Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Agter slot en grendel: Hoe hanteer mense dit sover?

Dit is nou ’n bietjie meer as ’n week nadat pres. Cyril Ramaphosa die byna ondenkbare gedoen het en die land as te ware “toegesluit” het om die verspreiding van Covid-19 te stuit.

Hoe hanteer gewone mense die staat van inperking?

Telisa Smith (18), ’n matrikulant van Brits in Noordwes, erken dat sy bang is dat die uitbreking van die virus ’n negatiewe impak op die finale jaar van haar skoolloopbaan gaan hê.

Telisa Smith (18), ’n matrikulant van Brits in Noordwes. Foto: Verskaf

“Dit voel vir my asof ek nie meer ’n lewe van my eie het nie, asof iemand anders al die keuses namens my maak. Sosiale media is op die oomblik die enigste manier om uit te vind wat in my vriendekring aangaan. Om nie skool toe te kan gaan nie, bly ’n bekommernis,” sê Telisa, wat daagliks probeer om haar skoolwerk tuis te doen. Tussendeur die studies lei sy haar aandag af deur na flieks te kyk of musiek te luister.

“My boodskap aan ander matrieks is om ondanks die moeilike omstandighede by ’n roetine te hou en die beste van die huidige situasie te maak. Een van my wense is dat die president mense sal toelaat om minstens vir ’n uur per week uit hul huise te gaan om ’n bietjie in ’n parkie te gaan stap en sonlig te kry. Indien die inperking verleng word, wil ek ook meer tyd hê om vir die eksamen voor te berei,” sê Telisa.

Vir ds. Jaco Strydom, (47), ’n predikant in Villieria in Pretoria en leier van Echo-jeugontwikkeling, ’n geloofsgemeenskap wat verblyf en ondersteuning aan jong mense sonder ’n heenkome bied, is die inperking nie die slegste ding wat met hom kon gebeur het nie.

Ds. Jaco Strydom, ’n predikant in Villieria in Pretoria, besig om vir hom “ietsie aan mekaar te slaan” vir ’n ete gedurende die inperking. Foto: Verskaf

“Behalwe om na jong mense om te sien, is skryf ook ’n groot deel van my werk. Ek skryf maandeliks rubrieke vir publikasies en ’n klomp ander goed. ’n ‘Lockdown’ is nie die slegste ding wat met iemand soos ek, wat ’n klomp skryfwerk en admin het om in te haal, kon gebeur het nie,” lag Strydom.

“Ek dink ’n klomp mense wat vreeslik besig is, is skielik geforseer om tyd by die huis te spandeer. Vir my is dit ook nogal so. Ek sou hierdie drie weke baie van die huis af weg gewees het. Nou het ek geen keuse nie en dis wonderlik om heeldag my vrou, Marina, en ons twee dogters, Katinka en Mathilda, te sien.”

Vir hom gaan die jaar wat voorlê “erg vreemd wees. My vermoede is dat ondanks die vreemdheid daar ’n blywende sensitiwiteit onder mense gaan wees vir die moontlikheid van iets soos ’n nuwe pandemie, maar dat dinge tot ’n groot mate weer sal terugkeer na hoe dit voorheen was. Kerke sal dalk byvoorbeeld meer van digitale media gebruik maak, maar ek dink nie dit gaan fisieke kontak met mense vervang nie. Daar sal beslis weer eredienste wees, Bybelstudies, selgroepbyeenkomste, feeste . . . hopelik ook selfs ’n bietjie meer werklike saamleef, soos in die eerste prentjie van kerkwees in Handelinge waar almal alles gedeel het sodat niemand iets te kort gehad het nie,” sê Strydom.

Carlos Nunes, ’n liggaamsbouer van Alberton, werk tuis aan oefenprogramme om mense fiks te hou. Foto: Carlos Nunes Facebook-blad

Carlos Nunes, ’n professionele liggaamsbouer van Alberton wat sy brood en botter verdien deur mense in die gimnasium af te rig, glo dat dit nou belangriker as ooit is om aktief te bly.

“Stel vir jouself ’n doelwit om elke dag iets te doen. Trap fiets, doen opstote of gaan stap teen ’n vinnige pas agter in jou tuin. Dit is nie nodig om soos ’n Olimpiese atleet te oefen nie. Doen net iets wat jou hartklop laat versnel.

“Nie almal is so bevoorreg om ’n stel gewigte by die huis te hê nie, maar maak die beste van wat jy het. Waarop dit eintlik neerkom, is dat jy aktief moet bly, selfs al is dit net vir ’n paar minute elke dag.

“Gereelde oefening versterk nie net jou spiere nie, maar verbeter jou bloedsomloop en help jou ook om ontslae te raak van stres en depressie,” sê die 46-jarige Nunes, wat gedurende die inperking steeds oefen en eetplanne aanlyn aan mense verskaf om hul aktief en positief te hou.

Elize de Bruyn, ’n pensioentrekker van Bela Bela, hou haar besig met lees.Foto: Verskaf

Die sportdroogte op televisie dryf Elize de Bruyn (63), ’n pensioentrekker van Bela Bela in Limpopo, behoorlik die mure uit. “Dit is net asof daar nou nie iets op TV is waarna ek wil kyk nie. Ek hou gelukkig ook daarvan om boeke te lees en lees net nou so bietjie meer as voorheen.”

Sy het ook haar verjaarsdag verlede week net met haar man, Louis (62), gevier.

“Dit laat ’n mens net weer eens besef hoe kosbaar jou geliefdes is. Gelukkig kon ons darem ‘video call’, maar dit is nie dieselfde as om jou kinders ’n drukkie te gee of om jou kleinkind op jou skoot te tel nie,” sê De Bruyn.

“My hart gaan in hierdie dae uit na bejaardes in tehuise wat nou geen besoekers mag ontvang nie, en veral ook na mense wat daglone verdien en weens die inperking nie meer ’n inkomste kry nie. Ek dink ook aan mense in plakkerskampe wat in beknopte ruimtes moet bly en mediese personeel wat met hul onbaatsugtige werk blootgestel word aan die virus.”

Volgens haar moet mense die inperking nie as ’n straf beskou nie. “Kyk eerder na die positiewe! Kinders is nou by die huis met ouers wat na hulle omsien. Maaltye word nou weer self gemaak in plaas van om wegneemetes te kry. Suid-Afrikaners moet na die groter prentjie begin kyk en onsself en ons kinders gesond probeer hou,” sê De Bruyn.

Rick Smith, ’n prokureur van Pretoria-Oos, geniet ’n koppie koffie by sy werktafel by die huis.Foto: Verskaf

Toe Rick Smith, ’n 36-jarige prokureur van Equestria in Pretoria-Oos, die afgelope week die eerste keer uit sy huis gaan om kos te koop, het hy “soos ’n karakter uit ’n Mad Max-movie gevoel.

“Ek was gewapen met ’n bonkige oorjas, ’n paar dik handskoene en ’n masker, maar ook bly dat ek die moeite gedoen het om ’n groottoon buite my voordeur te sit!

“Ek dink die inperking is ’n wonderlike breek van die gewone roetine, want jy spandeer meer tyd aan die ander aspekte van jou lewe, wat jy dalk met al die gejaag verwaarloos het. Ek sien nou my vrou, Lizelle, en my seun, Owen, elke dag, wat meer is as net in die aande en naweke. Ek spandeer meer tyd by my huis en dink reeds aan maniere om dit geriefliker vir ons as gesin in te rig vir die dae van die inperking wat nog voorlê,” sê Smith.

Hy glo dat die ekonomiese nadraai van die pandemie die grootste uitdaging vir mense gaan wees om te oorkom. “Ondernemings staan stil en met ’n wêreldwye ekonomie is almal van mekaar afhanklik. Dit is ’n groot bekommernis wat aan ’n ieder en elk knaag, maar die mensdom is ongelooflik vindingryk en sal ook hierdie uitdaging te bowe kom,” sê Smith.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Inperking  |  Koronavirus  |  Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.