunz, uitvoerende direkteur van die Mike Loutfie-stigting, sê produkte van sowat R80 000 is by die mark gekoop en aan 14 hulporganisasies gegee.
Kunz sê dié produkte is van topgehalte.
Twee groentetonnels is ook in die stad opgerig om mense te leer om hul eie voedsel te produseer.
Sy sê die Mike Loutfie-stigting het al in onder meer Pretoria, die Vaaldriehoek en Polokwane kos vir die veldtog uitgedeel. In die komende weke sal Noordwes, Mpumalanga en die Noord-Kaap bedien word.
Volgens dr. Jack Armour, bedryfsbestuurder van VL, is sowat 750 kospakkies, wat elkeen byna 20 kg weeg, geskenk.
VL het tien van die begunstigde organisasies geïdentifiseer, sê Armour.

Van die groente wat geskenk is Donderdag binne die Mangaung-varsproduktemark in Estoire, Bloemfontein. Foto: Tania Allen Photography
Die meeste van die organisasies is met ’n ton varsprodukte – onder meer aartappels, wortels, beet, patats, tamaties en uie – by die mark weg.
Yara Africa Fertilizer het vroeër R1 miljoen tot die Surplus Voedselhulp-veldtog bygedra.
Torings van Hoop was Donderdag onder die begunstigdes.
Ds. De la Harpe le Roux van dié organisasie sê die produkte gaan handig te pas kom, aangesien daar nog daagliks Maandae tot Vrydae ’n sopkombuis by die Tweetoringkerk bedryf word. Woensdag het meer as 70 mense hier sop ontvang.
Die groente gaan gebruik word om die gevriesde sop wat op Mandeladag aan hulle geskenk is, te verdik. Van die varsprodukte sal in hul kospakkies gesit word, sê hy.