Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Aktivis glo afgedank omdat hy boere ondersteun
Petrus Sitho (39) het Vrydag simbolies in boeie met boere gepraat oor plaasaanvalle. Foto: Anena Burger

’n Aktivis teen plaasaanvalle wat boere Vrydag in Senekal ondersteun het, is deur sy werkgewer afgedank.

Petrus Sitho (39) het in Senekal sy hande en voete simbolies geboei en gesê boere word al vir 26 jaar onderdruk.

Hy het ook saam met ’n groep burgerlikes na Senekal se middedorp geloop en was in die voorste ry om standpunt in te neem teen die EFF en om sy stem oor plaasaanvalle te laat hoor.

Sitho sê hy was verpletter toe sy werkgewer hom vandeesweek afgedank het omdat hy teen die geweld op plase en teen boere opgestaan het.

“Hy het my in koerante, op televisie en sosiale media gesien praat en gesê ek ondersteun die boere. Ek was eers verskriklik hartseer, maar het besef dat hy nie verstaan hoekom ek dit doen nie.”

Hy het vir sy werkgewer gesê hy beywer hom nie net vir wit mense nie, maar vir alle boere in Suid-Afrika, ongeag kleur, ras of agtergrond.

“Die boere moet voedselsekerheid bewerkstellig. As hulle vermoor word, gaan daar nie kos op een van ons se tafels wees nie. Dit maak nie saak wie jy is of wat jou velkleur is nie, jy gaan honger ly.”

As boere vermoor word, gaan daar nie kos op een van ons se tafels wees nie. Dit maak nie saak wie jy is of wat jou velkleur is nie, jy gaan honger ly.
Petrus Sitho

Sitho is in die Vrystaat gebore, maar woon en werk die afgelope paar jaar in Oos-Londen.

Hy het reeds in 2018 ’n memorandum oor plaasmoorde aan pres. Cyril Ramaphosa gestuur waarin hy gemaan het dat die tendens gepak en gestop moet word.

“Dit is wreed en dit is uiters nadelig vir ons ekonomie. Ons moet ons boere beskerm. Alle boere,” sê Sitho.

Al het sy afdanking as ’n skok gekom, is hy steeds positief en hou hy voet by stuk dat hy sal voortgaan om boere te ondersteun.

“Ja, dit gaan nou baie moeilik gaan. Ek en my familie gaan sukkel.

“Ek het ’n huis om te betaal en ons gaan moontlik uitgesit word omdat ek my werk verloor het, maar God het hierdie ding op my pad gestuur. Hy het my gewys dat ek vir my land en vir alle Suid-Afrikaners moet veg – en dit is wat ek gaan doen.”

Sitho het ook Woensdag aan Netwerk24 gesê dat hy erg geskok is oor die brande wat duisende hektaar weiding en plase in die Vrystaat en die Noord-Kaap verwoes het.

“Ek kan nie glo dat betogers hierdie brande veroorsaak het nie. Ek wil graag met daardie mense praat en vir hulle sê om nie sulke dinge te doen nie.

“Dit is nét sleg vir die land en sy mense en dit doen niemand goed nie. Die mense moenie na (Julius) Malema luister nie. Hulle moet hulle nie laat beïnvloed deur die goed wat hy sê nie.”

Sitho wou nie die naam van sy werkgewer bekendmaak nie, daarom kon die werkgewer nie om kommentaar bereik word nie.

Meer oor:  Senekal  |  Aktivis  |  Boere
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.