SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Algemeen
Aktivis Randolph Vigne (87) oorlede
James Randolph Vigne Foto: bookslive.co.za

Kaapstad. – ’n Suid-Afrikaanse anti-apartheidsaktivis en skrywer wat destyds na Brittanje gevlug het, is Sondag in ’n hospitaal daar oorlede.

James Randolph Vigne (87) het in Canterbury, Engeland, gesterf, sowat drie weke voor sy 88ste verjaardag.

Hy was in die 1960’s ’n bekende lid van die Liberale Party wat hom teen die apartheidsregering verset en later na Brittanje gevlug het.

Daar het hy 30 jaar die bevrydingstryd in Suid-Afrika en Namibië ondersteun. Sy bydrae is in 2010 erken toe hy die Orde van Luthuli in silwer van die presidensie ontvang het.

Vigne is in 1928 in Kimberley gebore as die agterkleinkind van Ierse Hugenote en het in Port Elizabeth grootgeword.

Hy was ’n stigter van die weerstandsbeweging African Resistance Movement en later ook die Namibia Support Committee in Brittanje, wat veldtogte vir Namibiese onafhanklikheid gehou het.

Die Namibiese stigterspresident en struggle-veteraan Sam Nujoma het in ’n brief sy medelye aan Vigne, sy “vriend en kameraad”, se familie en vriende betuig.

“Almal wat vir vryheid en onafhanklikheid, sowel as menswaardigheid, geveg het, het ’n broer in die stryd verloor,” lui die brief in die Namibiese koerant New Era.

“Hy was sy lewe lank ’n ware simbool van die bevrydingstryd.”

Hulde aan Vigne is ook Dinsdag in Namibië se nasionale vergadering gebring, waar hy ook vereer is vir sy solidariteit met diegene wat destyds in ballingskap was.

Hy is uit Suid-Afrika verban ingevolge die vorige regime se wetgewing om kommunisme te onderdruk, waarna sy huis ook afgebrand is.

In 1959 het hy die voormalige Suidwes-Afrika op versoek van Swapo besoek en in 1961 het hy oudpres. Nelson Mandela bygestaan om ’n nasionale staking in Kaapstad te reël.

Vigne het ook nou saamgewerk met die Pan Africanist Congress en sy voormalige leier, Robert Sobukwe, tot laasgenoemde se dood.

In Februarie vanjaar het hy ook ’n uitstalling, Remember Africa, oor Sobukwe se lewe by die V&A Waterfront geopen.

Sy laaste boek is die biografie Thomas Pringle: South African Pioneer, Poet and Abolitionist wat in 2012 voltooi is. Dit handel oor die Skotse digter Thomas Pringle wat in die 19de eeu teen slawerny in die Kaapkolonie geveg het.

Vigne laat sy vrou, Gillian, sy kinders, Piers en Lucy, en sy kleinkinders, Rufus, Ben, Katrine en Hector, agter.

Meer oor:  Sterfgevalle  |  Skrywer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.