Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Akademici teken petisie teen Ernst Roets se video

Ernst Roets, adjunkhoof van AfriForum, se uitlatings oor akademici kom neer op haatspraak en daarom is ’n petisie daarteen onder akademici begin, sê prof. Amanda Gouws, dosent in politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch.

Sowat 71 akademici het teen Sondagmiddag die aanlyn petisie onderteken.

Prof. Amanda Gouws, dosent in politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch.Foto: Argief
Prof. Elmien du Plessis
Prof. Joan Hambidge, ’n bekende digter en professor in Afrikaans en kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad.Foto: Argief
Prof. Christi van der Westhuizen, medeprofessor in sosiologie aan die Universiteit van Pretoria (UP).Foto: Argief

Gouws, wat die petisie vroeër vandeesweek geïnisieer het, sê alle akademici behoort saam te staan teen Roets se uitlatings oor akademici in ’n video van 31 minute lank wat hy sowat twee weke gelede op YouTube geplaas het.

Roets het die video gemaak na aanleiding van prof. Elmien du Plessis, medeprofessor in regte aan die Noordwes-Universiteit, se kritiek oor onder meer AfriForum se statistieke oor plaasmoorde en grondonteiening.

Lees meer oor Du Plessis se kritiek hier.

Roets het in sy reaksievideo onder meer ’n aanhaling van die Joodse skrywer Victor Klemperer gelees: “But I would have all the intellectuals strung up, and the professors three feet higher than the rest; they would be left hanging from the lamp posts for as long as was compatible with hygiene.”

Dit is na aanleiding van hierdie aanhaling dat die petisie begin is.

Gouws sê dis tyd dat AfriForum besef dat ons in ’n deelnemende demokrasie leef waar verskeie uiteenlopende menings uit verskeie oorde van die samelewing geopper word.

Volgens Gouws is die doel van die petisie om Du Plessis te ondersteun en om standpunt in te neem teen dit wat Roets gesê het.

“As jy ontevrede met ’n medelandsburger se argument is, dan is jy welkom om die argument aan te vat. Dis onnodig om in reaksie aanhalings te lees wat impliseer dat die persoon waarmee jy verskil, gehang moet word.”

Roets sê hy weet nie veel van die petisie nie, behalwe dat die “outeurs van die petisie klaarblyklik nie verstaan hoe haatspraak werk nie”.

“Hulle het egter die volste reg om so ’n petisie te dryf en ons al aanhou veg vir hulle reg om dit te doen,” sê Roets.

Roets het vroeër gesê ’n mens sal “intellektuele gimnastiek” moet toepas om dié aanhaling as ’n dreigement te interpreteer.

Hy sê dit is beslis nie ’n dreigement of haatspraak nie en dat die aanhaling uit konteks gesien word. “Dit gaan daaroor dat ons veldtog nie afhanklik kan wees van die goedkeuring van progressiewe akademici nie.”

Prof. Christi van der Westhuizen, medeprofessor in sosiologie aan die Universiteit van Pretoria (UP), is een van die akademici wat die petisie onderteken het.

Van der Westhuizen sê sy het dit onderteken omdat daardie aanhaling neerkom op haatspraak en gevolglik tot aanhitsing tot geweld.

“Ons wil ’n oop gesprek in ons samelewing hê. Ons wil nie hê mense se monde moet gesnoer word omdat hul bang is dat hul slagoffers van geweld gaan word nie.

“Dis ’n aanval op Du Plessis, maar dis ook ’n dreigement wat aan akademici gerig is. Akademici word nou ondermyn omdat hul moeilike vrae vra en nie net inval by wat AfriForum aan die samelewing voorstel nie,” sê Van der Westhuizen.

Prof. Joan Hambidge, ’n bekende digter en professor in Afrikaans en kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad, sê sy het ook die petisie onderteken.

“Ek het die petisie onderteken omdat ek dit aanstootlik vind dat enige vorm van kritiek op ’n dreigement uitloop.

Du Plessis maak ons bewus van die feite versus histerie. Uiteraard is almal teen geweld, plaasmoorde, aanrandings, en wat nog, maar enige teenstem of ander stem moet ook gehoor word,” sê Hambidge.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.