Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
AiG respekteer Steve se besluit oor Kaapstad-konsert

Die Afrikaans is Groot- (AiG) groep respekteer Steve Hofmeyr se besluit om hom aan dié konsert in Kaapstad te onttrek.

“Ná gesprekke met die AiG-direksie het ek besluit om terug te staan sodat die AiG-konsert in Kaapstad in 2020 wel kan plaasvind,” het Hofmeyr Woensdagmiddag op sy Facebook-blad aangekondig.

Dié konsert word in Maart by die GrandWest-casino gehou.

Steve Hofmeyr tydens ’n onlangse optrede in Pretoria. Foto: Deaan Vivier

Hy skryf hy doen dit in belang van sy kollegas en die groot produksiespan.

“Ek verstaan die enorme uitdagings in terme van infrastruktuur en koste en wat die verlies aan inkomste aan my medekunstenaars sal doen.”

Johan C. Venter, ’n bemarkingsbestuurder vir Coleske Artists en ’n woordvoerder vir die AiG, het Woensdag by navraag gesê hulle respekteer Hofmeyr se besluit en die feit dat hy begrip toon vir die uitdagings waardeur die AiG-span in die gesig gestaar word.

Hofmeyr sal steeds optree tydens die Pretoria-konserte in November 2019, asook die Somerfees wat op 28 Desember in Mosselbaai plaasvind.

Kaartjieverkope vir die AiG-vertoning in Kaapstad sal binnekort aangekondig word.

“Ek besef dat Sun International ons sy lokaal in die Kaap sal weier as ek nie die besluit neem nie.”

Hofmeyr skryf verder dit sal hom altyd grief dat geld, borge en politieke narratief “ons kultuur en ons kunste vandag voorskryf”.

“Ek ken nie daardie taal nie en ek het geen behoefte om dit ooit te leer praat nie. Ek buig nie die knie voor die haters van vryspraak nie en geen boikot sal my oor my volk se griewe maak swyg nie.”

Volgens Hofmeyr sal sy toere voortgaan.

Arnold Coleske, hoof van Coleske Artists, wat die vervaardigers van dié konserte is, het Woensdag beaam dat hy Hofmeyr se besluit respekteer.

Op die vraag of daar ’n ooreenkoms met Hofmeyr aangegaan is, en of hy steeds vergoed gaan word al tree hy nie in Kaapstad op nie, het Coleske geantwoord dat daar geen ooreenkoms is nie.

Netwerk24 het vroeër berig dat daar op senior vlak bevestig is dat die AiG-konsertreeks nie by GrandWest aanvaar sal word met Hofmeyr op die verhoog nie.

Sun International het voorheen gesê die AiG-konsert waarin Hofmeyr in November vanjaar in Pretoria optree, sal voortgaan weens kontraktuele verpligtinge.

Anthony Leeming, uitvoerende hoof van Sun International, het vroeër gesê hulle het regsadvies ingewin en is ingelig dat hulle nie kan weier om die gasheer vir die konsert in Pretoria te wees nie.

“Ons kan ook nie eis dat die organiseerder Steve Hofmeyr verwyder van die program nie,” het Leeming toe gesê.

Sun International het ook gesê hy sal in die toekoms beter beheer uitoefen oor watter tipe vertonings op sy verhoë plaasvind, “om die waardes van ons Grondwet, soos nierassigheid, geen diskriminasie en respek vir almal, te beskerm”.

Meer oor:  Steve Hofmeyr  |  Vermaak  |  Konsert
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.