Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Akademici skop vas teen regering, staan by prof. Gray
Prof. Glenda Gray. Foto: Argief

Verskeie akademici het hul stem op sosiale media dik gemaak teen ’n moontlike ondersoek na prof. Glenda Gray, president van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (MNR).

Van hulle is bekommerd oor die moontlikheid dat sodanige optrede teen Gray ’n boodskap aan akademici kan wees om eerder stil te bly oor belangrike kwessies.

Dit volg nadat dr. Anban Pillay, waarnemende direkteur-generaal van die departement van gesondheid, ’n ondersoek aangevra het na die optrede van Gray, wat ook in die ministeriële raadgewende komitee (MAC) oor Covid-19 dien.

Dr. Anban Pillay

Pillay het in ’n brief aan prof. Johnny Mahlangu, raadsvoorsitter van die MNR, gesê hy is bekommerd oor die klomp “valse aantygings” wat Gray teen die regering gemaak het. Hy het ook gevra dat ’n ondersoek na haar optrede gedoen word.

In die brief sê hy ook hy het verskeie oproepe gekry oor Gray se “optrede by die MNR in ander sake”, maar sal eers daaroor kan uitbrei sodra hy meer besonderhede gekry het.

Die brief van Pillay is gepubliseer deur Groundup, ’n joernalistieke nie-regeringsorganisasie.

Vroeër is berig dat Gray gesê het die MAC het nie veel insae in die regering se plan nie en ook dat die regering kenners se advies ignoreer.

Daar is ook berig dat Gray die regering se plan vir die uitfasering van die inperking as “onsinnig en onwetenskaplik” bestempel het.

Akademici steun Gray

GroundUp berig prof. Linda-Gail Bekker, ’n mediese navorser van die Desmond Tutu-MIV-sentrum, staan bankvas agter Gray en meen wetenskaplikes moet vryheid van spraak hê.

Sy sê verder Gray het belangrike punte “in die beste belang van die land” uitgewys en daar moet eerder samesprekinge volg sodat die beste pad vir die stryd teen die Covid-19-pandemie gevind word.

Prof. Adam Habib, visekanselier van die Universiteit van Witwatersrand, het op Twitter geskryf die MNR moet Pillay se versoek van die hand wys.

Habib sê in die tyd toe hy by die wetenskaplike raad betrokke was, het hy ook soms die regering openlik gekritiseer, maar hy is nooit betig of aan ’n ondersoek onderwerp nie.

Hy meen dié optrede is ’n boodskap aan wetenskaplikes om te swyg en nie hul mening te gee nie.

Dit is nie apartheid nie. Staak nou die afknouery. - Prof. Jonathan Jansen

Prof. Jonathan Jansen, verbonde aan die Universiteit Stellenbosch en voormalige rektor en visekanselier van die Universiteit van die Vrystaat, het in ’n twiet die ondersoek teen Gray beskryf as ’n “politieke aanval”, wat hy meen onaanvaarbaar is.

“As wetenskaplikes en politici, verskil ja. Maar geen politieke gesag, insluitend die (direkteur-generaal van gesondheid), het die reg om ’n geleerde te belaster en haar aan haar base te rapporteer nie. Dit is nie apartheid nie. Staak nou die afknouery,” lui sy twiet.

Siviwe Gwarube, DA-LP en woordvoerder oor gesondheid, het Saterdag in ’n verklaring gesê as die kenners wat aangestel is om die minister by te staan, verskil van die strategie van die regering en dan daaroor gekritiseer word, sal dit die land beroof van die geleentheid om die verskeidenheid van vaardighede te gebruik wat beskikbaar is.

“Die werk van die (departement van gesondheid) was tot nou grootliks prysenswaardig. Maar as kundiges beswadder word omdat hulle nie ’n strategie van die staat ondersteun nie, kom die geloofwaardigheid van die hele strategie in gedrang,” lui Gwarube se verklaring.

Sy benadruk die regering se reaksie op die pandemie moet gegrond wees op wetenskaplike en gesondheidsdata.

Lwazi Manzi, woordvoerder van dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het Saterdag aan Netwerk24 gesê die minister gaan niks meer sê as die verklaring wat hy reeds oor die kwessie uitgereik het nie.

In die verklaring die afgelope week het Mkhize gesê Gray se kritiek op die regering se benadering tot die uitfasering van die staat van inperking, is van alle waarheid ontbloot.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.