Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Al hoe meer huiswerkers maak skuld om te oorleef

Huiswerkers moet skuld aangaan net om maandeliks te oorleef.

Dit blyk uit die vierde jaarlikse verslag van SweepSouth, ’n verskaffer van huiswerkers, oor toestande in dié bedryf. Die verslag, wat Maandag uitgereik word, skets ’n somber prentjie te midde van die Covid-19-pandemie en die geldprobleme wat dit tot gevolg het.

Dr. Aisha Pandor, die medestigter en uitvoerende hoof van SweepSouth, in haar kantoor in Zonnebloem. Agter is prentjies en foto’s van haar kinders. Foto: Adrian de Kock

Huiswerkers verdien gemiddeld R2 536 per maand, terwyl hul maandelikse lewenskoste gemiddeld R2 890 beloop. Dit beteken hulle moet skuld aangaan óf hul uitgawes op lewensnoodsaaklike items verminder om maandeliks met hul geld uit te kom.

In die eerste kwartaal van 2020 was net meer as ’n miljoen huiswerkers in diens in die land, berig Riana de Lange. ’n Jaar later het dié getal tot 848 000 afgeneem, aldus Statistieke Suid-Afrika (SSA) se jongste arbeidsmagpeiling. Dit beteken sowat 156 000 (16%) het hul werk binne ’n jaar verloor. Sedert die vierde kwartaal van 2020 was daar ’n afname van 49 000.

Huiswerkers kry sedert 1 Maart vanjaar 88% van die nasionale minimum loon. Dit was tot dusver 75%, berig Liesl Peyper.
Hul minimum loon het dus van R15,57 tot R19,09 per uur gestyg.

Die jongste SweepSouth-navorsing is die eerste waarin drie lande – Suid-Afrika, Kenia en Nigerië – se data versamel is. Meer as 7 000 huiswerkers het aan die peiling deelgeneem. Hoewel hul lewenskoste volgens die peiling afgeneem het, is dit waarskynlik omdat hulle veranderlike koste soos kos opoffer om hul inkomste verder te rek. Dit dui daarop dat hul lewensgehalte afgeneem het, lui die verslag.

Maandae tot Saterdae werk ek by ses huise en Sondae gaan ek kerk toe.

Data daaruit toon:

* Slegs 8% van huiswerkers het persoonlike spaargeld of pensioen.

* Net 2% het ’n mediese fonds.

* Sowat 17% is deel van ’n stokvel.

* Sowat 42% van hul inkomste word bestee aan huur, 38% aan kos en 19% aan vervoer.

* Sowat 67% het skuld; en

* Minstens 56% skuld geld aan ’n winkel.

Namato Chada (35), wat by ses huise aan die Oos-Rand werk, het aan Rapport gesê: “Ek is bekommerd dat ek Covid-19 kan kry en dit aan my gesin oordra.”

In die bedryf is dit volgens haar ’n geval van geen werk, geen betaling.

“Ek leef van die hand tot die mond.”

Soms moet Chada, wat in Germiston woon, drie taxi’s neem om by haar werkplekke te kom. Sy werk soms sewe dae in ’n ry. Met haar salaris betaal sy haar huur en skoolgeld vir haar twee kinders – ’n kleuter en ’n tienjarige.

Angella Selemani (42) van Muizenberg in Kaapstad verdien tussen R4 000 en R5 000 per maand. Sy behoort aan ’n pensioenfonds, maar nie ’n mediese fonds nie.

“Tussen Maandae en Saterdae werk ek by ses verskillende huise in Muizenburg, Plumstead en Silvermine (Village) en Sondae gaan ek kerk toe.”

Selemani se man is werkloos. Sy het ’n 22-jarige kind op universiteit en ’n 16-jarige op skool.

Dr. Aisha Pandor, medestigter en uitvoerende hoof van SweepSouth, sê ’n aantal faktore dra by tot huiswerkers se situasie. “Hulle word uit ’n gesinsbegroting betaal en nie uit ’n maatskappybegroting nie. As iemand hul werk verloor en hulle nie meer al hul uitgawes kan dek nie, is huiswerkers een van die eerste aspekte wat geraak word.”

Pandor sê die swak vergoeding van huiswerkers is nie net ’n Suid-Afrikaanse kwessie nie, maar ’n internasionale een. “Dit word vererger in ’n land met ’n hoë werkloosheidskoers. Daar is ’n ‘vat dit of los dit’-kwessie.”

Volgens Pandor is daar danksy bestaande wette ’n bewustheid van die minimum loon, maar dit moet nagekom word, soos dat daar ’n dienskontrak moet wees en die werkgewer werkloosheidsversekeringspremies betaal.

Sy sê voor die inperking was huiswerkers se werkomstandighede aan die verbeter, maar die pandemie het dit weer begin ongedaan maak.

Die peiling toon wel ’n duidelike verband tussen beter indiensnemingsbeskerming vir huiswerkers en hul werkomstandighede.

Meer oor:  Huiswerkers  |  Armoede  |  Sweepsouth  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.