Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Ai, die bakleiery in Afrikaanse musiek!

Die Afrikaanse musiekbedryf is so klein en sy hou nie van ’n bakleiery nie, het Amanda Strydom gesê in die lig van die nuutste geveg in dié bedryf.

Hoewel die meeste sangers geen kommentaar wou lewer oor die hofgeding tussen die broers Arnold en Ewald Coleske se maatskappy Coleske Artists en die sanger Johan Vorster nie, sê Strydom sy hou nie van ’n bakleiery in die bedryf nie.

“Ek is nie ingelig genoeg om ’n mening te lug nie, maar ek hou nie van ’n bakleiery nie.”

Ewald (links) en Arnold Coleske. Foto: LISA HNATOWICZ

Strydom is nie gekontrakteer deur Afrikaans is Groot nie.

Van die ander kunstenaars, soos Elvis Blue en Theuns Jordaan wat wel betrokke is, wou nie kommentaar lewer oor die geskilpunt nie. Steve Hofmeyr het nie op ’n SMS-navraag gereageer nie.

Dit volg op berigte die naweek oor tweespalt tussen die Coleske-broers en Vorster, voorheen van Eden-faam en wat vir jare betrokke was by die Coleskes se Afrikaans is Groot-konserte.

Afrikaans is Groot (AIG) en ­Coleske Artists het die afgelope week ’n dringende aansoek in die hooggeregshof in Pretoria ingedien om die voormalige kreatiewe breine van AIG met ’n interdik te verbied om hul “intellektuele eiendom” soos kontrakte te gebruik, om beweerde onregmatige mededinging te staak en om ’n forensiese rekenaarspesialis te kry om data op ’n skootrekenaar te ontleed.

Vorster is vort as die uitvoerende vervaardiger van AIG.

Jacomien de Villiers, wat liedjieskrywers se regte bestuur en die produksiekoördineerder van AIG was, is ook weg – met ’n skootrekenaar.

Vorster en De Villiers het nuwe sakeplanne, onder meer ’n produksie met die naam “In Afrikaans” wat in Desember in Hartenbos begin.

Vorster meen daar is niks spesiaal aan AIG nie; trouens, daar is byna elke naweek iewers in Suid-Afrika ’n fees aan die gang.

Hy sê “sake-idees” of “sakemodelle” word nie ingevolge die Suid-Afrikaanse reg beskerm nie. Daar is geen wet wat hulle keer om met enigiemand anders te mee te ding nie. “Inteendeel, mededinging is in die openbare belang.”

Hy sê die musiekkonsert wat die Coleskes meen “soortgelyk” aan AIG is, “In Afrikaans”, is juis iets anders.

Johan Vorster

“AIG word as ’n ekstravaganza bemark, met dieselfde vertoning wat vir ’n paar aande in ’n geslote venue bymekaargesit word. ‘In Afrikaans’ is ’n kultuurfees waar verskillende kunstenaars elke aand opvoerings hou. Een van die aande is byvoorbeeld ’n aand waar bekendes Kersliedjies gaan sing. Op ’n ander aand is daar ’n modevertoning en ’n skoonheidskompetisie.

“In Hartenbos-tradisie gaan die vertoning vakansiegangers ’n ontspanne omgewing vermaak, juis die teenoorgestelde van die ekstravaganza wat AIG is.”

Die Coleskes voel dat die poel “klein” is wanneer dit by Afrikaanse musiek kom.

“Dit verg daaglikse inisiatief en deurlopende harde werk om ’n lewensvatbare besigheid ten opsigte van die musiekbedryf en uitvoerende kunste te kan onderhou.”

Dit is vir hulle duidelik dat Vorster AIG se werk wil namaak.

Die partye het ooreengekom dat Vorster en De Villiers nie enige dokumente, data of e-posse gebruik waarvan die eiendomsreg aan Coleske Artists behoort nie. De Villiers sal ook nie dokumente, data en e-posse wat op die skootrekenaar gestoor is wat deur die Coleskes aan haar gegee is, gebruik om enige van die respondente se sake te bevorder nie.

Meer oor:  Aig  |  Amanda Strydom  |  Afrikaans Is Groot  |  Bakleiery
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.