Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Aktrise deel laaste dae van siek pa

Haar bejaarde pa se stryd van vyf jaar met demensie het die aktrise Erica Wessels vir die eerste keer begrip vir die behoefte aan genadedood gegee.

Erica Wessels saam met haar pa, Erich, in Desember verlede jaar. Hy het aan demensie gely en is Vrydagaand dood. Sy het hierdie foto’s op Instagram gedeel.

Erica (39), wat die afgelope tyd op die sosiale netwerk Instagram sensitiewe, swart-en-wit foto’s van haar sterwende pa begin deel het, het Vrydagaand laat weet hy is dood.

Erich Wessels was 77 jaar oud. In sy fleur het hy sy eie prokureursfirma in Johannesburg bedryf.

Erica, wat onlangs te sien was as Elna Hugo in die reeks Waterfront op kykNET, het die afgelope week vertel hoe sy haar pa tandepasta op sy skeermes sien sit het. Dit was haar teken. “Dis ’n baie vreemde ervaring. Demensie is vyf jaar gelede by hom gediagnoseer nadat hy klein goedjies begin vergeet het. Hy sou berekeningsfoute maak en verdwaal as hy bestuur. Dit was ’n groot skok, maar ons was oukei.

“Toe stap ek eendag in die badkamer in en sien hy het tandepasta op sy skeermes. Toe besef ek – oukei, dis besig om te gebeur. En dit was asof die siekte die laaste drie jaar net skielik momentum gekry het.”

Nog ’n roerende foto van Erica se pa.

Erich is versorg in ’n tehuis vir sieklike bejaardes in die Strand.

Erica woon in Kaapstad en het so drie keer per week by hom gaan kuier. Sy het gewoonlik ’n Milkybar saamgeneem en hom gevoer. Hy het dié sjokolade altyd as ’n bederf vir hulle gekoop toe hulle kinders was.

“Hy was bedlêend en kon amper niks meer eet nie. Hy praat al maande sy eie babbeltaal, en die laaste paar weke het hy sy stem verloor. Hy het soms ’n bietjie gefluister.”

Omdat daar nie medisyne is wat demensie kan stuit nie, het Erica magteloos gevoel.

“Dis ’n wrede en aaklige siekte. Dis soos ’n parasiet wat sy gasheer se redeneringsvermoë, geheue, taal, realiteit, logika, en op die ou einde basiese liggaamsfunksies steel.

“Die enigste ‘behandeling’ is liefde en geduld en om herhaaldelik die pasiënt waardig te laat voel. Te luister, al brabbel hy onsamehangend, en om te wag as hy ’n uur neem om ’n bordjie kos te eet.

“Hoe meer gevorderd dit raak, hoe minder logies raak alles. Aggressiwiteit is ongelukkig deel daarvan, maar jy mag nie die persoon oordeel nie. Ek het die hele tyd probeer om my pa met deernis te hanteer,” sê Erica.

Dié foto is drie maande gelede geneem toe Erica haar pa in sy rolstoel strand toe gestoot het.

Sy het in September 2016 aan ­Willem Boshoff (41) verloof geraak, en hulle is op 10 Desember in dieselfde jaar getroud. “Dit was vinnig, maar ek wou hê my pa moes met my by die aisle afstap. En hy het. Stadig, en dit was kosbaar.”

Vrydagmiddag, nadat haar pa se toestand die afgelope tyd aansienlik versleg het, het sy begin bid dat die einde sal kom. “Vir die eerste keer het ek begrip vir iets soos genadedood.”

Ses uur later het sy laat weet hy is dood.

Erica saam met haar pa op haar troudag in Desember 2016. Hy kon toe nog saam met sy dogter die paadjie kansel toe stap.

“Die enigste verligting was die eer om stadig en bewustelik vir hom te kon tot siens sê,” sê Erica.

“Vir my was dit ’n voorreg om ’n getuie te kon wees van my pa se laaste paar asems op hierdie planeet. Om saam met hom nie bang te wees vir die dood nie. Dis eintlik die mooiste ervaring wat ek al gehad het. Maar dit drup van lyding en ongewenste, ongemaklike oomblikke.

“Nou het alles uiteindelik tot ’n einde gekom en ek wil net verdrink in die hartseer.”

suzanne.venter@rapport.co.za

Meer oor:  Genadedood
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.